Cornwall Hill College is baie trots daarop om deel te kan wees van die Cool Capital Hoërskool kunsinisiatief wat deur Atterbury Trust geborg is. Hulle is dankbaar vir die geleentheid om daarmee geassosieer te wees en by te dra om die publiek aan kuns en beeldhouwerk in die hoofstad en spesifiek ook die Cornwall gemeenskap bekend te stel.

Cornwall Hill College se kunsinstallasie konsentreer op die “kyk vorentoe, kyk terug” beginsel. Dit bestaan uit drie dele.

Die leerders het ’n trapklip in die vorm van ’n afgekapte  boom in sement gegiet, met geroeste metaal vasgeswys om die rommelhoop waaruit die College sy bestaan te danke het, te verteenwoordig. Ná 16 jaar kan hierdie geskiedenis “afgekap” word en ’n produk in die vorm van ’n leerder wys wat deur die stelsel gegaan het. Die trapklip het lewenslyne wat in die sement vasgevang is. Dit simboliseer bestaansjare.

Die groot beuel verteenwoordig ’n deel van die College se wapen en is voor die trapklip geplaas. ’n Beuel is ’n instrument wat gebruik word op die troepe te roep, of om die aanvang van ’n groot gebeurtenis aan te kondig. Dit is ’n perfekte metafoor om nie net die begin van die wonderlike Cool Capital inisiatief uit te basuin nie, maar ook om wat ons die wêreld in verkondig, te simboliseer. Die beuel het ’n ingeboude sirene wat net deur die direkteur van die College, mnr. Kunneke, geaktiveer kan word.

Plaaslike houtwerkers is ingespan om die beuel te skep as deel van die College se uitreikprogram. Dit is dus ook ’n simbool van die College se gemeenskapsdiens.

Voor die mond van die beuel staan ’n boom en al die waardes van die College hang in die vorm van woorde wat met ’n lasersnyer uit vlekvrye staal gesny is van die takke af. Dit verteenwoordig die produk van die skool wat die wêreld ingestuur word: ’n Persoon wat verantwoordelik en eerlik is, met respek vir ander, wat waardes soos uithouvermoë, selfbeheersing, deernis, vergifnis, grasie en aanvaarding uitleef.

Nelly Chokoe, Matome Legodi, Callan Mittermayer-Madureira, Venessa Nelson, Njabulo Nkonyane, Anya Swart, Nicholas van Zyl in samewerking met Francois Visser