Almal maak in Januarie planne, of dit nou die besige bestuurders by Atterbury of die nimlike Nataniel is…

Nataniel

Waar was jy vir jou somervakansie?
Ek was in Frankryk, sopas terug. Dit was, soos altyd, ongelooflik mooi. Dis ook heerlik om my familie en peetkinders te sien. My broer is ’n Franse burger en woon met sy gesin in Nantes. Ek het selfs in die #JeSuisCharlie optog beland, baie emosioneel om ’n beskaafte optog te beleef.

Hoe gaan dit met die Nuwejaarsvoornemens?
Ek maak geen Nuwejaarsvoornemens nie, die begin van ’n jaar is nie die tyd om stress te veroorsaak nie, ek maak die hele jaar voornemens en ek hou altyd daarby, ek lei mos aan die Klaskapteinkompleks.

Hoe lyk jou Januarie na die feesgety se oorvloed kos en drank?
Ek het actually gewig verloor hierdie Kersfees. Ek het ’n jaar terug besluit om met ’n volkome alkaliese leefstyl te begin en het toe reeds opgehou om koffie of alhokol te drink. Ek eet ook nie meer rooivleis nie en eet geen graan of suiwel. Ek was dus stroopsoet tydens Kersfees. En nee, ek gaan nie gym toe nie, dis te grillerig, ek trap wel my fiets en doen gereeld joga.

Wat is die een ding wat jy hierdie jaar graag sou wou doen?
Ek sou graag meer tyd vir myself wou hê, verlede jaar het ek myself byna doodgewerk. Ek is baie dankbaar dat dit steeds elke jaar beter gaan met my loopbaan, maar op ’n stadium was ek so moeg dat ek skaars kon beweeg. Ek het geen uitheemse, eksotiese drome nie, ek sou graag al die boeke wat op stapels staan en wag wou lees. (En dit sou fantasties wees om ’n slag verlief te raak, maar dit sal nooit gebeur nie, ek is ’n kluisenaar en ontmoet feitlik nooit nuwe mense nie.)

Kort op die vakansie se hakke vra ons jou, waarheen sal jy gaan as jy R100 000 kry om in 2015 op ’n vakansie uit te gee?
Ek wil baie graag meer tyd in Italië spandeer, veral Rome, om kunstenaar en skrywers oor wie ek al intensief gelees het, se werk, huise en museums te besoek. Ek sou ook sekere ontwerpers wou besoek. Met sulke planne en die waarde van die rand behoort R100 000 presies twee dae te hou.

Wat kan jou aanhangers in 2015 verwag?
Daar is vier nuwe verhoogproduksies, ’n nuwe boek, ’n nuwe album, meer produkte in die Nataniël Collection plus ’n baie opwindende (nog geheime) internasionale projek oppad!

 

Paulette3

Paulette Reyneke, Atterbury Teaterbestuurder

Hoe het jy jou somervakansie deurgebring?
Dit was hierdie jaar ’n familievakansie. Ek en my man het vir ’n week in Southdown en ’n week in Kaapstad saam met ons kinders en kleinkinders gekuier.

Maak jy nuwejaarsvoornemens?
Nee, maar as ek moet sal ek graag vir myself ’n bietjie meer tyd inruim en nie net werk nie!

Hoe raak jy weer gebalanseerd na die feesgety se oorvloed kos en drank?
Ek glo aan gesonde kos en hou die balans deur minder stysel en suiker en wyn te gebruik, maar daar moet darem altyd ruimte wees om jouself te bederf!

Wat is die een ding wat jy hierdie jaar graag sou wou doen?
Ek gaan dit gelukkig doen… om saam met my twee dogters 10 dae in Parys en aan die Franse Riviera te spandeer!

Jy kry R100 000 vir ’n vakansie. Waarheen gaan jy?
Ek is versot op reis en wil nog baie graag Oostenryk, Duitsland en Switserland besoek.

Wat is jou wens vir Atterbury Trust vir 2015?

My wens is dat alles wat die Trust aanpak so suksesvol sal wees sodat daar nog baie meer beurse vir studente sal wees en hulp aan kinders wat dit nodig het.

 

Walvisroete 168

Zahn Hulme, Atterbury Trust bestuurder

Wat was die hoogtepunt van jou somervakansie?
Ons het die Walvisroete in die De Hoop Natuurreservaat gestap – 55 pragtige kilometer van pragtige berge , spierwit duine en turkooisblou see.

Hoe gaan dit met die nuwejaarsvoornemens?
Sover goed – ek wil meer bewuste stil-word en “my-tye” hê en ek werk hard daaraan!

Wat is jou Januarie geheim om gebalanseerd te raak na die Kersvakansie se swaar tafels?
Matigheid na al die lekker oordaad van die feesgety! Meer water, baie groente en vrugte en vis op ‘n Maandag! Ek oefen ook weer lekker hard!

Wat is die een ding wat jy hierdie jaar graag sou wou doen?
Ek word 50 vanjaar, so dit moet ’n onvergeetlike jaar wees! Ek sal graag vir Andrea Bocelli wil gaan kyk en luister in Toskane, Italië of ’n joga-“retreat” bywoon op die Griekse eiland Kreta.

Wat is jou wens vir Atterbury Trust vir 2015?
Ek wens dat ons sal voortgaan om drome van soveel behoeftige studente waar te maak. Ons het vanjaar 170 studente op universiteit. Ek wens ook dat ons nog ’n klomp geld beskikbaar sal kry om nog 10 maal meer studente te kan help!