Genis en kie herleef op die planke

Genis en kie herleef op die planke

Hier by Atterbury Trust is ons groot liefhebbers van teater, en veral toneelopvoerings. Om ’n toneelstuk op die planke te bring is ’n duur storie, en om dit op toer te neem sodat meer mense die kans het om dit te geniet, is dikwels bo die vuurmaakplek van teatergeselskappe. Akteurs moet reis en verblyf hê vir elke aand van die toer, en die vervoer van ’n teaterstel van een teater na ’n ander aan die oorkant van die land is omtrent ’n operasie. Dis hoekom ons nie altyd so baie toneelopvoerings in die Atterbury Teater aanbied as wat ons graag sou wou nie; en hoekom ons met groot graagte betrokke geraak het om Koöperasiestories voete te gee om ook hier in Pretoria ’n draai te kom maak. Ons gesels met Alexa Strachan, wat die teks verwerk het, oor die opvoering wat in Mei by Atterbury Teater op die planke sal wees.

Van waar die besluit om Kooperasiestories weer te laat herleef? Kan jy ons  jonger lesers herinner aan die geskiedenis van hierdie stuk?
PG du Plessis se Koöperasiestories het oorspronklik verskyn as kortverhale/essays, lank voor die geliefde TV-reeks van die 80-erjare; en ons het teruggegaan na hierdie verhale eerder as die TV-reeks om dié stuk te skep. Koöperasiestories was ’n maklike keuse vir ons, omdat PG se werk so diep in almal van ons se harte gekruip het – sy menslikheid, (soms baie stout) humor, deernis en fyn waarnemingsvermoë is uniek. Ook het sy verhale en karakters ’n tydloosheid aan hulle – ons erken onsself nog steeds in die mense van jare terug se sondetjies; hulle eiewaan, inhaligheid, skynheiligheid, ambisie, vooroordele, maar veral hulle geskinder. Mense bly inherent mense; ons maniere van doen verander net – 40 jaar terug het ons byvoorbeeld op die stoep geskinder, en nou doen ons dit op Facebook. Aan die ander kant stel ons onsself bloot aan kritiek: om aan so ’n stuk volksbesit te torring, is amper heiligskennis. Ons maak moderne, skreeusnaakse volksteater. Dis ’n stuk vir gewone mense, regtigwaar vir oud en jonk. Jy hoef nie ’n ou teaterganger of -kundige te wees om die show te geniet nie. Bravo se kameraspan het ons kom verfilm, en jongmense wat glad nie eers bewus was van die oorspronklike skepper hiervan se gravitas of die gewigtige geskiedenis nie, het so gelag dat ek vermoed die kameras het dalk bietjie gebewe.

Wanneer was dit die eerste keer op die planke?
Ons het vroeg in Maart by vanjaar se US Woordfees geopen – voor uitverkoopte sale, en staande toejuigings, waarvoor ons bitter dankbaar is.

En vertel ons van hierdie toer – waar het dit begin, waar speel dit oral, hoe lank is die speelvak?
Ons is nou oppad na KKNK, waarna ons drie weke by die Bellville Burgersentrum optree, en dan volg Atterbury Teater, Innibos en Vrystaatfees. Dan hopelik ook na Aardklop, en daarna sal ons baie graag ’n plattelandse toer wil doen, en veral graag vinnig na Namibië ook.

Wat sê die 2017 gehore van Koöperasiestories?
Die stuk is nou langer, oor die mense so lag… Oud en jonk se kommentaar is dat hulle lanklaas so gelag het, en dat hulle verstom is oor die akteurs se diversiteit  – al die akteurs speel verskeie rolle. Om twee uiteenlopende gehoorlede aan te haal:
“Ek en my vrou en ma het dit Sondagaand gaan kyk. My stukkend gelag. Ma het my aanmekaar aangepraat en innie ribbes gestamp. Ek het my gate uit geniet –  amper moeilikheid gehad, maar alles die moeite werd. Welgedaan.”
“Vir my was die keuse van die tekste die eerste goeie teken, en verder het die spel ons beïndruk. Veral die vertolking van die akteurs van meer as een karakter. Ek dink die spel was uitstekend. Die regie het na my mening ook ’n vloeiende vertolking van prosa gegee wat daarvan heerlike verhoogkuns gemaak het, nader aan die teaterganger se lyf as die kyker op televisie.”

Wat kan jy ons vertel omtrent die akteurs en regisseur?
Sjoe, te veel talent op een verhoog… Marion Holm bring ingebore komiese tydsberekening en storie-vertel. Chris van Niekerk bring jare se ervaring en wysheid, Margit Meyer-Rödenberg verstom haar Dowwe Dolla aanhangers met haar veelsydigheid, en die jong akteurs, Carel Nel, De Klerk Oelofse en Wessel Pretorius, wys hoekom teatermakers toustaan by hulle – die jong energie, die amperse anargisme is aansteeklik. Dit alles onder die ervare regie van die teaterveteraan Sandra Prinsloo.

Hoeveel kos dit om ’n produksie soos hierdie op toer te vat?
Vra eers hoeveel dit kos dit om dit op die planke te bring! Om enige teaterstuk van hierdie omvang te skep, kos ongeveer R500 000, en weke of maande uit al die betrokkenes se lewens, voordat die eerste gordyn gelig of die eerste kaartjie verkoop het. So ’n produskie neem drie weke om in te studeer, wat dus ’n maand se salaris is vir akteurs wat hul huise, karre, kinders, medies, water en ligte moet  betaal. Teater het nie ekstra vorme van inkomstes soos ander vermaakbedrywe nie – sangers verkoop byvoorbeeld CD’s, TV en film verkoop uitsaairegte en advertensies wat ekstra inkomste inbring. Al wat teater het is moontlike kaartjieverkope, oftewel “bums on seats”. Ons gooi die dobbelsteen, en hoop mense koop in…

Hoe het julle by Atterbury Trust uitgekom om te help borg?
Juis omdat teater nie die bemarkingsmoontlikhede het wat die TV en filmwêreld en die musiekwêreld het nie, is borge en befondsing skaars. Teaters is ook maar onder druk omdat staatsbefondsing krimp, en teaters om hul eie oorlewing veg. Afrikaanse teater veral staan nie juis eerste in die ry vir regeringsbefondsing nie. Ek werk al jare lank saam met Atterbury Teater, en ook die Atterbury Trust, maar gewoonlik is dit rondom musiekproduksies. Teaterproduksies van hierdie omgang is geweldig duur – die stelle en akteurs moet vanaf die Kaap vervoer word, verblyf vir die hele span moet verskaf word, so sonder Atterbury Trust se hulp, sou ons gewoon nie kon bekostig om Koöperasiestories in Pretoria te kon opvoer nie, selfs al verkoop al die kaartjies uit…

Koöperasiestories speel van 18 tot 21 Mei by Atterbury Teater. Kaartjies kos R150 en R175 en is beskikbaar by Computicket.

Leave a Reply