Op 1 Julie het die Velkankervereniging van Suid-Afrika ‘n inligtingsdag oor die brandende onderwerp van velkanker by die Atterbury Teater aangebied. Triomfkliniek se eie Dr Marc Roscher was betrokke. Ons het met hom en die hoofbedryfsbeampte van die Velkankervereniging, Theresa de Beer, gesels.

Die inligtingdag was vir mense in die mediese en velsorg professie, maar daar is ook velkankerondersoeke aangebied vir die publiek, reg? Was albei aspekte van die dag ‘n sukses?
TdB: Dis reg ja. Die dag was ‘n groot sukses, en ‘n wye verskeidenheid van betrokkenes in die velbedryf het dit bygewoon. Ons het as gasspreker die wêreldbekende dermatoloog Dr Lindsay Sewell gehad wat die gaste toegespreek het oor die heel nuutste behandelings vir velkanker kom toespreek het.

Luister hier na die onderhoud.

[gdlr_divider type=”solid” size=”100%” ]

Watter terugvoering was daar van die Velkankervereniging oor die afloop van die dag?
TdB: Almal wat deelgeneem het was baie gelukkig oor die blootstelling; dit was ‘n groot sukses. Dit was die eerste keer dat die inligtingsdag by die Atterbury Teater aangebied is, danksy Dr Roscher se betrokkenheid by Atterbury Trust en die Triomf Kliniek, en dit was uiters gerieflik. Lynnwood Bridge is so sentraal en naby aan alles en die Atterbury Teater se konferensiegeriewe en die professionaliteit van die personeel het alles maklik gemaak.

Wat is die brandpunte rondom velkanker op die oomblik? Watter nuwe verwikkelinge is by die lnligtingsdag bespreek?
Dr Roscher: Daar is tans nuwe middels op die mark wat werklik genesend kan wees vir dodelike kankers soos melanoom, asook onopereerbare basaalsel karsinoom. Hoe vroeër ‘n velkanker-pasiënt by ‘n dermatoloog kan uitkom, hoe beter – ‘n korrekte diagnose en die regte behandeling wat akkuraat geïmplementeer word, kan die wêreld se verskil maak. Dis so belangrik om jouself deeglik en gereeld te ondersoek vir velkanker, want dit is die een kanker wat met die blote oog sigbaar is. Ek wil regtig almal met ‘n vraag oor ‘n velkwessie aanmoedig om van die Velkankervereniging se gratis velondersoeke gebruik te maak – dit gebeur jaarliks op 1 September.

Hoe werk die gratis evaluasies, kan enigiemand gaan?
Dr Roscher: 1 September is Nasionale Velkankerbewustheidsdag, en velspesialiste van regoor die land bied gratis evaluasies aan. Die idee is om vroeë diagnose aan te moedig, omdat velkanker so behandelbaar is. Ek self is op dié dag in Durban by my kliniek beskikbaar hiervoor.

Bied Triomf Kliniek ook hierdie diens aan?
TdB: Ja, beslis, maak seker julle kom vir julle gratis evaluasies! Ons vind dat 1 September goed ondersteun word en elke jaar neem meer en meer mense deel. Ons het digitale kaartjies wat regoor sosiale media versprei word, en ons maak daarop staat dat vriende en familie dit ook deel met hulle netwerke deel, so versprei asseblief die woord!

Wat moet ons nog weet oor die Velkankervereniging?
Dr Roscher:  Die Velkankervereniging is ‘n nie-vir-wins organisasie en daarom maak ons baie staat op die mense rondom ons. Ons het jaarliks twee groot aktiverings. Die velkanker-inligtingsdag is die eerste een, en dis die beste jaarlikse bron van topklas mediese inligting aan medici en velsorgspesialiste en ook die pers – dit dien as opleidingsplatform. Tweede is die nasionale ondersoekdag op 1 September, wat ‘n bewusmakingsplatform is. Die idee is nie soseer dat die hele nasie ondersoek word nie, maar om die nasie bewus te maak van die kwessie, ook sodat mense self ‘n ogie hou op hul vel, en weet wanneer om te gaan aanklop vir raad. Ek wil herhaal hoe belangrik dit is dat mense gebruik maak van hierdie dag om ‘n ondersoek te kry by een van die deelnemende dermatoloë. Dit kos niks, en dit kan potensiëel jou lewe red, so daar is geen verskoning om nie te gaan nie! Maak jou afspraak sodat jy weet wat aangaan met jou vel en ook kan uitvind hoe om velkanker te voorkom. Soos die spreekwoord sê, “Rather be safe than sorry.”

Let wel: die gratis ondersoeke word slegs deur deelnemende dermatoloë aangebied. Hul kontakdetails is almal beskikbaar op die webwerf www.skincancerfoundation.co.za – kyk onder “Screening”. Volg ook die vereniging se Facebook-blad, Skin Cancer Foundation of South Africa. 

[gdlr_divider type=”solid” size=”100%” ]