Atterbury se mediavriende GROOTfm 90.5 het onlangs ’n kompetisie geloods om eer te bring aan die wonderlike onderwysers wat generasies van kinders se lewens help vorm. Lindie Strydom vertel meer

Waar kom die idee vandaan?
Almal wat ooit in ’n skool was, ken ’n maak- of breek- onderwyser, en ek het ook so iemand gehad in Juffrou Martie, my dramajuffrou op Hoërskool Framesby. Ek was in Graad 10 en’n groot Egoli-kyker, toe so ’n jong outjie die rol van Stephen begin speel het. Net daar het ek vir almal wat wou luister vertel dat ek eendag in Egoli gaan speel en nie sommer nie, ek gaan Stephen se meisie speel. Dit was my droom! In my Graad 11-jaar was ek een aand by ’n dramakompetisie in Pretoria, en toe kom sê Juffrou Martie vir my dat een van die regisseurs van Egoli daar is. En sy stoot my tot langs die “oom van Egoli” om myself voor te stel. As dit nie vir Juffrou Martie was nie, het ek sekerlik nie vir 12 jaar lank in Egoli gespeel nie, en nogal agt jaar daarvan as die einste Stephen Edwards se vrou! Dis om eer te bring aan sulke onderwysers, en die groot rol wat hulle in ons kinders se lewens speel, dat ons op die idee gekom het om ’n Onderwyser van die Jaar aan te wys. Dit was mos juis op 5 Oktober Internasionale Onderwyserdag.

Vertel ons van die proses?
Ons het ons luisteraars die kans gegee om hul top onnies te nomineer, en daardie nominasiebriefies was net ongelooflik. Al kon net een onderwyser die prys wen, is soveel pragtige positiewe stories gehoor, en soveel mense se wonderlike werk het die erkenning gekry wat dit so verdien. ’n Paneel by GROOTfm 90.5 het die top 10 aangewys, deur elk hul gunsteling-nominasie te kies, en die wenner is uit daardie 10 getrek.

Wie het op die ou end gewen?
Daar was so baie stories, maar die uiteindelike wenner van die prys as die Onderwyser van die Jaar – 2015 was Juffrou Lizette Wasserman van Laerskool Pretoria-Oos. Wat uitgestaan het van Lizette, is dat sy al letterlik haar lewe lank in die onderwys is, en totaal toegewyd aan die kinders en haar taak. Sy gee al 37 jaar skool! Sy glo jy moet baie lief wees vir kinders as jy in onderwys wil werk, en sê ’n goeie onderwyser moet bereid wees om elke keer weer van voor af te begin, altyd ’n alternatiewe plan of idee kry, nederig wees en te wil dien.  Die belangrikste vir haar is die kind. Die kind moet sentraal bly en dit is ’n onderwyser se taak om die kinders te dien.

Deur wie is sy genomineer?
Deur die ma van een van haar leerlinge – sy het soveel lof vir Juffrou Lizette gehad, dit was duidelik sy maak beslis ’n verskil in haar leerlinge se lewens. Hier is die nominasiebriefie:

Lizette Wasserman van Laerskool Pretoria-Oos is die beste wat ek al teëgekom het. Sy hanteer elke kind met soveel respek en het nooit nodig om enige dissiplinêre aksies uit te voer nie, aangesien die kinders nooit stout is in haar klas nie.

Sy deel haar kennis in haar vakgebied (Afrikaans) met soveel entoesiasme en passie. Lizette het onlangs waargeneem in Geografie en my seun in Graad 6 het aan haar lippe gehang. Dit was sy swakste vak, na een maand in

Lizette se klas is dit nou sy beste vak. Geen tegnologie is gebruik nie, net kennis en opgewondenheid oor die kinders en hulle welstand.

Sy behoort seker binne die volgende vyf jaar af te tree, maar dit gaan moeilik wees om iemand van haar kaliber maklik te vind.

Sy sal ’n waardige draer van die prys wees!

Behalwe die toekenning, wat was die wen-onnie se prys?
Sy het ’n lekker klomp pryse gewen danksy ons vrygewige borge: ’n kursus van Continuing Education ter waarde van R5 000;  ’n lekker wegglip-bederf by enige van die TradeUnipoint.com selfsorg oorde, ’n R5 000 PNA-geskenkbewys en speelgoed ter waarde van R5 000 by Toy Adventures wat sy kan skenk aan ’n liefdadigheidsorganisasie van haar keuse.

