Dis duidelik dat jy uit jou nate bars van opgewondenheid. Jy maak hierdie jaar klaar met matriek dan gaan jy die studente-wêreld in. Dis ‘n begin vir ‘n nuwe hoofstuk in jou lewe.

Ja, jy is baie opgewonde. En bang. Die gedagte van verandering is vrek scary en ek weet jy wil soms in ‘n hoek wegkruip omdat dinge so vinnig verander. After all, hoe moet jy weet of jy reg is hiervoor? Of jy goed genoeg is? Buitendien, hoe gaan jy vir alles betaal? “Geld groei nie op my rug nie”, en “Beurse val nie net uit die lug uit nie”, weergalm in jou kop. Miskien moet jy eers vir ‘n paar jaar gaan werk sodat jy ‘n lening kan kry… Miskien sal iemand een van my beursaansoeke raaksien.

Binnekort gaan jy ‘n onderhoud hê wat jou lewe gaan verander. Glo my Alicia, dis iets wat jy nooit verwag het sal gebeur nie. Jy onthou vaagweg die beurs aansoekvorm wat juffrou Kritsinger vir jou gegee het en op ‘n dag bevind jy jouself in Atterbury se kantore. Ja ou meisie, jy stres iets verskrikliks, selfs al het jy die hele geskiedenis van Atterbury op die internet opgesoek, jou Afrikaans mooi “gepolish” en al die regte antwoorde voorberei. Op die stadium voel jy dankbaar vir Louise wat jou probeer op jou gemak stel. Jy kon maar daai koffie wat sy aangebied het aanvaar het hoor! Uiteindelik stap jy in die onderhoud kamer in en vier glimlaggende gesigte groet jou. Jy gaan dink dis weird. Van wanneer af is belangrike besigheidsmense dan so vriendelik?

Die onderhoud is nie wat jy verwag het nie. Hierdie mense vra jou dan meer oor jou persoonlike lewe as oor jou akademie. Iewers diep binne in jou wonder jy waarvoor kyk hierdie mense dan? Hoe weet jy of jy die vrae reg antwoord? Daardie aand gaan jy jou ma’le se ore van hulle koppe afpraat. “Atterbury het ‘n pragtige gebou”, “Die mense is so vriendelik”, “Wens ek kon daar werk”. Die volgende dag sal skool weer aangaan en skoolwerk neem jou gedagtes oor. Net ‘n week later, terwyl jy chemie leer, gaan Zahn Hulme jou bel. Sy gaan sê dat jy die beurs gekry het en jou vertraagde antwoord gaan wees: “Regtig?! Oe verskriklik baie baie dankie. Dankie, dankie dankie!” (Regtig? Is dit die beste waaraan jy kan dink? Haha).

Jy weet dit nog nie, maar jy is nou deel van ‘n familie. Hulle gaan jou nie net finansieel ondersteun nie. Jy gaan uitgenooi word na awesome beursfunksies, geleenthede om jou skills te verbeter en Leonie gaan aan jou voorgestel word. Jy gaan leer om te GRO! Maak seker jy leer soveel as wat jy kan by hierdie mense, hulle stel ‘n voorbeeld van dit wat jy eendag wil bereik.

Dis nou 6 jaar later. Jy is besig om jou Baccalaureus Technologiae jaar klaar te maak by TUT. Jy is amptelik ‘n gekwalifiseerde Chemiese Ingenieur. Well done!! Baie dinge gaan met jou gebeur in hierdie 6 jaar. Hartseer dinge, fun dinge en opwindende dinge. Onthou, jou studente lewe gaan in ‘n oogwink verby wees. Geniet elke oomblik en gryp jou kanse aan. Jy weet nou dat jy nog baie gaan bereik.

Dankie aan Atterbury wat dit moontlik gemaak het.

Groete, 24-jarige Alicia