28 Januarie 2023

Soos die somerson stadig teen die hange van die wonderskone Helderberg sak en die pragtige wingerde van Rust en Vrede blakend gesond spog in die agtermiddag, so daal die betekenis van omgee op ons groep Versnit-gaste neer. ’n Vars bries keer ons nie om weer bande van vriendskap op te tel nie, ’n glasie van Stellenbosch se beste te geniet nie en ook nie om ons uitmuntende plaaslike Suid-Afrikaanse musiektalent te ervaar en waardeer nie. Ja-nee, wraggies waar weer ’n heerlike Versnit-geleentheid is op 28 Januarie 2023 moontlik gemaak deur Louis van der Watt, Jean Engelbrecht, Rust en Vrede en Toyota Suid-Afrika Motors en hulle spogmotormerk Lexus. Maar die eintlike rede hoekom Versnit die instelling is wat dit oor die afgelope 11 jaar geword het, is omdat almal wat deel is van hierdie heuglike samekoms omgee, werklik omgee vir hulle medemens en besef dat hulle bydraes aan Atterbury Trust op verantwoordbare wyse aangewend word om dié van ons wat dit werklik nodig het van hulp te kan wees. Want as ons dit nie doen nie, wie gaan? Vanjaar se kunstenaars het hul alles gegee om betowerende musiek en vermaak op te dis. Ons Versnit-sterre is gelei deur die innemende Stef Bos, wat ook vanjaar se spesiale Versnit-toekenning ontvang het vir sy bydrae tot ons Afrikaanse kultuurskatkis. Elvis Blue, Steve Hofmeyr, Demi Lee Moore, Joseph Clark en Riaan Benadé het vir hoendervleis vermaak gesorg, onder begeleiding van die Versnit Orkes met Matthys Maree, Juan Oosthuizen, Brendan Ross, David Klassen, Denny Lalouette, Bez Roberts, Adam Howard en Mauritz Lotz. Verseker die room van ons plaaslike talent. Agter die skerms is dinge beplan, gereël, bymekaar gesit en uitgevoer deur ’n top-span wat van Versnit maak wat dit is: Alexa Strachan, Anna Davel, Bernard Gramann, Jaco Smit, Johan Griesel, Fanie Pieterse en Jeanne Steenkamp. Baie dankie aan almal wat deel was van Versnit 2023. Met alles waarmee ons almal te doen het in hierdie land, wat ons moet doen om te oorleef, is ons verheug dat julle nog altyd kans sien vir hart oopmaak en gee, gee, gee. Want ons weet julle gee ook om.
26 Oktober 2022
Atterbury Nasionale Klavierkompetisie-wenners bekroon
2 Februarie 2022
Versnit 2022

By Versnit 2022 het almal gegee, uit hul harte gegee

Vroegaand op Saterdag 29 Januarie 2022, toe die eerste klanknote oor die lowergroen grasperk van die asemrowende Rust en Vrede landgoed in Stellenbosch spoel, toe weet ons. Dit gaan ’n spesiale aand wees. ’n Versnit van die beste wyn, keurig gemeng met musiek van formaat en alles saamgebind met die krag van gee. Van omgee vir dié wat minder het as ons.

Dié aand van omgee, Versnit se tiende, is deur ’n genooide gastelys van vriende van Atterbury Trust, Rust en Vrede en Lexus bygewoon om ons wonderlike land se beste te kan ervaar. Beste in wyn, beste in musiek, beste in motors, maar veral, die beste ingesteldheid om daad by die woord te voeg om te skenk sodat ander ook hul eie beste lewe kan ervaar.

Stef Bos, aangenome seun van Afrika, het ons weer laat besef dat al is die toekoms vol gate, tydens sy juiste interpretasie van Johannes Kerkorrel se gepaste Gee jou Hart vir Hillbrow, ons met gee, gee, gee die toekoms wel kan verbeter.

’n Bewoë, maar gelukkige Karen Zoid het haar familie-storie op haar seun se vyftiende verjaarsdag met ons gedeel en het ’n emosie-belaaide vertoning gelewer wat ons na ons asems laat snak het. Dankie Karen. Jy inspireer altyd. En daarom reik ons hande uit en help ’n ander met minder as ons.

Na sy uitsonderlike weergawe van Mike and The Mechanics se The Living Years het Elvis Blue die skrywer, Genesis se Mike Rutherford, persoonlik van die verhoog af bedank aangesien Mike self hierdie jaar se Versnit kon bywoon.

Die wêreldbekende en gewilde Stellenbosch Universiteitskoor het vanaf die trappe van die Rust en Vrede Herehuis die tweede helfte van die Versnit-konsert ingelei met die ikoniese, eg Suid-Afrikaanse Jerusalema.

Jong, het ons dit al gesê? Dít was nou vir jou ’n aand om oor huis toe te skryf.

Nog ’n hoogtepunt was afkomstig van Mango Groove se superster Claire Johnston, wat die bekende, kultuurskat-kwela-klanke van die groep se Special Star, Dance Sum More en ander treffers met die agtergrond van ’n goue son wat sak teen die Helderberg uitbasuin het, tot ons rillings kry. Johnston is ook tydens die konsert vereer vir haar bydrae tot ons musiekwêreld en aan die einde van Versnit, met hulp van die penny whistle, kon niemand meer sit nie en almal het gedans, dans, dans.

Corlea Botha, Appel en die uitnemende orkes het ook sommer lekker ingespan om die hele aand betowerend saam te bind in ritme, klank en genoegdoening.

Toe die laaste glas geklink is en al die gesels gesels is, het almal saamgestem. Dit was voorwaar die beste Versnit ooit.

20 Januarie 2018

Die jaarlikse Versnitkonsert op die wonderskone Rust en Vrede landgoed, ten bate van Atterbury Trust, het in 2018 op 20 Januarie plaasgevind. Almal is dit eens, dit was weer ‘n sielsbevredigende, genotvolle geleentheid vir samesyn, die beste Afrikaanse musiek en heerlike wyn. Ons het ook ‘n gedrukte Versnit Herinneringsboek (2012 – 2017) aan gaste uitgedeel. Kyk hier na die boek: https://atterburytrust.org/versnit-herinneringe-boek/
Januarie 2017

Versnit 2017 was ’n viering van die beste van Suid-Afrikaanse kunstenaars – Coenie de Villiers, Stef Bos, Steve Hofmeyer, Corlea Botha, Lize Beekman en nuweling Brendan Pyper – in ’n vertoning uitstekend aanmekaargesit deur Matthys Maree en Alexa Strachan. Coenie de Villiers het vanjaar die Versnittoekenning ontvang vir sy besondere bydrae tot die Afrikaanse taalskat. ’n Groot Atterbury Trust-dankie aan Jean Engelbrecht en sy bekwame Rust en Vredespan, wat sy pragtige werf, wingerd én wynkelder oopstel, en gasheer is vir meer as 600 uitgesoekte gaste. ’n Groot dankie aan Calvyn Hamman vir Lexus se bydrae as medeborg van Versnit 2017. Die Versnitgaste dra ook ruimhartig by en ons wil een en elkeen wat ’n bydrae gemaak het, hartlik bedank. Ons kan u verseker dat elke bydrae tot die beswil van ons groeiende aantal Truststudente aangewend word.
23 Januarie 2016

Vir die vyfde agtereenvolgende jaar het Atterbury, Attacq en wynmaker Jean Engelbrecht van Rust en Vrede saamgespan om op die laaste Saterdag in Januarie ’n onvergeetlike aand in die Stellenbosse wynlande aan te bied.