Atterbury Trust is ’n groot voorstaander van die bemagtiging van die private sektor om self in te spring en reg te maak wat verkeerd is in die samelewing, eerder as om vir die owerhede te wag om dit te doen. Dit is dus met groot plesier wat ons vanjaar as teaterborg bydra tot Nation Builder se vierde jaarlikse In Good Company-konferensie in Augustus. Die konferensie is daarop gemik om ondernemings te help met innoverende planne en kreatiewe nuwe maniere om sake te doen, en terselfdertyd sosiale probleme in die samelewing te verlig. Ons het gesels met Keri-Leigh Paschal, Uitvoerende Direkteur van Nation Builder, om meer agtergrond te kry.

Vertel ons meer van Nation Builder?
Ons glo dat sosiale ontwikkeling die heel beste kans op sukses het as sake-ondernemings, gemeenskappe, die burgerlike samelewing en die regering saamwerk. Nation Builder is ‘n platform wat al hierdie verskillende rolspelers bymekaarbring om saam ‘n groter impak te hê. Maatskappye weet nie altyd hoe om te meet of hulle korporatiewe sosiale verantwoordelikheidswerk werklik ‘n verskil maak nie, en dit is presies waar Nation Builder kan help. In samewerking met ons netwerk van kenners en leiers in die veld, het ons hulpbronne en metodiek ontwikkel, asook ‘n aanlyn-gemeenskap geskep wat maatskappye bemagtig om die effektiwiteit en volhoubaarheid van hulle sosiale verantwoordelikheid te evalueer, potensiële verbeteringe te identifiseer en te implementeer. Soos ondernemings saamspan en kennis deel en van mekaar leer, vorm ons ‘n sakegemeenskap wat toenemend ‘n positiewe impak het op nasiebou, tot almal in Suid Afrika se voordeel.

Watter soort maatskappye is deel van die Nation Builder netwerk?
Verskeie sektore is betrokke, van klein-tot-mediumgrootte, tot multinasionale organisasies.  Almal wat hulle besighede wil gebruik om ‘n positewe impak te maak in Suid-Afrika sal aanklank vind. Soos wat een van ons lede, Koos de la Rey van Oasis Water, sê: “Nation Builder bied ’n platform vir interaksie met ander sakeleiers wat jou visie deel om sosiale impak te hê en positiewe verandering in Suid-Afrika teweeg te bring. Kapitalisme het ’n gewete nodig en hier is ’n groep mense wat daardie gewete deel. Ek is trots om deel van hierdie netwerk te wees.”

Dis die vierde keer dat hierdie konferensie plaasvind, reg? Is daar ‘n spesifieke tema vir 2018?
Die tema vir vanjaar se konferensie is “South Africa Matters”. Sakeleiers uit verskillende dissiplines neem deel. Die gesprekke sal oorspronklike, eg-Suid-Afrikaanse idees ondersoek om plaaslike uitdagings op kreatiewe en volhoubare maniere op te los. Groot en klein ondernemings met dieselfde visie, wat graag die leiding wil neem om sosiale verandering in Suid-Afrika te bewerkstellig, sal op die dag bymekaargebring word.

Kan jy ons ’n voorsmakie gee van wie ons te hore sal kry?
Ons is baie opgewonde oor die gehalte en die uiteenlopendheid van vanjaar se sprekers:

  • Bonang Mohale, die hoof uitvoerende beampte van Business Leadership South Africa (BLSA)
  • Dr Graeme Codrington, stigtersdirekteur van TomorrowToday
  • Mark Sham, die stigter en hoof uitvoerende beampte van Suits & Sneakers en die Impello Incubation Hub
  • Carolin Gomulia, ‘n senior programhoof van die Institute for Justice and Reconciliation
  • Brent Lindeque van Good Things Guy
  • Nonhlanhla Joye, die sosiale entrepreneur en stigter van Umgibe Farming Organics
  • Samantha Jack, biochemikus, fisioloog en die medestigter van Endoki
  • Dokter Michael Mol, mediese dokter, TV vervaardiger en die stigtersdirekteur van Hello Doctor

Waar en presies wanneer vind die konferensie plaas?
Danksy die groothartigheid van Atterbury Trust bied ons In Good Company vanjaar in die Atterbury Teater aan, wat ’n fantastiese lokaal vir ‘n konferensie is. Dit vind plaas op Dinsdag 21 Augustus. Ons borge is Mergon, King Price Insurance, Brand South Africa en Stone Strategy Communication and Consulting.

Vind meer uit oor die sprekers op http://www.proudnationbuilder.co.za/speakers, en koop kaartjies hier: https://www.quicket.co.za/events/46599-nation-builder-in-good-company-conference-south-africa-matters/?lc=89986615