Van ‘n handjievol kleuters en twee besorgde tannies in ‘n toegeboude motorhuis, tot ‘n volwaardige skool met 170 kinders, sewe klasse en 32 personeellede… Beyers Bytjies bewys wat kan gedoen word as individue en organisasies soos Atterbury betrokke raak by behoeftige gemeenskappe.

“Van ons eerste maatjies is nou al op universiteit, en dit maak my baie trots om te sien hoe ver ons gekom het,” sê die skoolhoof, Frances Delport, wat destyds in 2002 saam met Betsie Dreyer, ‘n legendariese maatskaplike werker van die omgewing, by Danville se kerk ‘n heenkome vir die kleuters van die omgewing geskep het. Destyds is die skooltjie Fraaie Pêrels genoem, en was die hoofdoel om vir die sowat 40 kleuters een maaltyd ‘n dag te voorsien en hulle opvoedkundig te stimuleer en emosioneel te ondersteun. “Dis ‘n hartseer feit dat die meeste mense in Danville onder die broodlyn leef, en voortslepende werkloosheid en haglike sosio-ekonomiese omstandighede beteken daar is baie min hoop op verbetering,” vertel Frances.

Die skooltjie het oor die afgelope 12 jaar daardie plek van hoop geword vir die kinders wat daagliks vir ‘n paar uur kan ontsnap uit huislike omstandighede waar die basiese behoeftes van skuiling, kos en liefde nie altyd beskikbaar is nie.

Na die motorhuis by die Danville Kerk het die skool in 2004 ingetrek by die Laerskool Generaal Beyers, waar hulle vir twee jaar twee klaskamers geleen het, en waar die naam verander is na Beyers Bytjies. “Ons volg die akademiese grondslagfase van die laerskool, en die meerderheid van ons maatjies begin ‘groot skool’ daar,” sê Frances. In 2006 het die Bytjies hulle eie gebou gekry, en dit is daar waar hulle sedertdien is.

Die skool beperk die getal kinders wat ingeneem word sodat hulle die nodige aandag aan elke maatjie kan gee, verduidelik Frances. Die Bytjies is almal vyf en ses jaar oud en daar is vier Graad R en drie Graad RR klasse, insluitende een arbeidsterapieklas vir die kleintjies wat erg leergestrem is, en individuele aandag nodig het om hulle skoolgereed te maak. Daar is sewe onderwyseresse, sewe onderwysassistente, asook ‘n spel- en ‘n arbeidsterapeut wat omsien na die kinders se opvoedkundige behoeftes.

Atterbury Trust is al jare betrokke by die skool, en dis veral Leonie du Preez wat haar oog namens die trust op die Bytjies hou. Leonie is gereeld by die skool om lessies in lewensvaardighede aan te bied. “Ek dek ‘n wye reeks onderwerpe, van persoonlike higiëne tot hand-oog koordinasie, taalvaardighede, emosionele groei en selfbeeld,” verduidelik sy. Die kinders is vir Leonie baie na aan die hart. “Hulle kom uit huise waar hulle nie altyd positiewe leiding en onderskraging kry nie, en dis so bevredigend om te sien hoe ‘n bietjie aandag ‘n kind kan laat blom. Daar was byvoorbeeld een meisietjie wat nooit deelgeneem het nie, tjoepstil; en ek het net aangehou om vir haar te sê hoe mooi en hoe slim sy is. Nou is sy voor in die koor, sy het selfvertroue, sy neem deel. Vir my gaan dit daaroor om ‘n veilige omgewing te skep waarin hulle net kan groei, waar daar geen verkeerde antwoorde is nie.”

‘n Maandelikse finansiele bydrae van Atterbury dek van die skool se bedryfkostes, van salarisse vir personeel tot aankope van benodigdhede. Met die onlangse opening van Atterbury se Triomfkliniek, is die skool ook een van die instansies wat mense met mediese probleme na die kliniek kan verwys. “Triomfkliniek is ‘n broodnodige antwoord op ‘n baie groot behoefte in die area,” sê Frances. “Ons kry baie navrae van ouers, en die terugvoering sover is alles so positief.”

Die skool is meer as net ‘n heenkome vir die kinders; dit bring lig in die lewens van mense wat swaarkry, met die verskeie aktiwiteite wat die skool deur die jaar met die hulp van borge en weldoeners aanbied.

Een so ‘n spesiale dag waarna almal reeds uitsien, is die Danville damestee wat op 27 September by die skool gehou gaan word. Atterbury se Leonie is die gasspreker en het ook ‘n gaskunstenaar vir vermaak gereël, die sanger Louis John. Die tema vir die dag is “Maskers” en die kleuters gaan deelneem aan ‘n modeparade en ‘n Mejuffrou Bytjie-kompetisie.Die skoolgemeenskap span saam om kaartjies te verkoop, vertel Frances. “Ons moedig die mammas aan om betrokke te wees en elkeen die gasvrou van ‘n tafel te wees, en ons help haar dan met wat sy ookal nodig het om haar tafel te versier. Dit beteken so baie om by iets mooi en pret betrokke te wees, almal is baie entoesiasties.”

Die skool is afhanklik van weldoeners en borge, en skenkings is baie welkom. Om uit te vind hoe om ‘n borg te word of op ander maniere by te dra, skakel Betsie Dreyer op 072 3471687, of besoek die webwerf vir meer inligting: www.beyersbytjies.co.za