6 Februarie 2018, 20:00 – 21:00
7 Februarie 2018, 20:00 – 21:00

R140 – R160

Los Asseblief ’n Boodskap, ’n een-vrou stuk met Simoné Nortmann (Vir die voëls, Hotel) in die hoofrol, het hierdie jaar tot groot sukses gedebuteer by Aardklop Nasionale Kunstefees.

Nortmann is Nina van Zyl, ’n platsak popster. Dit gaan nie baie goed met Nina nie. Haar loopbaan het altwee voete in die graf, sy’t al vir ses jaar writer’s block, en nou het haar ex die vermetelheid om kanker te kry. Classic Dirk. Sy vat die langpad van Johannesburg na Kaapstad, dorp tot dorp. Miskien kan sy Dirk een laaste keer sien. En miskien kry sy ’n paar gigs.

In elke dorp van haar toer beland Nina in situasies wat haar vooropgestelde idees oor haarself oopkraak. Die karakters wat sy ontmoet, nuut en oud, help haar om te laat gaan van haar verlede van vernedering en selfsugtigheid. In elke toneel word iets van haar afgesloof – haar narsisisme, haar vrees, en haar spyt. Aan die einde maak sy dit deur die vagevuur van plattelandse Suid-Afrika as ’n beter persoon. Soort van.

Louis Roux, skrywer van vanjaar se Piekniek by Mpande née Dingaan, het die teks geskryf en opkomende regisseuse/aktrise/skrywer Maude Sandham behartig die regie. Hulle bring ’n opwindende span jong skeppers saam om hierdie produksie ’n werklikheid maak: Ilana Cilliers (Johnny is nie dood nie) is die stem van Angie, Nina se agent en enigste vriend. Marius van Wyk, ook bekend as Stanley June, maak die vervalle popster se musiek. Stefan Benadé, enkelsoortige ontwerper, gee lewe aan die surrealistiese kitsch Suid-Afrika van die stuk met eenvoud en waagmoed.

Los Asseblief ’n Boodskap bied lekkerlag komedie en traanpik patos, ’n eiesoortige stuk geskik vir almal van tieners tot tagtigjariges.

6 Februarie 2018, 20:00 – 21:00 Atterburyteater
7 Februarie 2018, 20:00 – 21:00 Atterburyteater