As ’n organisasie met sy wortels diep binne die hart van Pretoria was dit vir die Atterbury Trust logies om betrokke te raak by die Cool Capital 2014 biennale, sê die uitvoerende bestuurder van die Trust, Zahn Hulme. “Die bevordering van kultuur is in ons lewensbloed, net soos die ondersteuning van skole en opvoeding, en die biennale gee ons die kans om op ’n paar gebiede betrokke te raak. Ons is opgewonde oor enige projek wat Pretoria in die kollig plaas!”

Sy sien veral uit na die biennale se kunsprojek vir hoërskole, vertel Zahn. Atterbury borg ook dié projek, waarin jong kunstenaars uit die kunsklasse van 20 skole regoor Pretoria saam met 20 gevestigde kunstenaars soos Angus Taylor, Sybrand Wiegers, Mapula Embroidery Project, Strydom van der Merwe, Marna Schoeman, Jan van der Merwe en Gordon Froud saamwerk om ‘n muurskildery, beeldhouwerk of ander installasie op hulle skoolgronde te skep.

“Ons het dit gesien as ‘n gulde geleentheid om die skole in Pretoria bewus te maak van Atterbury se tersiêre beursgeleenthede, terwyl die studente terselfteryd die kans kry om hul kreatiwiteit uit te lewe en die skole ook in die proses verfraai word,” verduidelik Zahn.

Die projek word bestuur deur die kunstenaar en ontwerper Debbie Cloete, ook die hoof van die kunsdepartement aan Pretoria Boys High. Volgens Debbie is die idee agter die projek om die leerders bekend te stel aan kunstenaars en kuns as ‘n beroep. “Ons het ‘n aantal baie bekende kunstenaars gekies, maar ook jongeres wat self nog groei en leer, omdat hulle die leerders op ‘n ander manier kan inspireer,” verduidelik sy. “Deur saam te werk met iemand wat nog besig is om hulself as kunstenaar te vestig, leer die kinders oor die beroep, en dit is waaroor dit vir my gaan.”

Die kunstenaars gaan aktief betrokke wees en saam met die leerders aan die kunsprojek werk; en daar sal ook as deel van die projek werkswinkels gereël word waarna al 20 skole uitgenooi sal word, waar kunstenaars lesings sal gee en vrae-en-antwoordsessies sal lei.

“Cool Capital en Atterbury gee ons die kans om die regte wêreld in die klas in te bring, sodat die kinders kan sien waaroor kuns as ’n beroep gaan,” sê Debbie. Elke skool se kunsstudente kan in samewerking met hul kunstenaar kies watter vorm hulle kunswerk aanneem, hetsy ‘n film, ‘n muurskildery, ’n beeldhouwerk of ‘n installasie. “By Boys High het ons byvoorbeeld ‘n baie groot muur waarop ons ‘n muurskildery gaan doen vir ons groot projek, wat deel van die graad 11 kunsklas se derde termyn-sillabus word. Ons skool is in 1901 gevestig, en ons tema is ‘Deep roots and High Hopes’. Ons gaan kyk na die geskiedenis van die skool soos dit saam met die stad gegroei het in die afgelope 113 jaar. Die 21 Graad 11s gaan elkeen ‘n ontwerp doen volgens die tema, wat ons toegewese kunstenaar, Yannis Generalis, in ‘n oorkoepelende ontwerp sal inkorporeer sodat daar iets van almal in die eindproduk is, en dan gaan almal saam die muur skilder.”

Is daar ’n prys vir die wenskool? Zahn verduidelik: “Die kunsprojek is nie ‘n kompetisie nie en daar is nie ’n prys of ’n wenner nie. Ons het die kompetisie geborg met ’n beperkte bedrag per skool vir die maak van die kunswerk, maar daar is besluit teen pryse of eerste en tweede plekke. Dit gaan nie vir ons daaroor om ’n wenner aan te wys nie, en as mens kyk na die die uiteenlopende aard van die projekte gaan dit feitlik onmoontlik te wees om tussen projekte te kies. Deelname en kreatiwiteit is belangriker as ’n subjektiewe beoordelingsproses. Dit is in die gees van Atterbury.” En volgens Debbie was die “beperkte bedrag” so ruim dat daar genoeg oor sal wees na die voltooiing van die groot muurskildery dat Boys High se hele kunsdepartement betrek sal word en ook ander kleiner kunswerke te skep saam met die kunstenaar Guy du Toit, wat dan ook tydens die biennale op die skoolgronde uitgestal sal word.

Die finale projekte gaan aan die publiek oopgestel word op ope dae tydens die biennale, met die opening op 18 Oktober by elke skool, en sal gedokumenteer word in die Cool Capital 2014 koffietafelboek wat ook deur Atterbury geborg word.

Skole en kunstenaars:

  1. Eduplex http://www.eduplex.co.za/ – Josua Strumpfer http://www.strumpfer.co.za/
  2. Pretoria High School for Girls http://www.phsg.org.za – Gordon Froud http://www.art.co.za/gordonfroud/
  3. Hoërskool Oos Moot www.oos-moot.co.za/ – Sanna Swart http://www.art.co.za/susannaswart/
  4. Hoërskool Menlopark http://www.menlopark.co.za/ – Anton Smit http://www.antonsmit.co.za/
  5. Midstream College – Ruhan Janse van Vuuren http://ruhanjansevanvuuren.co.za/the_artist.html
  6. St Mary’s DSG http://www.stmarys.pta.school.za/ – Lynette ten Krooden http://www.art.co.za/lynettetenkrooden/
  7. Hoërskool Waterkloof www.klofies.co.za/ – Angus Taylor http://www.angustaylor.co.za/
  8. Hoërskool Garsfontein http://www.garsies.co.za/ – Jan van der Merwe http://www.art.co.za/janvandermerwe/
  9. Hoërskool Hendrik Verwoerd http://woeries.com/index.php – Marna Schoeman & Mapula Embroidery Project http://www.africanthreads.ca/mapula-mother-of-rain-1/
  10. Pretoria Boys High School http://www.boyshigh.com/ – Yannis Generalis & Guy du Toit http://www.art.co.za/guydutoit/
  11. Crawford College Pretoria http://crawfordschools.co.za/?page_id=75 – Karin Miller karinmiller.co.za/
  12. Saint Albans College http://www.stalbanscollege.com/ – Diek Grobler www.art.co.za/diekgrobler/
  13. Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria HMP http://www.ahmp.co.za/ – Rina Stutzer www.rinastutzer.co.za/
  14. Afrikaanse Hoër Seunskool http://www.affies.co.za/ – Strijdom van der Merwe www.strijdom.co.za/
  15. Dr Edward Phatudi Secondary School – Sybrand Wiechers https://www.facebook.com/sybrand.wiechers
  16. Hoërskool Pretoria-Wes – Izanne Wiid izannewiid.com/
  17. Cornwall Hill College http://www.cornwall.co.za/ – Francois Visser francoisvisser.com/
  18. Hoërskool Tuine www.hstuine.co.za/ – Bevan Thornton
  19. Willowridge High School  http://www.willowridge.co.za/ – Carl Jeppe www.art.co.za/carljeppe/
  20. Eersterust Sekondêr  R1 r1r1r1.net/