Die Adopt Moreletaspruit Forum se kompetisie vir skole het gewys dat daar nog heelwat werk gedoen moet word om kinders en grootmense op te voed oor hoe belangrik dit is om die opvanggebiede van ons plaaslike riviere te bewaar. Ons hoor meer van die Forum.

Hoeveel inskrywings het julle ontvang vir die kompetisie?
Daar was ‘n totaal van 170!

Hoe was die standaard – het die kinders met innovatiewe idees vorendag gekom?
In die laerskoolkategorie was die standard bevredigend, maar ongelukkig het die hoërskole nie baie inskrywings opgelewer nie, en hulle standaard was nie so hoog soos ons gehoop het nie. Daar was ‘n paar innovatiewe idees, maar dit is ook baie duidelik dat baie werk nog voorlê om kinders bewus te maak van die kwessies rondom ons plaaslike riviere en hul opvanggebiede. Dit was duidelik dat die passie van onderwysers by die onderskeie skole ‘n groot impak het op die uiteindelike kwaliteit en hoeveelheid inskrywings.

Wie het die pryse gewen?
Daar was baie nadruk op waterbesparing en die maniere waarop mense water gebruik, en misbruik. Daar was twee laerskoolkategoriëe en twee vir hoërskole en die wenners was as volg:
Graad 1–4: Isobel Govender-Bateman (Laerskool Glenstantia)
Graad 5–7: Jennifer Mouton (Laerskool Lynnwood)
Graad 9–10: Chioma Okoye (Hoërskool Willowridge)
Graad 11–12: Thabiso Setlau (Lehlabile Sekondêre Skool)

Laerskool Lynnwood en Mahube Valley Primary School in Mamelodi het die skolepryse ontvang vir die skole met die meeste inskrywings.

Die doel met die kompetisie was om kinders bewus te maak van hoe belangrik dit is om ons riviere en groen spasies te bewaar. Voel julle dat hierdie oogmerke bereik is?
Tot ‘n sekere mate, maar ons het nog ‘n lang pad om te stap om kinders en onderwysers op te voed oor waar hulle water vandaan kom en waarheen dit gaan; asook hoe stedelike infrastruktuur ons plaaslike riviere en strome besoedel. Rivierekologie is nog iets waaroor dit blyk daar baie min bewustheid is, so daar lê nog baie werk vir Adopt Moreletaspruit Forum voor.

Waar is die wenplakkate nou?
Die plakkate is vir ‘n week by die Glenfair winkelsentrum uitgestal en is nou geskuif na die
JNF Walter Sisulu Environmental Centre in Mamelodi (oorkant die Mamelodi Hospitaal), waar hulle vir nog ‘n paar weke uitgestal word.

Wat is die beste terugvoering wat julle sover ontvang het?
On het baie komplimente vir die goeie organisasie van die kompetisie en die prysuitdeling gekry. Dit was baie lekker om te sien hoe opgewonde die wenners en hoe trots hul ouers en onderwysers was! Ons hoop dit sal die kinders inspireer om meer belangstelling te toon in omgewingsake.

Wat is volgende vir Adopt Moreletaspruit? Is daar enige ander aktiwiteite op die skedule?
Die Vriendegroepe wat langs Moreletaspruit woon en wat aan die Forum behoort en so baie van die werk doen, bly besig met hul gereelde aktiwiteite – hulle kap indringerplante uit, tel rommel op, en reël wandeltogte om te kyk na voëls, plante, insekte, spinnekoppe en geologie. Hulle toets ook waterkwaliteit en moedig die inwoners aan om die omgewing te geniet en op te pas. Einde Julie trek die Waternavorsingskommissie (WNK) in die Aurecongebou in Lynnwood Bridge in en hulle beplan saam met die Forum ‘n funksie op Mandeladag, 18 Julie, by die Faerie Glen Natuurreservaat. Daar kondig ons amptelik aan dat die WNK ‘n ooreenkoms met Adopt Moreletaspruit Forum gesluit het om na ons opvanggebied om te sien. Ons gaan ter ere van Mandeladag soveel rommel moontlik optel en daar sal piekniek gehou en besprekings gevoer word oor die brandpunte. Dan is ons ook besig om ‘n boek saam te stel oor Moreletaspruit,met hoofstukke deur verskillende kenners oor verskillende aspekte, soos fauna en flora, geskiedenis, waterkwessies, geologie, en so meer.