Die wenners van die Hoe lyk jóú Afrikaans?-kompetisie is onlangs bekendgemaak, skryf Maroela Media op hulle webwerf

Daar is geskep, gevorm, foto’s geneem, video’s gemaak, gesing en gedans, en dit was duidelik: in Suid-Afrika lyk Afrikaans dikwels verskillend, maar daar is net één Afrikaans.

Meer as 1 200 inskrywings is uiteindelik vir die kompetisie ontvang.

Ingrid Erlank, redakteur van Afrikaans.com, het in ʼn verklaring gesê dat dit omtrent ‘n taai toffie was om wenners uit soveel uitstekende inskrywings te kies.

“Dit was behoorlik ’n stewige uitdaging en beoordelaars kon nie anders as om nog ’n verrassingsprys toe te ken nie,” het sy gesê. Die kriteria was eenvoudig: wees oorspronklik, trots, inklusief, relevant, kontemporêr, verkennend en bemagtigend.

Die groot wenner was Fanus Minnaar, ‘n vierdejaar onderwysstudent. Fanus sê Afrikaans is ons almal s’n: “’n Kaleidoskoop van kleure, maar tog kleurblind.” Vir Fanus is Afrikaans ’n lekker taal, want jy kan met hom speel en hom verander soos wat dit vir jou werk. Daarom moedig hy mense aan om saam te praat en trots te wees op hul Afrikaans-wees.

Kyk sy video hier (https://youtu.be/h9uHi3o41PY).

Kim Meissenheimer het die R5 000-verrassingsprys ontvang. Kim se Afrikaans is in haar bloed. Sy is 26 en kom van Leliefontein, ʼn plaasdorpie duskant Springbok. Hierdie Namakwalander se vuur vir Afrikaans is aangesteek op skool toe sy betower is deur die “kleurryke heerlikheid van Afrikaanse uitdrukkings en idiome”. Sy sê dit was vir haar so ʼn inspirasie dat sy huis toe is en begin het met navorsing.

Lees haar teksinskrywing hier http://www.afrikaans.com/wen/inskrywings?search=Kim+Meissenheimer+#sien-meer|60FCD05846784623A6C44FE89DE0B847

Lees alle vorige stories oor Afrikaans.com (http://maroelamedia.co.za/tag/afrikaans-com/) op Maroela Media. Besoek ook Afrikaans.com (http://www.afrikaans.com/) se webwerf.