Verlang jy ’n nog bietjie na die vakansie? Kry inspirasie vir die die nuwe jaar: ons hoor by Atterbury se mense en ’n paar glanspersoonlikhede hoe hulle 2015 aanpak in ons nuwe “vervolg-reeks” wat vandag begin!

Anna Davel, sangeres en liedjieskrywer

Wat was die hoogtepunt van jou somervakansie?
Een van die mooiste plekke wat ek besoek het was ’n wynplaas in die Overberg. Gabriëlskloof, naby Botrivier. http://www.gabrielskloof.co.za/about/. Die kos was ongelooflik, en so ook die wyn, die uitsig en die atmosfeer. Die eerste keer wat ek daar ’n draai gemaak het, maar kan nie wag om weer daar te stop nie!

Hoe gaan dit met die nuwejaarsvoornemens?
Sover, heel goed. Ek wil graag meer oefening kry as in 2014 en was darem al ’n paar keer hierdie jaar in my tekkies pad af. Ek wil ook graag vroeër opstaan in die oggende, maar sukkel nog my lewe lank met daai een. Totale naguil, so ek kom selde voor middernag tot rus. Ek gaan ’n koffieperkoleerder met ’n alarm moet kry – ek dink die heerlike geur van vars gebroude koffie is die enigste ding wat my sal beweeg om teen sonop al die dag te kan gryp! ʼn Wekker doen dit nie vir my nie. Die snooze button is net te duidelik en te naby.

Hoe raak jy weer gebalanseerd na die feesgety se oorvloed kos en drank?
Ek probeer om my koffie en tee sonder suiker te drink. Dit is nie baie lekker nie, maar mense wat gewoond geraak het daaraan mis dit blykbaar nie. So ek probeer daar uitkom. Ek eet gelukkig oor die algemeen gesonder as ek by my huis is. Ek koop glad nie brood nie en eet meer slaai, maaskaas, kraakbeskuitjies en vrugte. Tydens vakansie het ek meer braaivleis, beskuit, poeding en ryk kase geeet. Solank daar balans is en mens nie die heeltyd so oordadig te kere gaan nie.

Wat is die een ding wat jy hierdie jaar graag sou wou doen?
Ek wou nog altyd na die North Sea Jazz Festival in Amsterdam toe gaan. Hierdie jaar is Tony Bennett daar. Ek wil vir die eerste keer gaan vakansie hou op ’n Griekse eiland. Ek wil weer by die KZN kus uitkom (noord of suid, was jare laas daar en ek is mal oor die warmer water). Ek sal ook graag weer ’n NLP (neurolinguistiese programmering) kursus wil bywoon. Hierdie keer dalk by die guru homself Richard Bandler in Londen of Tad James in Amerika. Of ’n werkswinkel bywoon van Byron Katie, ’n “life coach”. Haar video-sessies waarin sy met mense werk om hulle probleme uit te sorteer is ’n inspirasie.

Die vakansie is skaars oor, maar gestel jy wen nou R100 000 wat jy in 2015 op ’n vakansie moet uitgee, waarheen sal dit wees en saam met wie?
Ek sal ironies genoeg, heel moontlik op my eie die pad vat. Ek dink ideaal sou wees ’n kunstenaars-“retreat” in Italië, soos http://www.lemarcheretreat.com/ Waar mens vir ’n hele week net in die mooiste landskap kan sit en skilder, met kunstenaars om jou wat jou help en inspireer om meer kreatief te wees. Ek het al een so kursus plaaslik gedoen by die kunstenaar Michele Nigrini in Rosendal. Dit was voorwaar ’n belewenis

Waar kan ons jou volgende sien optree, en het jy enige spesiale planne vir 2015?
Ek is 24 Januarie by my gunsteling teater in SA, die Atterbury Teater! En daarna gaan ek eers die Oppiwa kunstefees in Jacobsbaai bywoon, asook Die Boer teater in Durbanville in Februarie. In Maart is dit tyd vir Woordfees in Stellenbosch en daarna toer ek met my nuwe album “Moment” landwyd. Ek sien uit na ’n jaar waarin ek hopelik ook meer liedjies vir ander kunstenaars sal skryf!

WEN! Gaan jy Anna se vertoning Sondag 24 Januarie by die Atterbury Teater kyk? Laat weet ons op Twitter @AnnaDavel @AtterburyTrust @AtterburyTeater of Facebook https://www.facebook.com/AtterburyTrust, en jy kan een van drie van haar CDs wen!

 WEN!

Ons het drie CDs van Anna Davel se nuwe album, Moments, om weg te gee. Laat ons op Twitter (@AtterburyTrust) of Facebook weet of jy Sondag vir @AnnaDavel by @AtterburyTeater gaan kyk en staan ’n kans om te wen!

 

10354227_546887162113642_4375866622801120911_n

…en Atterbury se Leonie du Preez

Wat was die hoogtepunt van jou somervakansie?
Ons was by die see, op Grootbrak, en die hoogtepunt was die strandpartytjie vir my ouers se 40ste huweliksherdenking. Die geleentheid was baie spesiaal.

Hoe gaan dit met die nuwejaarsvoornemens? Wat is joune?
Ek wil iemand wees wat vreugde verpersoonlik… sover gaan dit nog goed!

Hoe raak jy weer gebalanseerd na die feesgety se oorvloed kos en drank?
Ek probeer elke dag twee liter water drink!

Wat is die een ding wat jy hierdie jaar graag sou wou doen?
Ek sal graag in die Drakensberge wil gaan stap.

Die vakansie is skaars oor, maar gestel jy wen nou R100 000 wat jy in 2015 op ’n vakansie moet uitgee, waarheen sal dit wees en saam met wie?
Dit sal wees saam met my man, Jaco, en ons sal Frankryk toe gaan om die Tour de France te gaan kyk!

Wat is jou wens vir Atterbury Trust vir 2015?
Om ’n verskil te maak in elke student se persoonlike groei en ontwikkeling.