Foto: Alexander Johnson (beoordelaar), Claudine van Breda, Swunhtat Oo (wenner), Nina Schumann (beoordelaar) en John Roos (beoordelaar)

Die algehele wenner van vanjaar se Atterbury Nasionale Klavierkompetisie is ’n onpretensieuse, plat-op-die-aarde 17-jarige van Harrismith, met ’n eksotiese naam danksy sy Burmese agtergrond en ’n paar hande wat 12 note op ’n klavier in een vat kan raakvat. Hierdie presteerder is ook ’n uithaler danser en naelloper, en die eerste leerling in sy skool se geskiedenis wat die wit erebaadjie mag dra vir sy uitmuntende akademiese prestasie (sy jaargemiddelde is sedert Graad 1 altyd 80%)  en ook vir dienslewering (dubbeld die die aantal ure in die afgelope jaar diens aan die skool gelewer; meer as 120 uur oor ses jaar). Ons het Swunhtat Oo ’n paar dae na sy triomfanttelike aand opgespoor vir ’n geselsie.

Eerstens, hoe spreek ons jou naam reg uit?
Dis “Swan-tah”. My vriende noem my Swan. Jy weet jou naam is buitengewoon as jy die enigste een op Facebook is. Daar is wel vier Swunhtats, maar hulle is almal ek… ek het die wagwoorde vergeet!

Jy is in Suid-Afrika gebore, né?
Ja, nogal ewe in Betlehem. Ek kan ’n bietjie Afrikaans praat, maar my woordeskat laat my soms in die steek!

Vertel ons meer oor jou agtergrond.
Ek is ’n enigste kind, my ouers is van Myanmar in Burma, maar woon al hier van voor ek gebore is. Ek is in Graad 11 aan Harriston Skool in Harrismith, waar ek van Graad 1 was. Volgende jaar is ek hoofseun. Die res van ons familie is oraloor, meestal in Myanmar, maar ook in Singapoer en Kanada.

Jy is seker baie opgewonde dat jy eindelik die groot prys gewen het, want jy het voorheen ook aan die kompetisie deelgeneem, en pryse gewen, dan nie?
Ja, ek het al vier keer deelgeneem, eerste keer was in 2012. En ek het al van die kategorieë gewen, maar dis baie spesiaal om die grote te wen.

Hoe lank speel jy al klavier en aan hoeveel kompetisies het jy al deelgeneem?
Vandat ek sewe was. Ek het drie instrukteurs gehad in dié tyd, Mev Martie den Heyer, Beulah van Aswegen en, sedert verlede jaar, Professor Joseph Stanford by Tukkies. Ek het seker al meegeding in so 14 kompetisies.

Het jy verwag om te wen? Wat was vanjaar anders, en hoekom dink jy het jy wel gewen?
Nee, ek het dit nie verwag nie. Mens hoop maar, tog is elke jaar en elke kompetisie anders. Ek dink die ervaring van vorige jare het gehelp, en die lesse wat ek in ander kompetisies geleer het, het ook bygedra.

Watter van die stukke wat jy vanjaar gespeel het was jou gunsteling en wat was die spesifieke uitdaging?
Ons moes vyf stukke speel: barok, romanties, klassiek, modern/impressionisties en dan ’n opsionele Suid-Afrikaanse komposisie. Ek het verlede jaar die SA kategorie gewen, so toe kies ek vanjaar eerder nog ’n moderne komposisie. Maar my gunsteling was die romantiese komposisie – ek het Liszt se Hongaarse Rapsodie Nr 6 gekies. Die spoed daarvan is opwindend, maar ook die musikaliteit van die stadiger gedeeltes.

Hoeveel kategorieë het jy gewen? Is dit die grootste prys wat jy nog kon huis toe neem?
Ek het drie kategorieë gewen en dan ook die algehele prys… en ja, dit was R51 750 in totale prysgeld!

Sjoe! Wat gaan jy daarmee maak?
Vir nou gee ek dit natuurlik vir my ouers, en hulle sal dit seker vir my opvoeding belê. Ek wil òf musiek òf medies gaan swot na matriek. Ek wil graag ’n sjirurg word.

