27 Mei 2018, 17:00 – 18:30

R160 – R180

Musieklegende Karin Hougaard bly al sedert 2008 in die Verenigde State. Dis dié dat haar Suid-Afrikaanse aanhangers die laaste jare min van haar te sien gekry het. Maar nou is sy terug! Met haar verhoogproduksie GREPE wys Karin Hougaard waar sy vandag staan, as kunstenaar en as mens. Die vertoning inkorporeer ou treffers soos ‘Bly’ en ‘Kruietuin’, maar dit laat die gehoor ook kennismaak met haar jongste werk, want doer ver in North Carolina werk sy nog steeds aan nuwe komposisies. Dan is daar ook liedere wat sy in samewerking met die Nederlandse kunstenaar Herman van Veen geskryf het, en haar vertolkings van Anna Neethling-Pohl se Afrikaanse vertaling van die sonnette van Shakespeare. Hougaard sing hoofsaaklik in Afrikaans, aangevul deur enkele liedere in Engels en Nederlands. Karin Hougaard se vertoning is intiem, dinamies, spontaan en literêr. Vir hierdie stem- en teksgedrewe vertoning word sy begelei deur die briljante Jaconell Mouton. Die regié is behartig deur Marí Borstlap.

27 Mei 2018, 17:00 – 18:30 Atterburyteater