Ontmoet vir 23-jarige Tshifaro Phundulu, een van ons uitblinker Atterbury beursstudente, wat tans besig is met haar honneursgraad aan die Universiteit van Johannesburg

Hoe het jy van die Atterbury beurs te hore gekom, en hoekom het jy op rekeningkunde besluit?
Ek het daarvan gehoor by een van die ouderlinge in my kerk wat toevallig ook ‘n nie-uitvoerende direkteur is by Atterbury. Ek was in ‘n handelskool so ek was net aan handelsvakke blootgestel, en ek was lief vir rekeningkunde – dit was altyd die vak waarin ek die beste gedoen het.

Vertel ons ‘n bietjie van jou agtergrond.
Ek het in Limpopo grootgeword in ‘n klein dorpie met die naam Itsani. Ek het skoolgegaan by Lurenzhini Lower Primary School, toe Tshidumbi Senior Primary School en matriek gemaak by Khwevha Commercial High School. My ouma het my grootgemaak, selfs toe my ma nog geleef het en voor my boetie gebore is. Nou is daar die drie van ons, my ouma, my boetie Sekwati wat 11 is, en ek. Ek is besig met my B Com Honneurs: Rekeningkunde, en spesialiseer in geoktrooieerde rekenmeesterskap – ook bekend as CTA – by UJ.

Wat was vir jou die grootste aanpassing met die skuif van hoërskool na universiteit?
Die alleen woon, om te moet besluit watter kos om vir die maand te koop, en om weg te wees van my ouma…

Gepraat van kos, wat is jou gunsteling trooskos?

Enigiets sterk met ‘n bietjie rissies… maar dit moet vegan wees.

Wat is jou gunsteling kinderherinnering?
‘n Besoek aan die Kruger Nasionale Park toe ek in die kleuterskool was. En ook toe ons in Graad 8 Robbeneiland gesien het op ‘n hoërskooltoer.

Noem drie beroemde mense by wie jy graag vir ‘n week ‘n huisgas sou wou wees.Will Keith Kellogg – hy was een van die pioniers van die Sewende-dag Adventistebeweging en was ook ‘n vegetariër.

Martin Luther – ek bewonder dié man wat opgestaan het teen die magtige Rooms-Katolieke Kerk en die Bybel se heiligheid verdedig het.

Alexander die Grote – Ek lees op die oomblik heelwat geskiedenis en hy staan vir my kop en skouers uit bo die konings wat voor en na hom regeer het.

Watter tegnologiese uitvinding wens jy wil in jou leeftyd gebeur?
Iets wat dit sal moontlik maak om kos van die internet af te laai! Dink net!

Watter historiese gebeurtenis het die grootste impak op jou lewe gehad?
Die Groot Teleurstelling, op 22 Oktober 1844, wat gelei het tot die stigting van die Sewende Dag Adventistebeweging. As gedoopte lid koester ek vandag dié beweging se rol in my lewe.

Atterbury se beurs gee jou die geleentheid om verder te studeer. As jy enigiemand anders se droom kon laat waar word, wie sou dit wees en wat sou jy doen?
Ek het ‘n paar goeie vriende wat nie hulle studies kon voortsit nie omdat daar nie genoeg geld is nie. Ek sou hulle so graag wou help om ook te kan klaar studeer.

Wat is jou toekomsplanne nadat jy jou honneurs klaargemaak het?
Ek het nou onlangs by Ernst & Young geteken – een van die Groot Vier! – so ek begin volgende jaar my eerste van drie jaar van ‘n opleidingskontrak daar.