Sommer net ‘n vinnige briefie met ‘n bietjie terugvoer en ‘n reuse dankie aan Jula van Triomf Kliniek en ons vriende van Specsavers, Annette, Cecile en Herman, wie Vrydag op Wêreld Sig Dag die gemeenskap van Pretoria Wes by die Triomf Kliniek op ‘n baie praktiese manier gedien het!

Wereld Sig Dag 2014Die oogkundige, Herman het tussen 09:00 en 12:00 screenings gedoen en raad gegee aan die 12 mense wie reeds die afgelope maande op ‘n waglys was by die kliniek.  Daar was ook 2 persone van die Margaretha Ackerman Tehuis en alhoewel die kleuters van Beyersbytjies genooi is, vermoed ons die skoolvakansie het vervoer na die kliniek vir die kleinspan en hulle ouers bemoeilik.  Ceclie en Annette is besig om vir ons ‘n kort verslag saam te stel, maar intussen het dit my opgeval dat net 1 persoon nie ‘n diabeet is nie.  Een vrou wag reeds 2 jaar vir toelating by ‘n hospitaal, maar moet R500 neersit voor hulle haar sal sien en ‘n stukkie goeie nuus is dat ‘n briefie van ‘n behoeftige ma waarin sy hulp vra vir haar 6 jarige dogtertjie se bril voor sy in Januarie vir ‘n oogoperasie moet gaan, sommer deel vorm van Specsavers se “Kids right to good sight” veldtog wat enige dag vir enige kind van 6 – 12 jaar oud ‘n gratis oogtoets, raam en 2 lense gee!

Ons is opreg dankbaar vir almal se opoffering, tyd en moeite – baie, baie dankie – en ek is versigtig “optom”isties dat ons dalk weer so iets kan aanpak in die toekoms – daar is verseker groot behoefte!