Cool Capital 2016 is pas verby en weer eens was Pretoria se eie guerrilla DIY biënnale ’n groot sukses. Ons gesels met projekkoördineerder Jana Kruger oor die hoogtepunte en die lesse wat geleer is.

Hoe het 2016 se biënnale vergelyk met die eerste een in 2014?
Cool Capital 2014 het ons baie waardevolle lesse geleer, eerstens dat mens nie alles kan doen nie! Dus het Cool Capital vanjaar besluit om te fokus op kwaliteit, eerder as kwantiteit. Die biënnale was ook korter: vyf weke in vergelyking met 10 in 2014. Nietemin was ons verstom oor wat in dié kort tydperk aangepak is! Daar was groot verskeidenheid  en daar is veral gefokus op projekte wat kreatiwiteit al hoe meer by die man op die straat uitbring.

Was daar baie nuwe deelnemers, en het die mense/instansies wat in 2014 deelgeneem het, weer saamgespeel?
Verskeie van 2014 se deelnemers het weer ingespring, soos Atterbury Trust met die skolekunsprojek en PPC met die openbare bankies. Ons is bly oor al die nuwe deelnemers wat aan boord gekom het, veral onder die skole. Hierdie jaar het verskeie skole deelgeneem wat geensins kuns aanbied nie en die projekte was ’n wonderlike manier om kuns in hulle leeromgewings bekend te stel. Projekte soos ‘Saadjies’, die Cool Capital miniatuur beeldhouprojek, het goed gewerk om meer deelnemers te betrek aangesien dit geleentheid bied vir byna 90 kunstenaars.

Wat het 2014 julle geleer wat julle in 2016 kon toepas?
Goeie verhoudings met medewerkers, belangstellendes en Cool Capital-deelnemers is die kern van enige suksesvolle projek. Wonderlike vriende is in 2014 gemaak en hulle was weer staatmakers hierdie jaar. Ons het geleer om onnodige vergaderings te vermy – dit mors tyd wat aan die projekte bestee kan word. Ons het ook geleer dat projekte wat waarde toevoeg nie een persoon se beuel blaas nie, maar eerder ’n groot klomp mense betrek om saam ’n oomblik van kreatiewe vreugde te beleef. En ook dat projekte wat buite, in die openbare ruimte, ’n nalatenskap laat, verkieslik is, omdat dit bydra tot die stad en sy inwoners.

En het jul dié slag iets wysgeword wat beslis volgende keer aangewend gaan word?
Uhm, ek moet sê dit voel nog nie asof ons terugkyk nie; ons is nog besig met die finale fases! Maar ons weet nou dat nie alle projekte van die grond af kom nie en mense wat voorheen gehelp het, stel nie noodwendig weer belang nie. Daar is gelukkig altyd ’n ander deur wat oopgaan.

Behalwe vir die skolekunskompetisie, vertel ons van ’n paar ander kunsgrepe wat die tema “Klein is Groot” besonder goed uitgevoer het.
Beslis die mees suksesvolle grootskaalse projek was Saadjies: ’n versameling klein beeldhouwerke wat oral oor die wêreld toer in reisigers se sakke. Met die beeldhouwerke “sculpture bomb” mense die stedelike omgewings en verfilm dit dan. Dit word ook in ons eie stad gedoen. Deur die projek en ’n Instagram-veldtog met die hutsmerk #saadjies word kuns uit die tradisionele kunsgalery beweeg na die straat op mense se selfone. Die projek skep ook ’n bewustheid van stedelike omgewings. ’n Reeks uitstallings regoor die land bring Pretoriase kunstenaars onder die aandag van Suid-Afrika.
Dan het die beeldhoudepartement by TUT se kunstekampus ’n gratis relief-modelleringsklas aangebied in samewerking met die kunswinkel Archneer. Lede van die publiek het onder die bome buite Archneer geleer hoe om met klei klein kunswerkies (15cm x15cm) te maak. Die projek is slegs ’n inleiding tot beeldhouwerk en was vir baie mense ’n eerste ontmoeting met kuns, maar dit het ’n groter bewustheid geskep en ’n waardering by mense gekweek wat andersins min weet van kuns.
En nog een om uit te sonder was die projek deur ’n ma en dogter wat in Herbert Bakerstraat woon. Hulle het sade van die straat se beroemde wit jakarandas bymekaar gemaak en geplant in koerantpapier-sakkies wat hulle gevou het. Ou koffiestokkies van ’n naby-geleë koffiewinkel is in die pakkies gesteek met die boodskap “Neem een”. Hulle het een Sondagoggend meer as 100 sakkies buite in die straat onder die wit jakarandas geplaas. Stappers, toeriste en verbygaande motoriste het hulself gehelp en al die sakkies is binne 24 uur opgelaai. Ons wonder waar daar eendag ’n wit jakaranda gaan opkom…

Wat was die mees komplekse werk op die biennale?
Die PPC bankie-projek is beslis die mees komplekse, nie omdat enige van die bankies op hul eie so ingewikkeld is nie, maar omdat die projek as ’n geheel baie mense bymekaar moet bring en tegnies kompleks is. Elke bankie is uniek en ’n apart gietvorm moet daarvoor gemaak word. Die projek betrek ook studente en leer hulle nuwe vaardighede aan. Ongelukkig het die situasie by die universiteite ietwat met die program ingemeng, maar ons is nou goed op dreef om die bankies te voltooi en in die stad te installeer.
Kan jy sê hoeveel nuwe permanente openbare kunswerke Pretoria vanjaar bygekry het danksy CC2016?
Ons kyk na oor die 20 installasies wat ’n permanente nalatenskap is in die Jakarandastad.

Wat is die lekkerste terugvoering wat julle gekry het?
Vir my persoonlik miskien die woorde van ’n Graad 9-leerling by Prosperitas Secondary School in Eersterust: Hy het gesê die projek wat sy skool onder leiding van Izanne Wiid, André Naudé en Liebet Jooste aangepak het, gee hom die geleentheid om te sê “Kyk, ek kan ook ’n verskil maak in my omgewing. My stem geld ook.” Dit was wonderlik om te hoor hoeveel dit vir die leerlinge beteken om met inspirerende mense te werk wat hulle hoop gee vir die toekoms. As Cool Capital daardie gevoel by een kind kan tuis bring, dink ek ons begin mense inspireer. Die doel is immers nie net om mooi fisiese objekte te skep nie, maar om die potensiaal te ontgin wat reeds in ons elkeen is.

En waarop is julle as organiseerders die trotsste, as julle kyk na vanjaar se biennale?
Dat dit gebeur het! Op Pretoria se kreatiewe gemeenskap wat soos altyd gewys het hulle vir niks terugstaan nie.

Wat kom volgende vir Cool Capital?
Ons werk tans hard om al die projekte te dokumenteer en beplan om vroeg volgende jaar ’n spesiale tydskrif uit te bring. Later sal die video-opnames wat gemaak is, ook vrygestel word in die vorm van ’n kort dokumentêre film. Die Saadjies projek gaan nog voort met uitstallings beplan tot en met Maart 2017. En 2018….wie weet? Cool Capital sal verseker meer deelnemers betrek en al hoe meer ’n indruk op Pretoria laat.