Helen Zille: steeds strydgereed

Helen Zille: steeds strydgereed

“Is daar iets soos ’n eerlike politikus?” vra Suné van Heerden haarself af terwyl sy Helen Zille se outobiografie lees ter voorbereiding vir ’n onderhoud met die voormalige DA leier vir Maroela Media se webwerf.

Soos ek Not without a Fight lees, voel dit vir my of daar om elke hoek en draai iemand in ʼn hoë pos is wat vir sy eie selfsugtige gewin daar beland het.

“Ek gaan die waarheid vertel, ek gaan nie doekies omdraai nie,” het Zille aan Penguin Random House, die uitgewers van haar outobiografie, gesê toe hulle haar in 2015 genader het om die boek te skryf. “My idee was om eers die boek aan te pak wanneer ek in 2019 uittree as premier van die Wes-Kaap, maar hulle het daarop aangedring dat die tyd ryp is om die boek te skryf. Ek het deeglik besef dit gaan moeilik wees, want ek werk nog saam met van die mense.”

Ek kuier die Donderdagoggend by haar in die kantoor. Dis ’n gemaklike gesprek, ons sit in ’n groot sitkamer op banke, soos ou vriende en kuier.

Ek het voorberei om die onderhoud in Engels te voer, maar sy dring aan op Afrikaans – en gesels in ʼn gemaklike, idiomatiese Afrikaans.

“Is daar nog iets soos ʼn eerlike politikus?” stel ek my vraag aan Zille. “Daar is baie van ons,” antwoord sy, maar bevestig die politiek is definitief nie vir iemand wat naïef is nie. “Ek verwag altyd dat mense eerbaar gaan wees, dis hoe ek grootgemaak is.”

Toetrede tot die politiek
Zille se outobiografie begin met ʼn aangrypende familiegeskiedenis – van haar ouma wat uit Nazi-Duitsland kon ontsnap tot familielede in die buiteland van wie sy nooit eens geweet het nie.

Toe DP leier Tony Leon haar in 1998 genader het om die politiek te betree, vir ʼn moontlikheid om ʼn setel in die provinsiale wetgewer te beklee, was Zille se ma sterk daarteen gekant en het vir haar gesê: “Jy is gans te sensitief om in die politiek te wees.” “Nie meer nie,” het Zille geantwoord.

Dié outobiografie lees nie maklik nie. Jy moet konsentreer en fokus – bloot omdat dit so volgepak is met feite. Dis duidelik Zille was ’n joernalis. Die boek is insiggewend, sy speel oop kaarte, en sy kan alles wat sy skryf, met bewyse staaf.

Politici probeer graag hul eie beuel blaas in só outobiografie, maar Zille is eerlik oor haarself en die pad wat sy geloop het. Sy deel persoonlike staaltjies, met ʼn goeie skeut humor en skroom nie om die sluier te lig oor dit wat agter die skerms aangaan nie.

Sy vertel van die opdraande stryd toe sy aanvanklik in die DA begin opgang maak het. Dis duidelik dat Tony Leon destyds bedreig gevoel het deur dié dinamiese vrou. “Ons het koppe gestamp, en nie altyd oor goed saamgestem nie en hy het my teengestaan as leier van die party.” Maar in die boek is dit duidelik hoe die verhouding verbeter het. “Ek eer hom vir die deurbrake wat hy gemaak het vir die party. Hy was ’n goeie leier.”

Nie sonder ’n stryd nie
Zille skerts in die boek oor die titels wat Twitter-gebruikers voorgestel het, waaronder To Helen Back, Twar and Peace, From Godzille to Vuvuzille en Zille: No Vanilla. Maar dit was haar man, Johann Maree, wat met die uiteindelike titel vorendag gekom het. Een aand, terwyl hulle na die Skandinawiese politieke drama Borgen sit en kyk, sê van die karakters aan ʼn vrouepolitikus: “Dis nie soos jy om sonder ʼn stryd op te gee nie.” Johann het na sy vrou gedraai en gesê: “Dis iets wat ek van jou ook sou kon sê. Ek dink die titel van jou boek moet wees – Not Without a Fight.”

En dis baie duidelik dat Zille hard moes baklei en nog harder moes werk en soms haar eie lewe op die spel moes plaas om dit te behaal wat sy uiteindelik reggekry het.

Sy verduidelik aangrypend in die boek hoe sy en die eerste DA-ondersteuners in die Wes-Kaap aanvanklik deurgeloop het onder dreigemente van ander partye en hoe die kiesers soms ná vals bewerings in die tronk gegooi is of daar gedreig is dat hul huise afgebrand sou word.

Sy skryf hoe sy in die aande met haar klein Opel in Khayelitsha en Langa moes inry om die DA-ondersteuners by te staan, omdat die polisie nie wou ingryp nie. Volgens die polisiebeamptes was dit die DA wat “soek vir moeilikheid”, omdat hulle in ʼn ANC-gebied ʼn ander party wou ondersteun.

Dis moeilik om te dink, in die lig van die DA se wegholsukses tydens die plaaslike-regeringsverkiesing in 2016, dat die party in 2001 slegs 300 lede in die Langa-tak gehad het. Dit was deurgaans ʼn opdraande stryd in die N2-kiesafdeling.

“Hoe het jy kans gesien om dit te doen? Wat was jou motivering?” wil ek by haar weet.

“Dit was my werk,” antwoord sy half nonchalant. “Dit was my werk om takke te stig in die Wes-Kaap, en ek het dit gedoen, wat dit ook al geverg het.”

Ek skud my kop in ongeloof. “Baie mense sou omgedraai het, nie kans gesien het nie.” “Ek het ʼn pligsbesef gehad,” sê sy. “En as jou lede gedreig word, moet jy as kiesafdelingshoof daar wees om hulle te beskerm.”

Hartsake
Uit haar vertelling is dit baie duidelik Zille is ʼn werkoholis. Sy het soms 3vm opgestaan om met haar dagtaak te begin en het laataand nog in die bed sit en werk – veral toe sy leier van die DA en premier van die Wes-Kaap was.

“Mens voel altyd skuldig oor jou gesin wat jy afgeskeep het, maar ek het vandag ʼn baie goeie verhouding met my twee seuns; hulle neem my nie kwalik nie,” vertel sy van haar twee seuns, Paul (32) en Thomas (27). “Hulle is twee ongelooflike jong mans. My huwelik en my familie is bankvas. Al is ek spyt oor goed, het dit ons eerder sterker gemaak, dit het nie letsels gelaat nie. Hulle weet ek het altyd my bes gedoen.” Zille besing ook die lof van haar skoondogter, Gretl.

Hoe ontspan ʼn werkoholis? “Tyd saam met my seuns. Selfs toe hulle klein was, om met hulle tyd te kon spandeer op pad skool toe en terug. Of in die tyd wat ek 3vm opgestaan het om werk toe te gaan, en my seun dan eers by die huis gekom het nadat hy musiek gemaak het iewers. Dan skink ek ʼn koppie tee, en hy kry iets om te eet en ons gesels net eers. Dit is die maaltye saam met die gesin, die onverwagse oomblikke waar mens heeltemal ontspan.”

Lees die res van hierdie lekker onderhoud, en Zille se opinies oor sake soos #FeesMustFall, die EFF en Julius Malema, op Maroela Media. http://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/helen-zille-die-stryd-duur-voort/

Leave a Reply

%d bloggers like this: