Pretoria is besig om sy stertvere reg te skud vir die BoekeJol en FilmRolfees wat in Augustus plaasvind. Kultuurvrate is omtrent in vir ‘n fees met die vierdaglange viering van Afrikaanse filmmakers en skrywers se werk.

Atterbury een van die kernvennote vir die projek, die Boekejol en Filmrolfees wat van 26 tot 29 Augustus by Atterbury Teater plaasvind. Die fees is  in Maart by die Atterburyteater met ‘n woord-en-musiekaand bekendgestel. “Ons hou van die idee van ‘n mini-kunstefees by die teater – dit pla ons dat daar, omdat dit so geweldig duur is om toneel aan te bied, minder toneelopvoerings plaasvind as wat ons graag sou wou sien,” sê Atterbury se Zahn Hulme. “Hierdie is ‘n manier om ‘n wyer verskeidenheid van die kunste tog by die Atterbury Teater te verwelkom, alles in Afrikaans, so ons sien baie uit!”

Die propvol program is vol hoogtepunte, soos Woensdag, 26 Augustus se “Boekbohaai” om 19:00, waar sanger Chris Chameleon, Solidariteit se Flip Buys en die ATKV se Dr Danny Titus sal deelneem aan ‘n witwarm gesprek met die tema “Die Lewensare van Afrikaans”. Die debat sal gelei word deur Tim du Plessis, KykNet se hoof van nuus en aktualiteit. Musiekvermaak is daar ook – “FAK met Stiletto’s” is ‘n heerlike verwerkings van ou geliefde FAK-liedjies, gesing deur Gisela de Villiers en Robert Brooks. Kaartjies is R150 elk.

Die volgende aand, Donderdag, 27 Augustus om 19:00, is Atterbury Teater weer die plek om te wees; hierdie keer om te luister na die reisverhale en -ervarings  van drie reisigers in Suid Afrika en Afrika. Die vertellers is almal manne met wonderlike stories, so ons kan uitsien na ‘n heerlike vermaaklike aand: Voetspore se Johan Badenhorst, skrywer C Johan Bakkes en Huisgenoot-joernalis en skrywer Dana Snyman. Al drie se boeke sal die aand te koop wees, en dis net die kans om ‘n handtekening te kry! Anna Davel sal sorg vir die musiekvermaak. Kaartjies kos R150 elk.

Vrydagaand, 28ste, raak dinge ernstiger, met ‘n gesprek oor die knelpunt: “Maak die media nog plek vir die kunste?” Top mediakenners Adriaan Basson van Media 24, Kobus Burger van RSG en skrywer en dramaturg Schalk Schoombie vorm die paneel wat die vraagstuk met Freek Robinson gaan bespreek. Die musieklegende Amanda Strydom verskaf die musiek vir die aand, wat weer om 19:00 by die Atterbury Teater begin. Kaartjies weer R150 elk.

Dinge raak behoorlik warm Saterdagoggend 29 Augustus om 09:30 by die Atterbury Teater  wanneer Prof. Kobus van Rooyen, voorsitter van die Uitsaaiklagtekommissie, met die skrywer Anemarie Jansen gesels oor haar opspraakwekkende boek oor die berugte ysterhand van die Vlakplaas moordbende: “Eugene de Kock – Sluipmoordenaar van die staat”. Jansen se boek is deels gebaseer op “Prime Evil” se dagboeke en tronkgeskrifte, sy sielkundige verslae asook baie ure se onderhoude wat sy oor drie jaar in die tronk met hom gevoer het. Die manne van CH2 sal die musikale lafenis verskaf tydens die gesprek. Kaartjies is R150 elk.

Dit gaan ‘n volgepakte vier dae wees, so maak seker jou dagboek is skoon!

Vir die volledige program en meer inligting oor wat alles by Lynnwood Bridge gebeur tydens die fees, besoek Boekejol se Facebookblad https://www.facebook.com/pages/Boekejol-en-Filmrolfees/584677514910585?fref=ts en die webwerf: http://www.boekejol.co.za/