Laerskool Westerlig is ’n laerskool in die hartjie van Danville in Pretoria-Wes. Die skool het ongeveer 700 leerders.

Westerlig word beskou as ’n baie gegoede (ryk) skool en ontvang daarom slegs beperkte finansiële hulp van Gauteng se Onderwysdepartement. Die sukkelende finansiële omgewing waarin die skool werklik geleë is, word nie in ag geneem nie. Die skool is dus grootliks afhanklik van mense en instansies se goedhartigheid om gehalte onderwys aan ’n baie arm deel van Pretoria te voorsien.

Die talle finansiële uitdagings wat Westerlig deurlopend ervaar, bemoeilik die lewering van gehalte onderwys in ’n omgewing wat reeds gekenmerk word deur baie sosio-ekonomiese en sosio-maatskaplike uitdagings.  Daar is net te veel leerders wat weens emosionele en finansiële swaarkry, asook gebrekkige ondersteuning en stimulasie tuis, ongemotiveerd is. Hulle  sukkel om op aanvaarbare vlakke te presteer.

Aggressie onder leerders, asook verhoudings- en gedragsprobleme is van die mees algemene kwellinge wat voorkom. Dit is baie keer die resultaat van onverwerkte trauma in die gesin en in die gemeenskap. Tog gee die Westerligpersoneel nie moed op nie. Dit is hul roeping om ’n omgewing te skep waarin elke kind gelukkig kan wees,  bemagtig kan word om te glo in hom- of haarself en daarvolgens te leef.

Hoewel beperkte fondse die taak bemoeilik en drome aan bande lê, getuig dit steeds van God se onverdiende genade en voorsiening, sigbaar gemaak deur die hande en harte van soveel spesiale mense.

Westerlig gee hoop. Met vasbyt, deurdruk en inspirasie deur die woorde van Robin Sharma kan groot hoogtes bereik word:

“Dreams get done when you are awake!”

Daar is verskeie behoeftes en geleenthede om Westerlig te ondersteun

  • “Hier is my droom” projek: Betaling van ’n kind of kinders se jaarlikse skoolgeld ten einde die bedryfstekorte wat ontstaan te verminder en leerders geleenthede en blootstelling aan verskeie aktiwiteite te gee (R450 per kind per maand)
  • Finansiële ondersteuning vir verskeie soorte terapie wat leerders nodig mag hê, bv. arbeids-, spraak- en spelterapie
  • Fondse om skoolklere aan leerders te verskaf, wie se ouers dit nie kan bekostig nie
  • Skenking van nuwe leesboeke vir die mediasentrum
  • Kos vir behoeftige leerders. Sowat 50 leerders ontvang elke oggend ontbyt en 150 leerders ontvang daagliks tydens pouse ’n gekookte ete by ons noodvoedingsprojek.  Baie van hierdie leerders ontvang ook weekliks ’n pakkie met gesonde snoepery om huis toe te
neem.  Kospakkies word op ’n gereelde basis vir tuisgebruik aan gesinne uitgedeel.

Raak asseblief betrokke en gee opnuut hoop aan die personeel, seuns en dogters van Laerskool
Westerlig.

Bankbesonderhede

ABSA Bank
Quagga sentrum
Rek no: 0040 260 021
Takkode: 632005

Maak gerus jou bydrae!

2015-05-29_08.15.37