Dis net mooi ’n maand sedert GROOTfm uitgebrei het na die kassie toe, met Die GROOT Ontbyt op Kyknet. Hierdie hibriedresep tussen radio en televisie is werklik ’n wêreldeerste en ons gesels met die vervaardiger Riaan Grobler oor hoe dinge agter die skerms gaan…

Hoe was die eerste maand?
Dit was werklik interessant, maar ook baie uitdagend.  Niemand het regtig geweet presies hoe die program in realiteit gaan werk nie en vanaf die eerste episode kon ons dadelik agter kom wat werk en wat doen nie…

Hoe lyk die terugvoering?  
Tot dusver baie goeie en positiewe terugvoering.  Die kyker en radioluisteraar geniet die program en dit is lekker om van oral uit Suid-Afrika terugvoer te kry. Ons kan sien, veral met die kookinsetsel met ons Griekse Sjef Dino, dat die kykers dit geweldig geniet.

Wat is Die GROOT Ontbyt se formule? Wat is julle ideale storie?
Die formule is dat radio en TV ontmoet en om daardie resep reg te kry is nogals ’n storie.  Ons inhoud moet kan werk vir radio en TV en die tegniese uitdaging om dit op altwee mediums te laat werk, is nie kinderspeletjies nie. Ons moet kyk na nuus, weer, verkeer en uiteraard na goeie aktuele stories wat relevant tot die kyker en luisteraar is en ook vermaak daarby gooi.

Wie verdien die “Omroeper van die Maand”- prys vir die eerste maand? 
Dit sal net verkeerd wees om een spesifieke aanbieder of omroeper uit te sonder.  Johrné, Nadia, Hendri, Elsa en Rouchelle het hulle staal gewys hierdie maand.  Dit was vir almal ’n uitdaging en ‘n splinternuwe ervaring en elkeen het hulle baie goed van hulle taak gekwyt.

Hulle sê mos maklik van iemand dat hy ’n gesig vir radio het… moes julle vreeslik tooi en mooimaak en begin skeer? 
Nie regtig nie – aangesien al die aanbieders reeds TV ondervinding het en reeds met TV doenig is.  Johrné het reeds vir ‘n hele paar jaar “Gons” aangebied, Nadia het geen bekendstelling nodig met “Boer soek ‘n Vrou” nie, Hendri was in “As Jy Sing” en ook gas-aanbi van “Bravo!” op verskeiegeleenthede.  Elsa was voorheen ‘n nuusleser by eTV Sunrise.  Al die die aanbieders het dus wel goeie ervaring en was reeds bekend met die TV medium… en komaan, hulle is pragtig en aantreklik, met persoonlikheid!

Behalwe dit, wat was die grootste aanpassing om te gaan van radio na televisie? 
Om die radioprogram met die TV te “trou” was die grootste uitdaging.  GROOTfm 90.5 is ‘n musiekradiostasie en elke keer as daar musiek speel, moet daar iets op TV gebeur en dit is waar die grootste uitdaging lê.  Elke keer wanneer ‘n onderhoud byvoorbeeld op radio en TV is en aangaan op TV wanneer musiek op radio speel, moet die aanbieders kop hou dat dit vir die radio-luisteraar sin maak as hulle weer inval by die onderhoud.  Maar ons kry dit baie goed reg en die resep werk!

Wie was die lekkerste gaste sover? 
Daar was reeds ongelooflike lekker onderhoude, maar as ons iets moet uitsonder sal dit die gesprek met Attooh! se HUB, Wouter Snyman, wees.  Dit was verskriklik interessant en insiggewend.  Zelda la Grange se onderhoud in die tweede week wat ons op lug was, staan ook uit.  Die snaakste onderhoud was met Hykie Berg.  Hykie is ‘n besige gas en het vir Johrné ‘n paar keer onkant gevang…

Kan julle enige blapse met ons deel? Iets wat nie so lekker verloop het soos dit moes nie…? En hoe maak mens dan? 
Daar is geweldig baie wat agter die skerms gebeur, maar wat die kyker nie noodwendig sien nie.  Soos mikrofone wat vir die en of ander rede nie wil aan nie, maar op die laaste nippertjie tog wel aan kom. Op radio het Johrné al ‘n keer of wat die mikrofone aan gehou tydens liedjies wat speel en die onderhoud gaan aan op TV. Gelukkig lyk Johrné op die beste van tye of hy so ‘n bietjie geskrik het, so die kykers kom nie regtig die verskil agter nie!

Wat was die storie wat tot dusver die grootste reaksie uitgelok het? 
Ons het gefokus op kinders wat gebrand het toe klein Kaitlint da Costa onlangs in die nuus was en beswyk het aan haar wonde.  Ons het in die dag se program met Pippie Kruger se ma gesels en ook met  Dr Mia wat haar behandel het.  ‘n Kliniese sielkundige het ook ‘n draai kom maak en vir die kykers en luisteraars vertel hoe sulke trauma te hanteer. Die kykers en luisteraars se reaksie op die onderhoude was geweldig ondersteunend.

Die GROOT Ontbyt is weeksoggende op Kyknet, van 6-8vm.

GrootFM_nuus1