GROOTfm 90.5 se Hoop-stootprojek het ten doel om iemand wat reeds ‘n poging aanwend om sy/haar omstandighede te verbeter, te ondersteun deur die nodige hupstoot, of te wel “hoop-stoot” te gee.

Die projek word op GROOTfm 90.5 se klankgolwe gedryf deur die persoon se inspirerende storie met luisteraars te deel en dan ook die goeie nuus van “iemand” wat die laaste deel gaan bydra om die droom of mikpunt te behaal! Die projek beklemtoon die belangrikheid van selfhelp as voorwaarde vir hulpverlening.

Hier is ‘n voorbeeld:

Die reaksie wat ons by GROOTfm 90.5 gekry het op Vrydagoggend 23 Mei, het die span totaal en al verras en amper onkant gevang.  Die aanvanklike versoek wat ons van Theresa en Dennis ontvang het was hulp met Francko se skoolfonds tot die einde van die jaar – ‘n stewige bedrag van R35 000 “Maar enige bydra is welkom, elke bietjie help,” was Theresa se woorde.

GROOTfm 90.5 het saam met Caring Daisies R20 000 hiervan bymekaar gemaak en was so opgewonde om dit te kan gee.  Die De Kock gesin se opregte dankbaarheid het ons almal twee-drie keer laat sluk.  Om 07:45 het ons op lug gesê ons kort R15 000 voor 09:00.  Ons was nog besig om te praat toe die eerste annonieme SMS vir R30 000 inkom en daarna het die mense net eenvoudig nie ophou gee nie.

Interessant genoeg was dit nie groot maatskappye nie, maar die gewone mense en individue en tot kinders wat hulle sakgeld gegee het.  GROOTfm 90.5 kon ‘n totaal van R90 000 in minder as ‘n uur insamel!  Hiermee kon ons Francko se skool- en busgeld en sy Hydro Therapy sessies tot die einde van 2014 betaal.  Al sy skoolbenodigdhede soos ‘n spesiale rekenaar, iPad, spesiale muis en rekenaar programme en skooluniform is betaal asook geskenkbewyse vir klere en toiletware is gegee.  ‘n Totaal van R60 960 is ingesamel.

Die oorblywende geld het die De Kock gesin gevoel wil hulle gebruik om ander kinders in Pathways te help.  ‘n Besonderse gebaar wat die hoop-stoot ‘n verdere hupstoot gee vir ander kinders soos Francko.

‘n Gesin het saamgetrek en saamgewerk en saam opofferings gemaak vir hulle seun en boetie, Francko.

‘n Gemeente het dit raakgesien en saamgetrek en saamgewerk en saam opofferings gemaak vir Francko en sy gesin en op 23 Mei 2014 is ‘n gemeenskap geinspireer deur hierdie gesin en gemeente se voorbeeld en het hulle saamgetrek en saamgewerk en saam opofferings gemaak vir Francko, sy gesin en sy gemeente!  Francko bring mense bymekaar en hy het ons lewens verander en verryk – vir altyd!

[gdlr_styled_box content_color=”#ffffff” background_color=”#88b9ed” corner_color=”#00438b” ]Luister na die onderhoud met Zahn Hulme

[/gdlr_styled_box]