Die FAK het vandeesweek sy jaarlikse Prestige-aand gehou waartydens daar hulde gebring is aan rolspelers wat oor die jare heen ʼn positiewe bydrae gelewer het tot die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur, berig Maroela Media daaroor op hul webwerf.

Dié geleentheid het saam met die 500ste herdenking van die Hervorming (ook bekend as die Reformasie) plaasgevind.

Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, het tydens die
geleentheid gesê die Afrikaanse kultuur word gekenmerk deur ʼn
mens se eie kulturele identiteit, en die geleentheid om woorde, inhoud
en wysheid in jou eie taal te kan bekom

Langner het gesê ’n FAK-toekenning is nie iets waarvoor iemand kan aansoek doen nie, maar eerder ʼn toekenning van dankbaarheid. “Dankbaarheid vir dié mense wat deur dienswerk hul verantwoordelikheid teenoor hul gemeenskap, taal en kultuur nakom.”

Die skrywer dr. Abraham de Vries het die NP van Wyk Louw-toekenning vir die bevordering van Afrikaanse taal en kultuur ontvang. De Vries het beskeie die toekenning aanvaar en gesê hy “voel klein teenoor vorige wenners”.

“Ek dink dit is ʼn groot eer, en dalk eerder ʼn baie welkome fout,” het hy skertsend laat hoor.

Oor Afrikaans het De Vries gesê: “Dit is ʼn taal waaroor mense in ander lande net kan droom, en ʼn taal
wat sal bly voortleef solank daar mense is wat dit praat.”

Prof. Irma Eloff is vereer vir die bevordering van Afrikaanse onderwys en opleiding, met die HB en MJ Thom Prestige-toekenning. Sy het die belangrikheid van onderwys in Afrikaans uitgelig.

“Dis baie maklik om te sê onderwys is belangrik, maar ons dade moet dit wys. Ek is baie dankbaar vir Suid-Afrika waar rasionele denke om ʼn onderwyser te word seëvier,” het sy gesê.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het ʼn FAK Prestige-toekenning gekry vir uitnemende leierskap. Hy het alle dank aan goeie kollegas gegee. “Hulle werk nie net om te leef nie, maar hulle leef ook om te werk. Vir my gaan geluk nie oor prestasie nie, maar oor verhoudings,” het hy gesê.

Laastens is die FAK Prestige-toekenning vir die bevordering van Afrikaans in die media aan Johanna van Eeden, hoofredakteur van Netwerk24, Die Burger, Beeld en Volksblad gegee. Sy het die vraag oor of Afrikaans dood is, aangeraak.

“Afrikaans is soos ʼn tuin,” het sy gesê. “Elkeen van ons het ʼn stukkie bedding. Sommige mense s’n is mooi netjies omgeploeg en ander is sommer lekker rof en onbeskof. Ek is nog nie gereed om ʼn graf vir Afrikaans te grawe nie. Ek het nog ʼn akkertjie om te bewerk, en ek hoop jy doen dit saam met my.”

Die storie het oorspronklik op www.maroelamedia.com verskyn