Uit die mond van die Juffrou Lizette:
“Al gaan jy deur soveel metodes of tegnieke, kry mens maar die vreugde deur die kind wat sentraal bly. Ek het deur die jare geleer dat dit nie soveel saak maak wat jy vir die kind sê of doen of leer nie, dit is hoé jy die kind in jou klas laat voel het, wat die grootste rol speel. Elke kind is uniek en by elke kind kan jy self iets leer. Dis wat lekker is – dis nie net ek wat die onderrig gee nie… ek leer elke keer by die kinders.


 

Nog nominasiebriefies wat die paneel se harte geraak het:

Nominasie vir Juffrou Venamari Coetzee
 “As onderwys jou roeping is, dan sien jy raak dat daar ’n seun in jou klas is wie se klere in die begin van die week skoon is, soos wat die week verloop sien jy dat Maandag se skoon nou nie meer skoon is of ruik nie, jy sien ander kinders in die klas vermy die betrokke kind…en jy weet hier sal jy vandag meer aandag moet gee as bloot ’n les in Afrikaans. 

Jy vind uit:  “Juffrou ek het net een stel klere ek was dit self naweke, maar Woensdag is dit weer vuil as ek dit dan was word dit nie droog en dit is waarom ek soms nie skool toe te kom nie, Juffrou.”
Dan omdat onderwys jou roeping is gaan koop jy drie stelle klere, jy neem dit huis toe om die broeke korter te maak en jy gee dit vir hom die volgende dag  met die boodskap “Nou hoef jy nie met net een stel klere oor die weg te kom nie”.

Omdat onderwys jou roeping is kyk jy tot diep in die siel van ’n kind wie se oë nie meer lewe nie en jy vind uit: “Juffrou, toe ek Vrydag by die huis kom, was die sleutel vir my op die vensterbank gelos – my ouers het besluit om te trek en vir hulle was dit nie nodig om vir my te wag nie!”  Dan weet jy, want onderwys is jou roeping, dat jy hier vandag meer moet doen as bloot net ’n les oor Afrikaans aanbied.

Jou hart breek in duisende stukke oor ’n pragtige meisie wat nog Vrydag in jou klas gesit het, Saterdag nog netbal gespeel het Sondag onverklaarbaar siek geword en Maandag was haar sitplek leeg.

Dit is ook net jou roeping en jou geloof in God wat jou staande hou wanneer jy met trots en passie jou leerders motiveer om elkeen hul eie unieke potensiaal te bereik en jy sien dat daar leerders is wat net nie meer omgee wat van hul word nie, jou dissipline uitdaag, die klas wil ontwrig en jy soms kosbare tyd moet afstaan om “belhamels” te bestuur en onder beheer te bring… kosbare tyd is verlore vir die kinders wat wel toevanklik is om te leer.

As onderwys jou roeping is, kom jy agter dat die siek, tenger meisie wat alleenlik met hulp van suurstof oorleef  deesdae min klas bywoon… En jy vra en jy hoor, “Juffrou, die longmasjien kort ’n battery, sonder dit sukkel ek baie.” 

En omdat jy jou beroep as ’n roeping ervaar bel jy rond en kry met die hulp van Helpende Hand ’n battery. 

Omdat ek vir my dogter omgee, sy wat haar roeping onder moeilike maar uiterste vervullende omstandighede in die onderwys uitleef, sien ek die eise wat haar roeping verg. Ek praat moed in, gee raad, help waar ek kan, maar bowenal dra ek haar en die ander wonderlike onderwysers en elke leerder op aan Vader God. As ’n moeder van ’n dogter wat onderwys met passie en haar roeping uitleef eer en salueer ek vir Venamari Arnel Strauss Coetzee vir haar deursettingsvermoë, omgee en betrokkenheid om kinders toe te rus met kennis wat ewigheidswaarde het.”

Nominasie vir Juffrou Corinne Human
“’n Paar jaar gelede begin Juffrou Corinne Human by ALMA skool en onmiddellik het die sonskynkinders in haar hart gekruip.

Die meeste leerders is verstandelik en liggaamlik gestrem, maar met ywer en lewenslus skort daar niks. Met ’n sportagtergrond en liefde vir sport vra Corinne waarom daar nie sport by die skool aangebied word nie? Daar is wel fisio- en arbeidsterapeute, maar geen sport nie. Met die hoof se huiwerige toestemming word daar toe met sport begin en vandag neem ALMA deel aan die interskole sport vir LSEN skole. Daar is atletiek, sokker, krieket, karate, golf, netbal en nog meer, en te veel kinders wat wil deelneem aan alles.

Corinne het nie net een leerder geraak nie maar baie, baie gestremde kinders laat voel dat hulle ook kan deelneem aan ’n normale samelewing se doen en late deur n sport te kan beoefen. Hulle neem nie net deel om te presteer nie maar neem deel want hulle kan en hulle wil.”