Afrikaanse kultuur en opvoeding is Atterbury Trust se groot passie, en daar is niks waarby die Trust so graag betrokke raak as iets wat albei elemente saamvoeg nie. Die ATKV se nuwe Lucas Maree-liedjieskryfskool vir hoërskoolleerders tiek al die boksies, en daarom is die Trust saam met die ATKV aan boord as een van die borge, vertel Zahn Hulme.

Wat behels die liedjieskryfskool, en op wie is dit gemik?
Coenie de Villiers het met ons kontak gemaak na Versnit 2017. Hy wou graag terugploeg in die musiekbedryf wat so goed vir hom was oor al die jare, en die skat van Afrikaanse liedjies uitbou deur jongmense te inspireer om oorspronklike kwaliteit liedjies te skryf en te toonset. Die idee van ‘n werkswinkel het toe ontstaan. Hierdie werkswinkel gaan vanaf 25-27 Mei by Affies plaasvind, en dit is spesiaal vir Graad 11 en 12 leerders bedoel. Talle bekende musikante en kundiges in die musiekbedryf sal klasse en praatjies aanbied, en daar sal ook individuele sessies met die leerders wees.

Kan jy deel wie die sangers is wat deelneem?
Daar is groot name… van Hunter Kennedy van Die Heuwels Fantasties, Elvis Blue en Coenie de Villiers tot Karin Hougaard, Anna Davel en Jannie du Toit,– en meer.

Hoe lyk die program?
Daar sal praatjies wees oor onderwerpe soos die kuns van musiekverwerking, Afrikaanse musiekgeskiedenis, en die belewenis van Afrikaanse kunstenaars in die buiteland. Verder sal die werkswinkel sessies insluit oor al die praktiese eienskappe van ’n professionele musiekloopbaan; onderwerpe soos kopiereg en musiekregte; intellektuele eiendom; selfs hoe om sosiale media en “crowd funding” te gebruik, en wat om te verwag as jy in ‘n klankateljee instap om ‘n liedjie op te neem. Die idee is om hulle oor alle elemente van liedjieskryf in te lig en hulle voor te berei om hul plek vol te staan in die Afrikaanse liedjiewêreld.

Hoeveel plekke is beskikbaar, wat kos dit, en hoe skryf mens in?
Vir hierdie eerste keer word die getalle beperk tot net 30, sodat die deelnemers almal individuele aandag kan kry. Dit kos R250 om deel te neem. Inskrywingsvorms is beskikbaar by die ATKV, sien details onderaan. Jou musiekonderwyser moet die vorm ook teken, en jy moet die voltooide vorm terugstuur saam saam met ’n kort motivering hoekom jy gekeur moet word, asook’n MP3 van ’n liedjie wat jy self geskryf het, met oorspronklike lirieke.

Gaan die deelnemers kans kry om hul nuwe kennis te vertoon?
Ja, beslis! Op 9 September gaan van die uitblinkers saam met Elvis Blue , Lize Beekman en Jannie du Toit by ’n gala-aand by die Atterbury Teater optree.

Die sluitingsdatum vir inskrywings is 2 Mei. Die werkswinkel word 25 tot 27 Mei by die Musiekakademie van die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria aangebied. Daar is ook verblyfopsies met koshuisverblyf. Kontak Hannelie van Schalkwyk vir meer inligting en inskrywingsvorms: [email protected], of  011 9199012.

Laai vorms af
Inskrywingsvorm PDF
Uitnoding PDF
Program PDF