Met sy sentrale posisie in Lynnwood Bridge is Atterbury Teater nie net geliefd onder Pretoria se teatergangers nie; dit is ook ’n gewilde lokaal vir korporatiewe funksies, en met goeie rede. Ons hoor wat alles moontlik is by Jane van Litsenborgh, korporatiewe bestuurder en Stephnie Stander, eienaar van die teaterrestourant, Stephnies, die wenspan wat die teater gereeld in ’n korporatiewe konferensielokaal omskep.

Watter van die teater se unieke fasiliteite maak dit besonder geskik vir ’n korporatiewe funksie, en hoe is dit beter as baie ander lokale in die omgewing?
Die hoogstaande tegnologie ten opsigte van klank, beligting en beeld, saam met die dienste van ons hoogs gekwalifiseerde tegniese personeel, verseker voorleggings en funksies van ’n baie hoë gehalte.  Ons het ook ’n volledig toegeruste kroeg wat vir alle funksies oop is en wat unieke versoeke kan deurvoer; Stephnies Restaurant het direkte toegang tot die teater se voorportaal vir die vinnige bediening van warm kos; en natuurlik die baie gerieflike ligging naby die N1 Lynnwoodwegafrit, met hope veilige parkering en 24-uur sekuriteit. Die City Lodge hotel wat deel vorm van die Lynnwood Bridge ontwikkeling is ook baie gewild onder konferensiegangers sowel as kunstenaars wat by die teater optree.

Watter soort funksies werk goed hier, en hoe word die teater se uitleg benut? Hoeveel mense kan julle vir ’n konferensie akkommodeer?
Daar is twee tipe funksies wat veral uitstaan. Eerstens kan die teater omskep word in ’n korporatiewe aanbiedingslokaal deur die voorste skerm te laat sak, sodat voorleggings gemaklik aangebied kan word. Met hierdie tipe funksie kan ons 400 gaste akkommodeer in gemaklike stoele in ’n lugverkoelde teater. Die voorste paar rye stoele is ook toegerus met ’n opslaanskryfblad. Hiermee saam kan vingeretes vir 400 gaste in die voorportaal aangebied word.

’n Funksie met ’n aansit-ete in die voorportaal is ook ’n opsie. Hiervoor kan ons tot 140 gaste gemaklik akkommodeer. Die teater kan gebruik word vir ’n vertoning gekombineer met iets soos prysoorhandigings of selfs toesprake. Kunstenaars wat teen voorkeurtariewe optree, kan ook deur bemiddeling van die teaterpersonnel gereël word.

Ons bou unieke funksies rondom die kliënt se behoeftes; deur die dag is dit meestal konferensie-styl en in die aand ’n aansit-ete of ’n skemerkelkiefunksie.

Vertel ons meer van die volledige pakket van wat Atterbury Teater aanbied vir konferensie-kliënte.
Ons het in die begin pakkette uitgewerk, maar gou agtergekom dat elke funksie sy eie spesiale behoeftes en begrotings het. Ons werk dus baie nou saam as ’n span om ’n spesiale voorstel uit te werk wat elke kliënt se behoeftes sowel as sy sak pas.

Kan julle groot en klein funksies (en begrotings) hanteer? Gee vir ons ’n voorbeeld van twee funksies wat verskillend was in terme van hoe hulle die teater benut het, en die kliënt se begroting, maar wat beide baie suksesvol was.
Ons kan verskeie begrotings hanteer, en ons bou ’n funksie rondom die kliënt se behoeftes, doelwitte en en natuurlik begroting. Konferensiefunksies se begrotings is gewoonlik kleiner en hulle benodig net die basiese toerusting in die teater en ’n vingerete vir hul gaste na afloop van die funksie. ’n Voorbeeld hiervan is Sanlam Private Wealth wat tot twee keer jaarliks die teater gebruik om hul kliënte op hoogte te bring van veranderings en om nuwe inligting met hulle te deel. Hulle gebruik ons korporatiewe opset waar die voorste skerm gesak word en ’n voorlegging aangebied word. Agterna beweeg almal uit na die foyer in waar daar heerlike ligte etes vir hulle bedien word.

Aansit-etes met ’n spesiale vertoning in die teater se begrotings is groter, soos ons jaarlikse funksie saam met Deloitte, waar daar gedek word vir 120 gaste. Die gaste kry verwelkomingsdrankies en happies met aankoms; en daar word ’n unieke voorgereg, hoofgereg en nagereg vir hulle geskep volgens hul vooruitsig en versoeke. Elke jaar word ’n doelgemaakte spyskaart vir hul gebou om dit ’n nuwe en spesiale ervaring te maak vir hul gaste. Hulle gebruik die teater vir toesprake asook ’n vertoning vir hul gaste deur die kunstenaar/s van hul keuse. Dis altyd ’n baie spesiale en stylvolle aand.

Dan is daar natuurlik die jaarlikse glansvertoning vir FNB, “Night of the Stars”, waar FNB hulle uitsoekkliënte trakteer met ‘n spesiale vertoning wat deur die Atterbury Teater aanmekaargesit word met ‘n hele aantal topkunstenaars op die verhoog en eet- en drinkgoed uit die boonste rakke in die foyer.

Daar is nie baie konferensielokale wat ’n volledig toegeruste restaurant gerieflik langsaan het om uitmundende spyseniering te verskaf nie… Wat is vir jou die geheim van suksesvolle konferensiespyseniering, Stephnie?
Die span in die kombuis van Stephnie’s is baie deeglik opgelei om hierdie tipe funksies te kan hanteer. As ons vir 400 mense bedien, beteken dit ons maak gemiddeld 400 x 6 = 2 400 items wat gelyk moet uitgaan, terwyl die restaurant steeds voluit moet hardloop. Die feit dat die kombuis slegs 10 treë van die teater is, maak ’n ongelooflike verskil. Dit gebeur soms dat die program skielik vroeër klaarmaak of iemand gaan dalk oor sy tyd tydens ’n konferensie. Ons is gewoonlik in kontak met die organiseerder van die funksie en kan sodoende die kos uitstuur wanneer hulle reg is, en nie die kos buite laat staan, om óf koud te word óf dalk uit te droog nie.

Watter terugvoering kry julle tipies van kliënte na afloop van ’n funksie in die teater?
Ons is gelukkig dat ons nog altyd net goeie terugvoering van kliënte gekry het! Die unieke fasiliteite wat ons tot ons beskikking het, help om enige funksie net daai stukkie beter te maak as wat mense tipies aan gewoond is met ’n korporatiewe funksie. Dit verleen ook dadelik ’n bietjie drama en styl aan ’n funksie as dit in ’n volledig toegeruste teater aangebied word, waar daar uit die aard van die saak moeite gedoen is met die ontwerp, die gemak, en die styl van die interieur.

Atterbury Teater webwerf
Klik hier om te besoek