Atterbury probeer met sy beursprogram om op ‘n sinvolle manier by te dra tot die ontwikkeling van die volgende generasie, en die huidige opvoedingskrisis en voortslepende ontwrigting op so baie kampusse bring die dringendheid van hierdie behoefte skerp in die kollig. Dit is deels hoekom die beurskomitee vanjaar meer beurse toegeken het as waarvoor begroot is, vertel Uitvoerende Trustee Zahn Hulme.

“Dit is nou meer as ooit tyd vir sakeleiers om op te staan en hulp aan te bied met regte leierskap en mediasievermoëns – dit was só ontbreek in ons huidige regering. Ons jeug het positiewe rolmodelle, mentorskap, asook die afdwing van morele waardes, net so nodig soos finansiële bystand. Elkeen van ons moet onsself afvra waar ons kan bydra om hierdie krisis te help oplos.”

Die blote gedagte dat universiteite vir ‘n hele akademiese jaar kan sluit is ondenkbaar, en sal rampspoedig wees, sê Hulme. “Net in ons klein Atterbury-sirkel het ons vanjaar meer as 50 studente wat op die punt is om te gradueer en aktief te begin deelneem aan die Suid-Afrikaanse ekonomie. Ons land kan nie bekostig dat ons universiteite sluit nie,” sê sy.

Die Atterbury Trust beurskomitee het vanjaar 75 beurse toegeken wat in 2017 sal inskop. “Ons het vanjaar soveel verdienstelike aansoeke gehad, van soveel jongmense met so baie talent, wilskrag en hart, dat ons net ‘n plan moes maak,” vertel Hulme. Die beursprogram is afhanklik van donasies van buite, en die behoefte groei jaarliks. Wat Atterbury se beursprogram besonders maak is dat die kandidate almal benewens hul akademiese dryfkrag ook gekeur word vir hul potensiaal om eendag ‘n bydrae te lewer in die gemeenskap. “Ons mentor die studente deurgaans, ons bied Gro-Life sessies aan, en ons help sover ons kan met advies en ondersteuning. Dit gaan vir ons oor meer as net goeie punte – ons wil waardevolle mense die wêreld instuur om ons land en ons ekonomie op die lang duur te bevoordeel,” sê Hulme.

Omdat Atterbury se beursstudente ondersteuning kry regdeur die stelsel, is die slaagsyfer uitstekend, wat ook die beursprogram aantreklik maak vir voornemende donateurs. En dit is geweldig belangrik, volgens Hulme, omdat die beursprogram swaar steun op die goedgunstigheid van talle weldoeners wat gereeld ‘n hand diep in die sak steek. “Mense wat donasies maak, het outomaties ‘n sê in die studierigting waarvoor hul skenking aangewend word, en ons vind dat hulle baie trots is op die prestasies van ons studente. Mense verwelkom die geleentheid wat hulle het om ‘n merkbare verskil te maak. Ons kry byvoorbeeld ook baie aansoeke van studente wat reeds begin swot het, en net hulp vra vir hul derde, of hul finale jaar, so die beurslas is nie so groot nie en die student het ook reeds sy of haar deursettingsvermoë bewys.”

Atterbury probeer ook sover moontlik sy sterk sakenetwerke gebruik om studente en moontlike werkgewers aan mekaar voor te stel, iets wat sy toenemend wil bou, volgens Hulme. “Ons maatskappy se sukses is te danke aan sterk mense, sterk netwerke en sterk verhoudings, en ons weet ons kan die studente wat deur ons beursprogram is met volle vertroue aan ons vennote bekendstel. Dis deel van ons plan om al meer bekendstellings te doen wat kan lei na vakansiewerk en internskappe, en hopelik later werksaanbiedinge. Dis is ‘n wen-wen situasie vir die studente, vir die ondernemings, en op die ou end, vir ons land se ekonomie.”

Bydraes tot die Atterbury Trust beursfonds is broodnodig en baie welkom. Om by te dra, kliek hier. Om uit te vind hoe jou maatskappy ‘n gepaste Atterburystudent vir internskap of vakansiewerk kan bespreek, kontak [email protected] of [email protected].

Vinnige 2017 beursfeite:

  • 75 nuwe studente in totaal
  • 30 studente wat reeds op eie stoom begin swot het
  • 34 manlike en 41 vroulike studente
  • BSc en MBCHB is die gewildste studierigtings met 22 studente
  • 13 studente wil ingenieurs word
  • 13 studente het ‘n passie vir onderwys
  • 25 by Tukkies, waar die meeste van hulle gaan swot
  • 12 by NWU
  • 8 by Stellenbosch