“Die openbare bank as kuns”

Verkort uit Beeld se Cool Capital bylae, 26 Augustus

Min mense in Suid Afrika woon kunsuitstallings by of besoek museums, en dis ongelukkig so dat die meerderheid van ons nie veel aan die voordele van kuns blootgestel word nie. En dit maak die rol van openbare kuns so belangrik in ons land.

Openbare kuns kan gemeenskapswaardes uitdruk; dit kan die omgewing verfraai en ‘n landskap omvorm, en dit daag mense uit om dit wat hulle as vanselfsprekend aanvaar te bevraagteken, en om dinge uit ‘n nuwe perspektief te sien.

Openbare ruimtes in ‘n stad behoort plekke te wees waar vrye kreatiewe uitdrukking kan plaasvind, ook wat kuns betref, en sulke ruimtes moet natuurlik ook funksioneel wees. Banke in openbare ruimtes gee mense plek om te sit, eet, gesels, luister, kyk, rus of dagdroom, en watter beter meganisme om ‘n openbare ruimte werklik lewend te maak? Dit maak van ‘n bank die perfekte openbare kunsvoorwerp.

Danksy borgskap van PPC is daar 10 openbare sementbanke as kunsvoorwerpe ontwerp wat as deel van Cool Capital in openbare ruimtes rondom Pretoria geinstalleer word. Tien Pretoriase kunstenaars se ontwerpe sal binnekort sitplekke vir die stad se inwoners wees. Een van hulle is Francois Visser, ‘n beeldhouer by die kunstenaar Angus Taylor se Dionysus Scuplture Works, wat ook die projek koördineer. Visser het saamgespan met die argitek en sameroeper van Cool Capital, Pieter Mathews, en saam het hulle ‘n verteenwoordigende groep kunstenaars gekies.

Die banke word geplaas waar daar ‘n behoefte aan sitplekke geidentifiseer is, en die idee, aldus Visser, is om ruimtes te skep waar mense vanuit verskillende kulture en agtergronde met mekaar kan meng en mekaar kan leer ken. “Sodoende word elke plek ‘n spasie van kulturele uitruiling en integrasie,” sê Visser.

Een van die banke kom by Café Riche op Kerkplein, nog een by die Nasionale Museum van Katuurgeskiedenis, ander op Sammy Marksplein, die stadsaal, die Voortrekkermonument, die Gautrainstasies, en op Solomon Mahlanguplein in Mamelodi.