Sê nou jy moes al die geld nou dadelik uitgee… wat sou jy koop?
Ek het regtig alles wat ek wil hê, so ek reken ek sal dit gee vir welsynswerk, om kos vir kinders te gee. Ek sien so baie kinders op straat wat honger ly. My ouers maak soms kerrie en rys en dan gaan gee ons dit vir die mense by 42nd Hill, ’n baie armoedige woonbuurt naby Harrismith se vullishoop.

Dis pragtig. Maar ons dink jy verdien darem so ’n duisend rand om op jouself uit te gee. Hoe sal jy jou bederf?
Ek sal nuwe oorfone koop, ek het myne by die kompetisie verloor!

Die meeste tieners verkies kommersiële musiek bo klassieke musiek. Wat van jou?
Ek hou wel van ander soorte musiek. Ek het onlangs Koreaanse pop ontdek… gaan soek bietjie vir 15&. Ek verstaan nie die taal nie, so mens luister half daarna soos na klassieke musiek. Die musiekbedryf is vol sulke negatiwiteit met lirieke oor dwelms en seks en geweld, so ek moet sê ek hou daarvan om te luister net vir die musiek, en my eie interpretasie daarvan. Ek hou ook van dansmusiek, want ek dans graag.

Speel jy enige ander instrumente?
Nee, dit was nog maar van die begin af klavier. Ek het soms al gedink dit sou lekker wees om te kan viool speel, maar dan hoor ek hoe moeilik dit is en dan is ek maar bly ek het klavier gekies…

Hoe lank oefen jy per week?
So vyf uur per dag in die vakansie en een of twee uur ’n dag gedurende die kwartaal. Elke naweek ry ons deur Pretoria toe vir ’n twee-uur les by Prof Stanford.

Wat motiveer jou om so hard te werk?
Ek reken dis omdat ek graag suksesvol wil wees, en wil aanhou mik na beter. Ek wil nie later jammer wees omdat ek nie die beste gemaak het van die geleenthede wat ek gekry het nie.

Watter musiek wat jy nog nie baasgeraak het nie, het jy in jou visier vir eendag?
Mmm, Rachmaninoff se concerto’s – ek het al een beweging gespeel maar die heles is so moeilik! Dis die spoed daarvan, die musikaliteit… en hy het enorme hande gehad!
Ek het ’n handspan van 12 note, wat nie sleg is nie, maar syne was waarskynlik 13 of 14 note!

En as jy nie klavier oefen nie, wat geniet jy?
Wel, ek studeer, of ek hardloop vir oefening, of ek dans! Ek het myself verskillende “moves” geleer deur lesse op Youtube te kyk; want dis lekker oefening en nie so eentonig soos hardloop nie. Ons skool hou elke tweede jaar ’n megadrama en ek het vir vanjaar s’n ons graad se choreografie gedoen. Ek het dit basies soos ’n klavierstuk ingestudeer en toe my klasmaats al die passies geleer. En ek het ook ’n rol gedans; dit was regtig pret!

Waar hoop jy sal jy oor tien jaar wees? Wat is jou wildste droom?
Ek sal nogal daarvan hou om bekend te wees as daardie internasionaal-bekende sjirurg-pianis!

WAT Sê SY SKOOLHOOF?
Mary-Ann Pullinger van Harriston School is vol lof vir haar ster-student:
“Ons is ontsettend trots op Swunhtat. Hierdie prys is ’n groot eer, maar die Harriston Skool-familie ken hom so… hy is voorwaar ’n buitengewoon talentvolle leerling. Hy is akademies uitstekend, hy presteer op die atletiekbaan, en hy is ook geweldig kunstig soos hierdie prys wys. En jy kry nie ’n meer nederige kind nie – hy sal nooit sy gewig rondgooi nie. Ons skool is klein en daarom neem almal aan alles deel; en ons fokus op individuele aandag. Hy gryp alles aan wat na sy kant toe kom, soos sy graad se dans wat hy vir ons megadrama gechoreografeer het – en maak daarvan ’n sukses. Hy is ’n wonderlike deel van ons familie.”

AL DIE KATEGORIEWENNERS
Onder 12: Dane van Graan.
Onder 15: Beate Boshoff
Onder 19: Swunhtat Oo.
Beste Barokstuk:  Louis Nel
Beste Klassieke en Beste Suid-Afrikaanse stukke: Cindy Ju
Beste Romantiese en Moderne stukke: Swunhtat Oo.
Algehele wenners:
3de plek: Louis Nel
2de plek: Cindy Ju
1ste plek: Swunhtat Oo