10 vrae vir Altie Griffiths, kampusbestuurder van Isa Carstens in Pretoria

1. Hoe is jy betrokke by die werk van die Atterbury Trust?
Ek is die kampusbestuurder van die Isa Carstens Akademie in Lynnwood. Atterbury Trust is ’n aandeelhouer in die akademie en ons nuwe koshuis, en ons studente het daarom met groot geesdrif betrokke geraak by Atterbury Trust se projekte.

2. Wie is Altie as sy by die huis is?
Ek het in Julie verlede jaar Pretoria toe getrek na 13 jaar in Hoedspruit waar ek voorheen ’n gastehuis op die plaas begin en bedryf het. Ek woon baie naby die Lynnwood-kampus saam met my nuwe man (ons is in Maart verlede jaar getroud) en het twee kinders in Menlopark Hoërskool.

3. Waar het jy grootgeword en skoolgegaan?
Ek is gebore in ’n sendinghospitaal naby Hoedspruit en het oral in Limpopo op klein plattelandse skooltjies skoolgegaan en by Pietersburg Hoërskool matriek geskryf.

4. Voltooi die sin: Ek weet ek is ’n Afrikaner, want… ek moet elke paar maande in die Bosveld langs ’n vuur sit om my batterye te laai.

5. Hoe lyk jou droom-Sondagmiddagete?
Saam met my man en kinders om ’n lang, mooi gedekte tafel op die stoep. Vlinder-lamsboud op die kole, ciabattas, kaas en slaai en lekker yskoue Sauvignon Blanc.

6. Wat is jou gunsteling vakansie-herinnering nog?
My hele familie (ouers, sussies, boeties, niggies en nefies, al 25 van ons) in een groot huis op die Langebaan lagoon die Kersfees voor my ma oorlede is.

7. Noem drie bekendes wat jy graag op ’n eg-Suid-Afrikaanse uitstappie sou wou neem, en waarheen sou julle gaan?
Jan van Riebeeck op ‘n toer deur die huidige Kaapstad (ek dink ons sal hom moet lawe!)

Jacob Zuma vir ’n rit in ‘n Volkswagen Polo op die pad tussen Lydenburg en Hoedspruit. Sodat hy kan weet hoe voel dit om jou lewe te waag op ’n teerpad wat nie meer bestaan nie.

Koningin Elizabeth, na ons familieplaas naby Mussina. Daar sal sy kan sien hoe die son in die Bosveld sak en hoe dit voel om langs ’n regte, egte hardekoolvuur te sit en na die jakkalse te luister. Met al die geld in die wêreld het sy na alle waarskynlikheid nog nie beleef hoe dit voel om net “gewoon” te leef nie..

8. Watter tegnologiese uitvinding wens jy wil in jou leeftyd gebeur?
Ononderbroke hoë-spoed Internet-toegang in Suid-Afrika.

9. Watter historiese gebeurtenis het ’n blywende indruk op jou gemaak?
Die val van die Berlynse muur.

10. Gestel jy kry ‘n blanko tjek om op ’n filantropiese daad uit te gee, wat sal jy doen?
Skole bou en die beste moontlike opleiding gee aan onderwysers met ’n roeping.

Vir meer inligting oor die Isa Carstens Akademie, besoek http://www.isacarstens.co.za/