Eduplex College se kunsleerlinge het met soveel ywer ingespring in Atterbury Trust se Cool Capital Hoërskoolkunsprojek, dat dit op die ou end heelwat groter was as aanvanklik beplan. Ons gesels met die kunsonderwyseres, Christene Webb, oor die proses.

Waar is die beeldhouwerk? Hoekom ‘n klipinstallasie?

Die beeldhouwerk is opgerig op ‘n groot oop grasperk langs ons nuwe uitbreiding. Die idee is dat die beeldhouwerk nie ‘n kliniese, statiese werk moet wees nie, maar eerder interaktief is. Dus kan die leerlinge deur dit stap en op en oor dit klim, rustig op die bankies sit en self deel word van die kunswerk. Aanvanklik sou die werk uit betonblokke bestaan het en is op ‘n kleiner skaal beplan. Die idee het egter so gegroei en is so sterk deur ons direkteure ondersteun, dat dit eerder in ‘n landskapwerk ontaard het. Om die werk betyds klaar te kry, het ons besluit om van gabion strukture gebruik te maak en dit met verskillende kleure klip te vul. Ons skool se gronde en argitektuur is baie modern en die gabions sluit baie goed daarby aan. Laastens het die verskillende kleure klip ook simboliese betekenis omdat dit aansluit by die verskillende fases in ‘n mens se lewe en die “leap of faith” wat nodig is om aan te beweeg.

Wat beeld die werk uit?

Die leerling met wie se idee ons op die ou end gegaan het, Diandra Oosthuizen, het dit so verwoord: “In die lewe gaan ons deur verskillende fases. Hetsy dit ‘n fase is wat ons ontgroei, oorbegin na ‘n mislukking of aanbeweeg na sukses. Die lewe is ‘n proses, en net soos die seisoene, gaan ons deur fases van groei en hernuwing, maar ook tye van droogte en swaarkry. Trappe wat lei na iets hoër of groter as onsself, simboliseer vir my klein treë na sukses. Die idee van kronkelende trappe kan selfs verdere simboliese betekenis hê van die lewe wat draaie met ons loop. Hierdie sikliese patroon verwys na die fisiese en emosionele aanpassing wat dit verg om oor te begin. Tog op die einde styg ons bo ons omstandighede uit en ervaar oorwinning deur God wat ons krag gee. In my kunswerk wil ek graag my persoonlike ervaring van my reis deur Eduplex voorstel. Daarom het ek die simbool van trappe verder ontwikkel om die verskillende fases van my lewe voor te stel. Die sirkelvormige struktuur simboliseer die pad wat ons loop en die feit dat die lewe ‘n sikliese proses is. Tussen-in elke trap sal daar ‘n oop spasie wees. Dit simboliseer die tye in ons lewe wanneer ons vir ‘n oomblik onseker, verlore en bang voel. Dit is tydens hierdie tye wanneer ons op God moet vertrou en ‘n ‘leap of faith’ neem. Verder wil ek graag die idee van voetspore in my werk saamvat. Die merke wat ons op hierdie wêreld agterlaat is soos ‘n tydlyn van ons groei en ontwikkeling. Ons groei uit ons babaskoene uit en stap saam die toekoms in, saam met Eduplex.”

Hoe het julle besluit op die onderwerp?

Na aanleiding van die voorgestelde temas, het ons besluit om te fokus op die toekoms. Ons is nog ‘n baie jong skool en het volgende jaar ons eerste matriekgroep. Daarom het ons die leerlinge gevra om te dink oor hul eie en die skool se toekoms. Leerlinge het elkeen met drie moontlikhede vorendag gekom wat voorgelê is aan myself en die ander kunsonderwyseres, Karien de Beer, asook ons mentorkunstenaars, Monica de Klerk en Kay Potts. Tydens die voorlegging is die estetiese waarde, praktiese uitvoerbaarheid, boodskap en oorspronklikheid van die werk oorweeg en die top drie voorleggings is geïdentifiseer. Die top drie idees is verder aan die direkteure voorgelê vir goedkeuring en vandaar het die projek net verder gegroei! Ons direkteure was so beïndruk met die voorlegging dat hulle besluit het om die projek selfs groter te bou as wat beplan is. Met die hulp van ‘n ekstra anonieme borg, die ondersteuning van ons direkteure en ‘n baie bekwame terreinbestuurder het ons waarlik ‘n pragtige kunswerk gebou.

Wat is die naam van die werk?

A leap of faith

Hoeveel leerlinge het deelgeneem aan die projek en het dit deel van hulle kurrikulum gevorm?

Al ons Graad 10 en 11 Visuele Kuns leerlinge het deelgeneem, ‘n totaal van 16 leerlinge. Die projek was deel van hul praktiese assessering vir kwartaal 3.

Hoe lank het dit geneem om te voltooi?

Leerlinge het in Julie begin met voorlopige beplanning en die finale idee is aangewys op 22 Augustus. Konstruksie het begin op 11 September met die fondamente en grondwerke wat uitgegrawe is. Op 13 September het die leerlinge hul betonblokke gegiet en gekerf. Die projek is voltooi op 8 Oktober 2014.

Jy noem twee professionele kunstenaars wat saam met julle hieraan gewerk het. Wat het hulle bydrae vir die proses beteken?

Monica de Klerk het as ‘n jong opkomende kunstenaar ‘n lesing aangebied oor beton as kunsmedium en gehelp om die voorleggings te evalueer. Kay Potts was deurlopend betrokke deur lesings te gee, raad oor die uitvoerbaarheid van idees, leiding aan die leerders oor hul idees en die bouproses van die betonblokke. Sonder Kay kon ons nie so ‘n groot projek aangedurf het nie, sy het ons werklik in alles ondersteun!

Wat dink julle as ‘n deelnemende kunsdepartement van die biennale?

Die biennale gee die geleentheid vir kunstenaars om te groei en te ontwikkel, dit skep ‘n platform wat baie blootstelling gee aan verskillende kunsvorme en kunstenaars. Dit bied geleenthede om kuns te skep wat andersins nie moontlik sou wees nie.

Wat dink julle van openbare kuns?

Dit dwing mense om kuns raak te sien en dit fokus die aandag op die positiewe aspekte van die lewe. Openbare kuns kan mense positief beïnvloed en ‘n boodskap oordra. Openbare werke word eintlik van die gemeenskap waarin dit geplaas word en sodoende maak dit Jan Alleman bewus van die krag wat in kuns opgesluit is.

Kom ons droom bietjie: gestel Atterbury huur julle as skoolkunsdepartement om enige plek in Pretoria openbare kuns op te rig, wat sal dit wees en waar sal julle dit Installeer?

Ons is ‘n kreatiewe skool en het ‘n hele paar idees:

  • Om ‘n beeld op te rig wat die silhoeët van Pretoria se “skyline” sal verander.
  • Om “cut-outs” van reuse jakarandas op die Magaliesberg op te rig.
  • Om al die kragbokse en mangatdeksels (“man holes”) in Pretoria pers te verf.
  • Om pers ligte op te rig wat die historiese stadsmonumente in die aand verlig.
  • Om die fonteine se water pers te kleur.

Al die deelnemende skole se werk vir die Cool Capital Hoërskoolkunsprojek is tot Donderdag 16 November oop vir die publiek.