Die nuwe kykNET-Rapport Boekpryse is goeie nuus vir Afrikaanse skrywers en boekliefhebbers landwyd. Litnet het ‘n onderhoud gevoer met een van die kortlys-skrywers, Dana Snyman, wie se boek Onder die radar benoem is in die kategorie: Nie-fiksie. Ons deel graag ‘n uittreksel:

Wat beteken dit vir jou om vir die eerste kykNET-Rapport Boekprys genomineer te word?
Ek voel geseënd. Net om saam met sulke gesiene skrywers vir so ’n prys in aanmerking te kom, is klaar vir my ’n groot eer. Ek bedoel: Karel Schoeman – dit laat my voel soos ’n junior priester wat vlugtig in die teenwoordigheid van die pous kan wees. Dit alles gee my wankelrige selfbeeld tydelike troos.

Kry Afrikaanse skryfwerk die nodige erkenning?
Dit is ’n moeilike vraag om te beantwoord. Erkenning van wie? Daar is ’n goeie netwerk binne die Afrikaanse wêreld wat Afrikaanse boeke en skryfwerk al erkennende ondersteun. Ek praat van ’n geleentheid soos die Woordfees op Stellenbosch. Ek praat van kykNET en RSG en die Afrikaanse koerante en tydskrifte. Is dit genoeg? Dalk. Maar hoekom bestaan Boeke-Insig nie meer nie? Hoekom het By, wat tot onlangs nog van die beste eietydse Afrikaanse skryfwerk publiseer het, verskraal tot iets tussen ’n reisbylaag, ’n reseptebladjie en ’n traktaat vir herinneringe van lank gelede? Ek voel bevoorreg: daar is ’n groot groep lojale Afrikaanse lesers. Of dis wat ek ervaar. Een dierbare vrou het selfs al my selfoonnommer iewers in die hande gekry, my gebel en vir my oor die foon gebid, nadat sy ’n storie van my gelees het. Ek sê dit sonder enige ironiese bedoelings. Ek het ook baie waardering vir die erkenning wat boekklubs vir Afrikaanse boeke gee – dikwels ’n klein Gideonsbende van vroue wat iewers in ’n sitkamer byeenkom. Dis hulle wat Afrikaanse boeke koop en daaroor praat en dit as geskenke vir hul kinders in Australië stuur.

Lees die hele onderhoud op Litnet hier.

Lees ook Dana Snyman se sensitiewe vertelling oor sy besoek aan Beyers Bytjies hier.