Dit is al weer tyd vir die Atterbury Nasionale Klavierkompetisie, wat volgende week in die Atterburyteater afspeel. Ons is baie trotse borge van die enigste musiekkompetisie in ons land wat jong pianiste, 19 en jonger, eksklusief die geleentheid gee om teen mekaar mee te ding vir groot pryse. Ons het gesels met organiseerder Marichen Kapp, en verlede jaar se wenner, die talentvolle Swunhtat Oo van Harrismith.

Marichen, waarna kan ons vanjaar uitsien?
Die kompetisie vind vir die sesde keer plaas, en ons het ‘n rekordgetal van 46 kandidate wat deelneem. Die openingsaand is om 18:30 op 23 Oktober, en daar sal uitvoerings wees deur Swunhtat, wat verlede jaar die algehele wenner was, en ook deur die wenner van die vierde Stefans Grové Komposisiewedstryd. Almal is welkom om die eerste drie rondtes gratis by te woon, en ons verkoop kaartjies vir die finale gala-aand by Computicket.

Wat is vanjaar se prysgeld?
Die algehele prysgeld vanjaar is R115 000 met ‘n kontantprys van R35 000 vir die algehele wenner.

In watter kategorieë kan die kandidate deelneem?
Daar is drie kategorieë – 12 jaar en jonger; 15 en jonger, en 19 en jonger. Die kompetisie word oor vier rondtes beslis en ons begin met die eerste twee rondtes op 24 en 25 Oktober, tussen 08h00 en 18h00, waaraan al die kandidate deelneem. Die 18 semifinaliste wat hieruit aangewys word, sal dan op 26 Oktober tussen 13:00 en 18:00 in die derde rondte speel, en dan word die nege finaliste uit die drie ouderdomsgroepe aangewys. Hierdie negestuks ding dan op Vrydagaand 27 Oktober in die Gala-aand mee om die algehele prys.

Wie is vanjaar se beoordelaars en borge?
Ons het vier beoordelaars: Prof Malcolm Nay, John Roos, Prof Joseph Stanford and Bernarda Vorster. Atterbury Trust is die hoofborg, en ons het ‘n aantal kleiner borge wat ook bydra om die kompetisie lewend te hou.

Swunhtat, jy het verlede jaar die Atterbury Klavierkompetisie gewen. As jy nou terugkyk, wat het die prys vir jou beteken?
So baie! Dit het my ‘n rukkie geneem om te besef ek moes ses jaar lank aan nasionale kompetisies deelneem voordat ek uiteindelik een kon wen. Dit het my gewys was die waarde is van harde werk, bestendigheid, geduld, en natuurlik, vertroue in God.

Het jy vanjaar vir enige ander kompetisies ingeskryf?
Nee, ek het net aan een skolemusiekkompetisie deelgeneem. (Ek is vanjaar in matriek en my skedule was te vol om veel te kan oefen, so ek het nie eers die finale gehaal nie, haha!)  Ek het wel aan die Harrismith Eisteddfod deelgeneem waar ek die hoogste gemiddelde behaal het. Maar ek was deel van twee groot konserte, saam met die Stellenbosse Simfonieorkes en in Pretoria saam met die Gauteng Filharmoniese Orkes – albei omdat ek verlede jaar die Atterbury Nasionale klavierkompetisie gewen het.

Jy het genoem dat die prysgeld belê sal word vir jou studies – is dit toe wat gebeur het?
Ek het $600 daarvan na my tannie in Myanmar, Burma gestuur om te gebruik vir kos vir die arm kinders in haar dorpie. Die res is wel belê vir my toekomstige studies.

En nou is jy op pad om matriek te skryf … is jy gereed? Hoe voel jy oor die einde van jou skoolloopbaan?
Om eerlik te wees voel ek nie gereed nie – ek is maar altyd so met eksamens! Maar hier aan die einde van matriek voel ek dit was regtig ‘n groot avontuur, baie interessant, en nogal veeleisend! Hoewel ek seker van “veeleisend” sal leer op universiteit!

Toe ons laas gesels het was jy nog onseker of jy musiek of medies wou gaan swot – het jy toe jou besluit geneem?
Ek het besluit op medies, maar ek sal steeds aanhou klavierspeel. Ek wil ‘n dokter wees, omdat ek voel dis patrioties om mense te help, as ‘n dankiesê vir die land wat my al so baie geleenthede gegee het. Maar daar is ‘n Wêreld-Dokters-Orkes saam met wie ek hoop om iewers in die toekoms te kan speel, so dit is beslis moontlik om medies en musiek te kombineer!

Waar gaan jy swot?
Ek is voorwaardelik by Wits, Tukkies en Stellenbosch vir medies aanvaar, maar ek dink my voorkeur lê by Wits.

Wat is jou raad aan kinders wat aan vanjaar se Atterbury Klavierkompetisie deelneem? Wat, volgens jou, is die geheim om te wen?
Ek is nie professioneel nie en ek glo nie ek is in ‘n posisie om raad te gee nie, maar die belangrikste lesse wat ek geleer het is as volg: 1. Speel met die doel om mense se harte te raak en nie om te spog nie – ek het dié les op die harde manier geleer! 2. Probeer iets leer uit elke ervaring; en 3. Bly kalm en doen jou bes – die resultate maak nie saak nie, solank jy jou bes doen en met jou hele hart speel. Ek glo die ware wenners is dié mense wat iets uit die kompetisie leer en as beter pianiste daarvan wegstap as wat hul voorheen was.

 Die Atterbury Nasionale Klavierkompetisie vind tussen 23 en 27 Oktober by Atterburyteater plaas. Kaartjies vir Vrydagaand se gala-finale is by Computicket beskikbaar.