Die epiese Afrikaanse periodefliek oor die Anglo-Boereoorlog, Modder en Bloed, het ʼn internasionale toekenning losgeslaan, berig Maroela Media op hulle webwerf.

Die beroemde Sedona Internasionale Rolprentfees vind jaarliks in Phoenix, Arizona in die VSA plaas om erkenning te gee aan onafhanklike flieks van regoor die wêreld, en het vanjaar van 18 tot 26 Februarie geloop. Die Suid-Afrikaanse inskrywing het die gesogte Gehoorkeuse Toekenning ingepalm tot die groot blydskap van regisseur en vervaardiger Sean Else, wat ook die draaiboek geskryf het. Dit is die vierde keer wat Modder en Bloed op ʼn internasionale rolprentfees benoem is, maar die eerste keer dat die prent ʼn prys gewen het.

Llewellyn Greeff, die medevervaardiger, het voorheen aan Maroela Media vertel die fliek is spesiaal gemaak met die oog op oorsese bemarking. Modder en Bloed vertel die verhaal van Willem Morkel (Stian Bam) nadat sy vrou en kind in die Anglo-Boereoorlog in 1901 vermoor is.

Ná dié tragedie word Morkel verban na St. Helena waar hy saam met ander krygsgevangenes aangehou word. Tydens die gevangenskap is daar, soos die naam van die film aandui, geen genade nie en word die gevangenes in haglike omstandighede aangehou. Hoewel elke dag ’n stryd om oorlewing is, moedig dit kameraadskap onder die gevangenes aan en raak hulle so heg soos ’n familie.

Die rolverdeling sluit Suid-Afrikaanse en Britse akteurs in – op plaaslike front kan akteurs soos Deon Lotz, Edwin van der Walt, Albert Maritz, Altus Theart, Jacques Bessenger, Bok van Blerk, Michael Richard en David Louw gesien word. Die Britse rolverdeling sluit in mense soos Charlotte Salt, Patrick Connolly, Nick Cornwall en Josh Myers.

Die artikel het oorspronklik op www.maroelamedia.co.za verskyn.