Al Atterbury se beursstudente word met die hand uitgesoek, so ons weet hulle is klaar uitblinkers, maar dis genoeg om die hart te laat huppel as ander organisasies hulle uitsonder! Vyf van ons beursstudente is verkies tot lid van die gesogte Golden Key International Honour Society, ‘n internasionaal-erkende organisasie wat toppresteerders plaaslik, en internasionaal verbind met goue geleenthede en netwerke.

Die vyfstuks is in goeie geselskap…verskeie top Suid-Afrikaners soos Aartsbiskop Desmond Tutu, Ryk Neethling, Patricia de Lille, regter Edwin Cameron en Francois Pienaar is erelede van die organisasie. Die vereniging fokus op akademiese prestasie, leierskapontwikkeling en gemeenskapsdiens en mens kan slegs op uitnodiging ‘n lid word. Die uitnodiging word dan ook gerig aan die top 15 persent van studente wat deur hulle universiteite aangewys word, regoor alle fakulteite. Lidmaatskap is lewenslank, en dit maak vir lede deure oop op ‘n verskeidenheid maniere.

As Golden Key-lede sal dié uitblinkers onder andere die kans kry om internasionale konferensies by te woon as deel van ‘n elite groep wie se akademiese prestasies internasionaal erken word, en hulle sal netwerk-geleenthede gebied word met ander studente, universiteitsleiers en korporatiewe vennote van die organisasie, wat baie deure kan oopmaak. Hulle kry ook toegang tot ‘n internasionale netwerk van universiteite en die lidmaatskap is oordraagbaar tussen universiteite. Hulle kan ook aansoek doen vir eksklusiewe toekennings en studiebeurse op internasionale vlak, en kry die kans om in gemeenskapsprojekte betrokke te raak, en voordeel te trek uit leierskapsontwikkelingsgeleenthede.

Michelle Janse van Vuuren, tweedejaar mediese student, UP
“Ek het eers onlangs vanjaar deel geword van Golden Key so dis alles nog nuut. Ek het nog nie die ander vier ontmoet nie, maar sien uit daarna om bande te bou. Met hulle, maar ook op nasionale en internasionale vlak. Ek is baie opgewonde om ‘n stempel op die wêreld af te druk saam met Golden Key.

“As ek ‘n gemeenskapsprojek moet kies, sal dit met skoolkinders te doen hê, ek sal graag wil bydra op een of ander manier om kinders te bemagtig.
“Oor 10 jaar sou ek graag, behalwe vir my eie gesin, ‘n hooggeagte geregistreede praktyk wou hê wat bestaan uit ‘n diversiteit van dokters in verskeie spesialiteite wat gefokus is om studente te help wat nie die geleentheid het om hulle drome te bewaarheid nie. Ek sou graag betrokke wou wees by ‘n beursprogram wat nie geslags- of ras-georiënteerd is nie en ook ‘n praktiese program waar studente eerstehandse ondervinding kan kry.”

Mandie Human, tweedejaar BCom Entrepreneurskap en ondernemingsbestuur, NWU
“Ek is die jongste van twee kinders en het matriek geskryf by Hoërskool Monument in Krugersdorp. Ek is van April 2015 lid van Golden Key. Al die nuwe lede van NWU het ‘n inlywingseremonie bygewoon waar ons mekaar kon leer ken en toekennings ontvang het. Omdat die lede so versprei is, kan ons nie gereeld byeenkom nie, so die Facebookblad word goed gebruik om inligting deur te gee oor geleenthede vir interaksie met mekaar.

“Vir my beteken die lidmaatskap dat ek die kans het om my netwerk te verbreed sodat ek goeie blootstelling kan kry met verskeie opsies vir werksgekeenthede. Ek het sopas aansoek gedoen om deel te wees van die Golden Key komitee by NWU, en as dit suksesvol is sal ek by gemeenskapsprojekte betrokke kan raak.

“Ek droom altyd groot. Drome wat egter nie in doelwitte omskep word nie, sal altyd slegs drome bly. Een van my doelwitte was om te kan studeer en ek is baie dankbaar vir Atterbury se beurslening wat hierdie droom werklikheid gemaak het.  Ek het ook baie groot toekomsdrome… soos om my MBA te verwerf en om die Hoof Uitvoerende Beampte van ‘n genoteerde maatskappy te word.

“Ek sien maklik potensiaal raak en stel baie belang in kommersiële en 
residensiële eiendomsontwikkeling. Dit sal wonderlik wees om eendag by ‘n maatskappy soos Atterbury te werk. Drome klink soms vergesog, maar stap-vir-stap doelwitte en geloof maak alles moontlik.

Anika Mostert, tweedejaar BCom, Ekonomie en risikobestuur, NWU

“Ek is in Worcester gebore, maar in Stilbaai langs die Kaapse kus grootgeword, en in aan Hoërskool Langenhoven gematrikuleer. Ek het een ouer broer.

