Daar is min dinge so bevredigend soos om ‘n helpende hand te kan uitreik en ‘n verskil te maak aan iemand anders se lewe; en dis hoekom Atterbury Trust ook graag ander hulporganisasies ondersteun. Solidariteit Helpende Hand se Entrepreneurskompetisie vir skole was onlangs in die kollig en Atterbury Trust het vyf kontantpryse van R5 000 elk aan die finaliste toegeken. Die wenner, Simoné Schoeman, was die enigste meisie onder die vyf finaliste, en haar vernuf met haar fotografie-onderneming het die beoordelaars oortuig om haar die eerste plek toe te ken. Die Solidariteitprys het haar R15 000 in die sak gebring om in haar onderneming te stort, en ook R15 000 vir haar skool, om aangewend te word vir entrepreneursontwikkeling. Lees die aankondiging

1. Baie geluk! Vertel ons meer oor jouself?
Baie dankie! Ek is 18 en in Graad 12 aan Hoërskool Merensky in Tzaneen. Ek woon saam met my ouers en my drie sussies (Chantèl 21, Kyla 14 en Ruëtte 13) – ek is dus tweede oudste. Ek neem al vier jaar lank ernstig foto’s.

2. Hoe het jou stokperdjie in ‘n onderneming verander?
Ek het in 2011 my sussie se matriekafskeidfoto’s geneem en op Facebook geplaas – met onverwagte positiewe gevolge. Ek is oorval deur vriende en vriendinne wat foto’s wou hê. Toe die aanvraag verder as my vriendekring uitbrei, het ek besef daar is ‘n behoefte vir ‘n bekostigbare fotograaf en so is Simonè Schoeman Fotografie gebore. My besigheid is ‘n diens wat verseker dat oomblikke vasgevang word sodat mense hul herinneringe vir ewig kan koester. Ek geniet dit om matriekafskeidfoto’s, paartjies en troues af te neem, maar is nie beperk tot net spesifieke geleenthede nie – ek sien kans vir enige uitdaging!

3. Watter toerusting gebruik jy en hoe het jy daarby uitgekom?
Ek het begin met my ma se ou Canon. Ek gebruik op die oomblik ‘n Canon 7D,‘n Canon 18-200mm lens en het onlangs ‘n nuwe Canon 60mm makro-lens gekoop. Ek het al die toerusting self gekoop met ‘n lening wat ek by my ouers aangegaan en alreeds terugbetaal het.

4. Hoe het jy jou besigheid gebou? Wat was die grootste uitdaging?
My besigheid het gegroei deur bemarking op sosiale netwerke maar die grootste bousteen is tevrede kliente. My grootste uitdaging was en is nog steeds om my diens uniek en mensevriendelik te hou.

5. Wat is die grootste verskil tussen fotografie as stokperdjie en as besigheid, in jou opinie?
Die enigste verskil vir my is net betaling. ‘n Stokperdjie is tog ‘n tydverdryf wat mens geniet, maar ek glo my besigheid moet ook iets wees wat ek geniet. So al het my stokperdjie nou in werk verander voel dit nie soos werk nie omdat ek so ‘n passie het vir foto’s neem. Ek is bevoorreg om te kan betaal word vir iets waarvoor ek so lief is.

6. Wat is die beste raad wat jy ooit gekry het oor jou besigheid?

Om nooit op te hou leer nie. Ek glo ek moet my vaardighede konstant probeer verbeter en leer van die mense en ander fotograwe rondom my sodat ek die beste diens kan lewer. Mens kan nooit genoeg leer en eksperimenteer nie.

7. Wat was jou lekkerste opdrag tot dusver?

Dit was beslis die eerste troue wat ek afgeneem het, in Dendron in 2012! Ek was senuweeagtig maar dit was die begin van al my troue-werk en bly beslis die lekkerste! Dis fantasties as jy weet iemand glo in jou!

8. Wat beteken hierdie prys vir jou? Wat gaan jy met die geld doen?

Sjoe, dis ‘n baie groot eer! Die prysgeld is ook ‘n wonderlike bonus maar die geleentheid en nuwe deure wat dit vir my oopgemaak het is baie meer werd. Die prysgeld is ‘n groot hulp om my besigheid te help groei – ek het vir my die nuwe Canon 60mm makro aangekoop en het die res gespaar sodat ek volgende jaar kursusse kan doen – ek het nog geen professionele opleiding gehad nie. Wat oorbly sal in die bank bly sodat ek mettertyd nog toerusting kan aankoop.

9. Watter raad sal jy vir ander jongmense gee wat graag wil geld maak uit ‘n stokperdjie?

Die belangrikste is om ‘n liefde te hê vir wat jy doen, maar dan moet jy ook seker maak daar is ‘n behoefte daarvoor in jou omgewing. Jy moet ook deursettingsvermoë hê en bereid wees om soms jou besigheid bo jou eie sosiale lewe te stel. Dit verg baie aandag om ‘n besigheid te bou.

10. Wat is jou droom vir jou besigheid? Gaan jy verder studeer in dieselfde rigting?

My droom is om ‘n suksesvolle fotograaf te word wat spesialiseer in troues. Ek wil ook baie graag vryskutwerk doen vir tydskrifte en sal ook vir ‘n ruk wil reis en fotografie oor die wêreld beoefen. Ek gaan volgende jaar BA Taal en Kultuur studeer by die Universiteit van Stellenbosch en sal dan graag my honneurs in joernalistiek wil doen. So ek gaan nie formeel fotografie swot nie, maar ek beplan tog om fotografiekursusse te doen om myself meer te bekwaam. Ek wil my liefde vir media en foto’s kombineer.

Vir meer foto’s en inligting besoek en like Simoné Schoeman Photography se Facebook blad: https://www.facebook.com/pages/SS-Photography/171450136212120

Vir meer oor Solidariteit Helpende Hand, sien http://helpendehand.co.za/

artikel