Met die keuringsproses vir die Atterbury Trust beursleningfonds kyk die paneel altyd hoe ‘n kandidaat die toekoms benader, en die suksesvolle kandidate is byna altyd mense met visie… hulle het idees vir hul eie ondernemings; hulle het planne oor hoe om terug te gee aan die samelewing, kortom, hulle dink gewoonlik groot. Dit is altyd lekker om later terug te gaan en te kyk hoe ons beurs-alumnae as hulle eers die arbeidsmark betree, hul toekomsvisie uitleef. Een so ’n alumna wat ons inspireer is 24-jarige Christie Blaauw, wat besluit het om op eie onkoste nog verder te studeer, en reeds tussendeur haar eie estetika-onderneming suksesvol bestuur.

Kan jy vir ons ’n kykie gee in jou agtergrond?
Ek is gebore en getoë in Vryburg, in die Noordwes Provinsie. Ek is die oudste van drie; my sussie is 21 en my boetie, 13. My sussie woon en werk in Johannesburg en my boetie is op skool en natuurlik nog in die huis. Ek woon tans in Bloemfontein en is verloof aan Jannie Venter. Ons gaan al uit van skool af, en ons trou volgende jaar op 9 Augustus.

Hoe het jou akademiese paadjie tot nou toe geloop?
Ek het BSc Mensmolekulêre Biologie geswot, daarna my Honneursgraad in BMedSc Mensmolekulêre Biologie. In 2017 het ek begin met my MMedSC Hematologie. My meesterstudie ondersoek in breë trekke die bloed van ’n bobbejaanspesie genaamd Papio Ursinus met die oog daarop om siek are te vervang met vaskulêre oorplantings. Indien ons suksesvol is, sal hierdie studie ons ’n stappie nader kan bring aan die regenerasie van organe of weefsels wat op sy beurt weer die gevolge van immuunonderdrukkende en chroniese verwerping wat ervaar word deur orgaan- of weefselontvangers help verminder of selfs heeltemal verhoed.

Jou plan A was om medies te gaan swot, reg? Wou jy van kleins af ’n dokter geword het?
Ek wou oorspronklik medies gaan swot, ja. Dit was vir my die logiese keuse omdat ek van jongs af mal was oor biologie en wetenskap.

 Die feit dat jy nie keuring vir medies gekry het nie, het nie in jou pad gestaan nie… vandag het jy jou eie besigheid, Christie Blaauw Aesthetics…  hoe het dit gebeur en hoekom juis estetika?
My ma was die bestuurder van ’n groot estetiese sentrum, en deur haar het ek ’n liefde ontwikkel vir hierdie bedryf, maar met ’n holistiese/natuurlike uitkyk daarop. Ek het self gesukkel met my selfbeeld toe ek jonger was, en dit bly maar by mens, so dit gee my soveel bevrediging om mense te help met hul selfbeeld deur hul uiterlike te verbeter.

Wat maak jou besigheid uniek?
Ek wil ’n meer natuurlike/holistiese benadering tot estetika bring deur die liggaam se eie kragtige molekulêre stelsels te gebruik vir die behandeling van estetiese probleme. Hematologie, veral die stollingstelsel, het baie verskuilde skatte wat wag om ontdek te word. Dit word reeds gebruik in die genesing van wonde na sjirurgie, chroniese tendonitis en osteoartritis. Hematologie is so divers en so kompleks en daar is heelwat aspekte wat in estetika en spesifiek in dermatologiese probleme toegepas kan word. Ek glo daarin om self alle aspekte van kliënt/pasiënt behandeling te hanteer sodat ek die behandeling noukeurig kan monitor en onmiddellike aanpassings maak soos nodig.  Ek werk net met produkte waarin ek glo, wat ek deeglik nagevors het self getoets het.

Kom ons gaan bietjie terug… Hoe het jy destyds by Atterbury Trust uitgekom en vir hoe lank was jy ’n beursstudent?
Ek het van Atterbury gehoor deur ’n advertensie op die radio… Ek het in matriek 24 beursaansoeke uitgestuur en net Atterbury Trust het uitgewerk. Ek was vir my drie voorgraadse jare ’n beursstudent, maar ek is steeds deel van die Trustfamilie.

Hoe befonds jy jou volgehoue studies noudat jy nie meer ‘n beursstudent is nie?
My honneursgraad en MMedSc is befonds deur die universiteit self, en ek het ook finansiële steun van die Nasionale Navorsingsfonds (NRF).

Hoe balanseer jy studies en werk? Wat is jou geheim?
Uiters doeltreffende tydsbestuur, roetine en konstantheid is die wenresep tot enige besige skedule. My dag word presies ingedeel volgens die pligte wat ek moet nakom. Dit maak dit ook baie makliker as jou studieleier/mentor, soos in my geval Prof Muriel Meiring, jou toekomsvisie en droom ondersteun.

Wat het die Atterbury Trust beurslening vir jou beteken?
Die beurslening het beteken dat ek die enigste een sover in my gesin is wat verder kon studeer. Dit het beteken dat ek aan myself en ander kon bewys dat as jy genoeg glo in jouself en jou droom, is daar altyd iemand wat jou harde werk en gedetermineerdheid raaksien. Niks in die lewe is onmoontlik nie. Hierdie beursprogram het my nie net befonds nie, maar het my ook die emosionele ondersteuning gegee om elke graad te voltooi. Jy is waarlik deel van ’n familie, mense wat bly glo in jou van die begin af, selfs wanneer jy twyfel in jouself. As vrou het ek die beste voorbeeld gehad van wat sukses en onafhanklikheid is in die Trust-span self. Ek kon ander studente ontmoet wat uit soortgelyke en selfs erger omstandighede kom as ek. Bo alles, het dit het my dankbaar gemaak in die diepste sin van die woord.

Hoekom dink jy is die beursprogram belangrik?
My en al die ander Trust studente se ervaringe en stories kan hoop gee aan soveel ander voornemende studente uit minderbevoorregte omstandighede met byvoorbeeld ’n enkel ouer soos in my geval. Dit kan die boodskap uitdra dat jyself jou grootste struikelblok is. Daar is werklik niks wat onmoontlik is as jy glo in jouself en jou droom nie. Ons as alumnae kan teruggee deur motiveringspraatjies waar ons ons storie met voornemende studente deel. Dit is belangrik dat matrikulante weet dat, mits jy hard werk, daar definitief hulp is om jou visie en droom uit te leef. Ons kan ook terugploeg deur finanseël  by te dra tot die Trustfonds, en so verseker dat die wonderlike werk van Atterbury Trust vir nog honderde jare kan voortgaan.

Vind Christie Blaauw Aesthetics op Facebook by www.facebook.com/christieblaauwaesthetics/  en vir ‘n afspraak, skakel 083 666 9191, of stuur epos na [email protected]

Die bydraes van ons groothartige skenkers maak dit vir die Atterbury Trust moontlik om jongmense soos Christie se visie te help realiseer. Dit is ons voorreg om die beursfonds te administreer, en ons verwelkom alle bydraes. Dis maklik om te skenk – kliek hier en word deel van die familie.