Toe vanjaar se Loslit Dag aanbreek, was die studente van die Isa Carstens Akademie (ICA) reg om hulle deel te doen. Dis toé dat hulle op Vrydag, 5 September 2014 geld ingesamel het spesiaal om die Beyers Bytjies pre-primêre skool in Danville, Pretoria te help. Hulle het ook sommer lekker loslit aangetrek vir die dag. (Beyers Bytjies is deel van Genl Beyers Laerskool.)

Die studente het hul harte en beursies sommer wyd oopgemaak vir die klein kindertjies van hierdie besondere skool.

Die Maandag ná Loslit Dag het hulle toe ’n wonderlike oggend by die skool deurgebring. Die kinders is met kolwyntjies getrakteer, wat deur Feedem geborg is. Beyers Bytjies onderwysers is ook heerlik gepamperlang.

Die skool se hoofbydrae tot die gemeenskap is die verskaffing van leiding aan onderwysers in die Danville en Elandspoort sub-ekonomiese gebiede. Hulpbronne is beperk. As dit bestaan, is dit oorwegend van ’n ontwikkelende aard.

Die gebied het ’n hoë werkloosheidskoers, veroorsaak deur verlore werksgeleenthede. Verskeie sosiale probleme bestaan. Kinderverwaarlosing en -misbruik, alkoholisme, gedragsprobleme en beperkte ouervaardighede kom onder andere in hierdie gemeenskappe voor. Al die fondse wat gebruik word vir die bestuur van die skool kom van skoolgeld (die enigste bron van formele inkomste), asook van skenkers en borge.

Die skool se doelwitte is:

  • Om minderbevoorregte kinders in ’n sub-ekonomiese area van die geleentheid te voorsien om hulle beter gereed te maak om ’n formele skoolloopbaan te kan volg
  • Om kindermishandeling, -verwaarlosing en -ondervoeding in die gebied te voorkom
  • Om geleenthede vir ouers te skep om hulle eie ouervaardighede uit te bou om sodoende beter verhoudings met hul kinders te ontwikkel

Isa Carstens Akademie is trots om met Beyers Bytjies geassosieer te wees en sien uit na ’n langtermyn betrokkenheid by die skool.

Borskankerbewustheid: 10 Oktober 2014

Op 10 Oktober 2014 bied die Isa Carstens studente ’n geleentheid by Lynnwood Bridge aan om borskankerbewustheid te bevorder.

 

ISA Carstens

[gdlr_styled_box content_color=”#ffffff” background_color=”#88b9ed” corner_color=”#00438b” ]

Die Isa Carstens Akademie word allerweë as ‘n markleier op die gebied van Somatologie in Suid-Afrika beskou. Atterbury het reeds ‘n aantal ISA Carstens beursstudente oor die jare heen met beurse ondersteun weens ons verbintenis met Isa Carstens se Stellenbosch kampus.

Die Isa Dameskoshuis in Stellenbosch word gedeeltelik deur Atterbury besit, aangesien die koshuis in Stellenbosch destyds deur Atterbury ontwikkel is.

Die Isa Carstens Akademie het in 2013 na Pretoria uitgebrei en daar gaan ‘n nuwe koshuis in Pretoria gebou word waarin die Atterbury Trust ‘n aandeel gaan opneem. Die sooispitseremonie vind op 20 Oktober 2014 plaas en die kampus word in Januarie 2016 amptelik geopen.

’n Artikel 18 A-sertifikaat sal aan jou uitgereik word vir die belastingvoordele van ’n skenking.[/gdlr_styled_box]