Min dinge maak ons so gelukkig soos om te hoor hoe Atterbury se beursprogram toegewyde jongmense ’n hupstoot gee. Leer ken vir alumni Johan Roos van Kuilsrivier in die Kaap, nou ’n siviele ingenieur.

Hoe het jy destyds van die Atterbury beurs te hore gekom en hoekom het jy op jou vakrigting besluit?
In my matriekjaar (2007) is ek reeds goedgekeur vir verskeie technikon beurse, maar ek wou baie graag liewer ’n universiteitsbeurs hê. Een van Atterbury se werknemers by die destydse Kaapse kantoor was glo ook in HTS Bellville en het gesê hulle moet kyk of daar ’n potensiele beurskandidaat is vir ’n beurs. My skoolhoof het my aanbeveel en Zahn Hulme het met my ’n onderhoud by my skool kom doen. Ek het toe die beurs gekry en ek was baie dankbaar. Ek was van kleins af prakties aangelê en het daarvan gehou om met my hande te werk. Ek het ook van laerskooldae af my eie houtwerk “besigheid” gehad.

Vertel ons ’n bietjie van jou agtergrond.
Ek is van Kuilsrivier in die Kaap, en was by Hoër Tegniese Skool (HTS) Bellville. Ek het ’n ouer broer en my pa is onlangs oorlede na ’n lang siekbed van drie jaar. Hy het voltyds sorg nodig gehad, wat maar moeilik was op my en my ma. So op die oomblik bly ek nog tuis, want ek kan haar nie op dié stadium alleen los nie. Na matriek het ek siviele ingenieurswese by die Universiteit van Stellenbosch geswôt, en ek het in Dagbreek gewoon. In 2011 het ek my BIng-graad verwerf en in 2012 voltyds begin met my Meesters.

Na ’n Atterbury-verwysing het ek in 2013 het by Aurecon Raadgewende Ingenieurs begin werk en my studies deeltyds voortgesit. Einde verlede jaar het ek my MIng (Konstruksie Ingenieurswese en Bestuur) verwerf en my gradeplegtigheid is vandeesmaand.  Ek probeer nog my houtwerk doen – dit het nog altyd vir my lekker sakgeld ingebring, maar noudat ek voltyds werk is die tyd maar min. En ek doen gereeld sport sodat ek darem ’n balans handhaaf!

Geniet jy jou werk?
Ja, baie – dis beslis die bedryf waarin ek wil wees. Aurecon is ’n groot internasionale maatskappy en het baie goeie mense en hulpbronne tot hul beskikking. Daar is baie om van te leer in die maatskappy en die geleenthede is goed. Ons kry baie ondervinding met internasionale projekte, so mens kan die wêreld en ander projekte sien al bly jy steeds hier.

Wat mis jy die meeste van studentwees?
Behalwe die sorgelose studentelewe, definitief die koshuislewe – ek was vyf jaar daar, so dit het soos my huis gevoel!

Wat wou jy eendag word toe jy klein was en het die droom waar geword? 
Ek wou nog altyd in die konstruksie/ingenieursbedryf werk, so ek is op die regte pad! Daar is goeie moontlikhede en groei in die maatskappy. My droom was ook nog altyd om te begin my eie ontwikkelinge (soortgelyk waarmee Louis van der Watt begin het, en wat vandag Atterbury is). Gelukkig is ek nog jonk en die moontlikhede lê oop voor die jong werkendes. 

Noem drie beroemdes, histories of huidig, met wie jy graag sou wou tyd spandeer.
AB de Villiers – sy krieket is ongelooflik die afgelope tyd en hy is ’n groot rolmodel vir die jeug. Dit sal lekker wees om ’n wedstryd saam met hom te speel, maar ek wil net nie teen hom boul nie!

Albert Einstein of Isaac Newton – dit sal bitter interessant wees om net te hoor hoe hierdie ontdekkers van wetenskap oor die lewe en dinge dink.

En natuurlik Nelson Mandela – seker een van die grootste inspirasies in die wêreld. Sou ’n groot eer wees om sy hand te skud.

Watter tegnologiese uitvinding wens jy wil in jou leeftyd gebeur?
’n Vinniger, goedkoper en veiliger manier van vervoer.

Watter historiese gebeurtenis het ’n blywende indruk op jou gemaak?
Die Springbokke se oorwinning in die 2007 Wêreldbeker rugbyfinaal. Dit was seker een van die beste naweke in my lewe!

As jy deel kon wees van enige ingenieursprojek/ argitektoniese projek in die wêreld, wat sou dit wees?
Ek sou graag betrokke wou wees by die ontwerp van groot internasionale gebou-ontwikkelings wat alle dienste insluit. Op die ou end sal wil ek graag my eie ontwikkelingsprojekte wil doen.

As jy iemand se droom sou kon waar maak, wat sou jy doen?
Atterbury is op die oomblik besig om baie mense se drome waar te maak met hulle studielenings. Daar is soveel potensiaal daar buite, maar die geleenthede of finansies is nie altyd daar nie. Ek sou graag eendag dieselfde doen – nie net ’n lening nie, maar ook mentorskap, sodat die ou wat voordeel trek, verstaan dat harde werk noodsaaklik is om jou drome te bereik. Atterbury moet op hulle goeie werk voortbou, want hulle doen uitstekende werk vir die jeug en toekoms van SA. Sonder Atterbury se getroue ondersteuning die afgelope ses jaar sou ek nie vandag hier gewees het nie.