“Ek is ook vanaf April lid van Golden Key, so daar was nog nie baie geleentheid om deel te neem aan alles wat die organisasie bied nie, maar ek sien baie uit, ek sal baie graag betrokke raak by die gemeenskapsprojekte hier in Potchefstroom.

“My hoop is dat my Golden Key betrokkenheid op die lang duur sal help met sake soos honneurskeuring en later werksaansoeke. Ek sien myself oor 10 jaar as ‘n suksesvolle sakevrou in groot maatskappy waar ek my passie vir risikobestuur en internasionale handel uitleef.

Ferdie Fourie, derdejaar, BCom Bedryfsielkunde en arbeidsverhoudinge, NWU
Ek is ook in April uitgenooi en was deel van die inhuldigings-seremonie op 26 Mei 2015.  Daar gebeur binne die volgende paar maande ‘n paar seminare waarna ek uitsien, veral sodat ek meer lede van die organisasie kan ontmoet. Ek hoop ook van die gemeenskapsprojekte gebeur in Potchefstroom sodat ek kan aansluit daarby.

Ek hoop om by die seminare ander lede te ontmoet wat in dieselfde rigting as ek studeer of werk, sodat ek vir myself kan geleenthede skep en kontakte opbou. Dit is ook ‘n ekstra prestasie om op my CV te plaas vir die dag as ek klaar gestudeer het en begin werk soek.

Waar sien ek myself oor 10 jaar? Wel, ek sal reeds ‘n pos in psigometrika hê by ‘n bedryfsielkundige firma. Ek sal ‘n meestersgraad hê, wat my op die ou end sal toelaat om my eie firma te stig. Teen dan hoop ek ook ek het reeds my eerste huis gekoop; en ek sal betrokke wees by NPO’s waar ek spesifiek minder-bevoorregte kinders sal help om hul potensiaal te toets, sodat hul ook ‘n sukses van hul lewens kan maak. Ek glo nie ek sal dan al begin het met ‘n familie, maar enige iets is moontlik oor 10 jaar!

Lorenza Lombaard, tweedejaar jaar B.Com GR Geoktrooieerde Rekenmeesterskap, NWU
“Ek is die oudste van twee kinders en is gebore in Pretoria, maar het in 2009 na Middelburg Mpumalanga verhuis waar ek my matriek geskryf het. Dis my eerste jaar in Golden Key, ek het op grond van my eerstejaarpunte die uitnodiging ontvang. Min van my klasmaats weet hiervan, maar my familie is baie trots!

“My eerste Golden Key werkswinkel gebeur op 5 September, waar ons sal leer hoe om ‘n CV saam te stel, en ook ontwikkeling in onderhoudsvaardighede, werkplek-etiket, leierskap en entrepreneurskap. Ek voel dat ek baie hierby sal baat en kan skuur en skaaf aan dele waaraan mens nie altyd aandag gee terwyl mens studeer nie.

“Golden Key het sulke inspirerende lede. By die inlywingseremonie in Mei het ek die vorige rektor van die NWU Potchefstroom kampus, Prof. Annette Combrink, ontmoet. Sy was een van die sprekers en is ‘n merkwaardige vrou wat in haar beroep al baie bereik het en boonop het sy ‘n baie goeie sin vir humor.

“Ek hoop dat die lidmaatskap toekomstige werkgewers en enigiemand wat eendag my CV lees sal laat besef dat dit oor baie meer gaan as net akademiese prestasie, maar dat dit ook beteken dat ek ‘n individu is wat op beide ‘n professionele en persoonlike vlak ontwikkel is en omgee oor die groter gemeenskap.

“Ek is reeds betrokke by gemeenskapsdiens en gemeenskapswerk in die koshuis, en het verlede jaar die voorreg gehad om saam “Feed a Child” te werk en te gaan kos en lekkers uitdeel rondom Kerstyd. Golden Key het ‘n “Teach Me 2” projek waar mens ander studente kan mentor, en ek stel baie belang daarin.

“Oor 10 jaar sien ek myself beslis in finansies en dalk moontlik belasting, aangesien ek dit as module baie geniet. My graad sal baie moontlike rigtings toelaat en ek glo dit sal met die tyd duidelik raak waarin ek sal spesialiseer. Ek sal graag ook ‘n Nagraadse Onderwysdiploma wil gedoen het en dan ekstra klasse in rekeningkunde, ekonomie en besigheidstudies gee by skole waar leerlinge nie daaraan blootgestel word nie of selfs net sukkel met daardie vakke. Ek wil graag mense inspireer om die beste van hulself en hul situasies te maak en daarom wil ek deel wees van organisasies wat tersiëre onderrig ondersteun, befonds en bevorder, want dis danksy so ‘n organisasiedat ek vandag die voorreg het om te studeer. Dankie, Atterbury.”