Hanna Charity hou elke week in spesifieke behoeftige areas sopkombuise. Mense maak dan beurte om kos te kom haal want as ons almal elke keer moes kos gee sou ons uitgawes R280 000 net vir kos elke maand wees. Een maal ‘n jaar hou ons egter ‘n massa sopkombuis. Dan word daar tot 4000 mense in een area op ‘n slag ‘n maaltyd, kospakkie en tweedehandse klere gegee. Oor Kerstyd word geskenke gegee en daar is gewoonlik vermaak en aktiwiteite vir die kinders.

Hierdie jaar het ons organisasie besluit om nuwe onderklere vir die behoeftige mense van Wesford en Elandspoort te gee. Dit is ‘n noodsaaklikheid aangesien hierdie mense nie onderklere het nie. Maar die borgskappe wat ons per massa sopkombuis ontvang bepaal wat ons kan gee, omdat ons fondse ontsettend beperk is.

Hierdie jaar het ‘n borgskap beloftes gemaak en toe skielik kon hulle net ‘n klein gedeelte bybring. Daar was egter toe reeds name opgeskryf en dus beloftes aan die gemeenskap gemaak. Ons moes dringend planne beraam sodat ons nie die gemeenskap se vertroue wat ons deur jare opgebou het verloor nie.

GROOTfm 90.5 het tot ons redding gekom en op 14 Oktober is daar ‘n TELETHON ten bate van Hanna Charity gehou. Mense het ingebel en R700 000 se ‘pledges’ is gemaak. Hanna Charity het die volgende dag China Town ingevaar en massa onderklere gaan koop. As gevolg van GROOTfm 90.5 se hulp kon ons op 17 Oktober vir elke persoon in Elandspoort en Wesford nuwe onderklere gee! Die mense was ongelooflik dankbaar. Daar is ook natuurlik kos, klere, koeldrank ens uitgedeel.

Ons uitgawes per maand is astronomies agv al die werkskepping en dienste wat op ‘n permanente basis aan die gemeenskappe verskaf word. Ons is 100% afhanklik van donateurs en daarom ontsettend dankbaar vir die geld wat GROOTfm 90.5 ingesamel het en kon ons darem hierdie maand die GROOT verskil maak in hierdie behoeftige mense se lewens wat dit so bitter nodig het en met wie ons al jare lank ‘n pad stap.

Hanna Grobler

Hanna Charity & Empowerment Foundation

083 571 3299/012 348 3534

[email protected]

hanna