Met Brexit en Donald Trump se verkiesing tot Amerika se president, is ‘n nuwe wêreldorde ingely. So het Marine le Pen, moontlik Frankryk se volgende president, onlangs in Duitsland tydens ’n beraad van partye wat algemeen in die media as regs-populisties beskryf word, gesê. Maar is dit heeltemal so eenvoudig, vra Herman Toerien op Maroela Media se webwerf…

Verlede naweek se sogenaamde “teenberaad” van “ekstreem regse Europese partye” in Europa het onder meer ten doel gehad om die omvang wat die regse front op die vasteland reeds aangeneem het, wêreldkundig te maak. Hierin is grootliks geslaag ongeag die feit dat die media se aandag op die inhuldiging van die nuwe Amerikaanse president was.

Die media-aandag is juis deels te wyte omdat die Amerikaanse presidentsverkiesing op ’n moontlike wêreldwye swaai na regs kan dui, maar ook omdat verskeie van die regse Europese partye wat tot onlangs eintlik net klein randpartye was, stem begin dik maak by die stembus. N-TV haal Le Pen soos volg hieroor aan: “Ná die Brexit-referendum en die verkiesingsoorwinning van Trump sien ʼn mens dat daar ’n wending gekom het. Nasionaliste is nie meer randgroepies nie.”

Meer as ’n duisend afgevaardigdes het die kongres in Koblenz bygewoon, maar die media-aandag was uitsluitlik op die leiers.

Duitsland, Nederland en Frankryk gaan vanjaar stembus toe, en in elkeen van hierdie lande word verwag dat die regs-populiste ’n deurbraak in eie reg sal maak. Le Pen se kanse om tot nuwe Franse president verkies te word, lyk selfs goed. Geert Wilders se Partij voor Vrijheid (PVV) kan moontlik in die Nederlandse verkiesing die grootste persentasie stemme op hom verenig, terwyl die AfD moontlik vir die eerste keer genoeg stemme kan trek om vir die minimum-drempel vir verkiesing tot die Duitse parlement te kwalifiseer.

Verskeie van Europa se bekendste regse leiers soos Wilders (PVV) van Nederland, Le Pen (Front National) van Frankryk, Frauke Petry (AfD) van Duitsland het hul opwagting by die beraad in Koblenz gemaak. Trouens, die mees bekende leiers het sommer saam opgedaag. Die leier van die Italiaanse Lega Nord, Matteo Salvini, was teenwoordig, asook verteenwoordigers van die Oostenrykse FPÖ.

Milde nuusdekking was daar wel, maar heelwat daarvan sou in Suid-Afrika as politiek gelade beskryf kon word. Heelwat koerante het wanneer hulle oor Wilders se teenwoordigheid geskryf het, hom eers geïdentifiseer as iemand wat onlangs aan haatspraak skuldig bevind is (maar nie gevonnis is nie). In Le Pen se geval is daarop gewys dat haar pa vir rassehaat, xenofobie en anti-Semitisme gevonnis is.

Die Nazi-Duitse term “Lügenpresse” (pers wat lieg) is weer ingespan om die media mee te beskryf. Verskeie media-instellings is toegang tot die verrigtinge geweier omdat hulle volgens die organiseerders hulle in die verlede aan onetiese gedrag skuldig gemaak het. Die Duitse sender ARD het selfs gedreig om hof toe te gaan hieroor.

Die atmosfeer was oor die algemeen opgewek, grootliks voortspruitend uit Donald Trump se verkiesing tot Amerikaanse president, Brexit en die opkoms van regse partye wat tot onlangs nog net as klein randpartye in Europa bestaan het.

Die “Lügenpresse” het op sy beurt die deelnemende partye beskryf as anti-Moslem, ver-regs, anti-immigrasie, Euro-skepties en regs-populisties. Betogers (daar was sowat 3 000) het plakkate met die strekking van fascisme vertoon.

In die toesprake het die leiers ook heelwat aandag daaraan geskenk dat die partye werk daarvan moet maak om hul assosiasie met onaanvaarbare sake soos Nazisme af te skud.

Die pous het Europeërs ook in ’n koerant-onderhoud gemaan om versigtig vir populistiese leiers te wees, en die voorbeeld van Hitler genoem. Hy was egter versigtig om in hierdie stadium Trump by sy vermaning te betrek, en gesê hy wil eers sien hoe die nuwe Amerikaanse president hom van sy taak kwyt.

Wilders het op sy beurt by die kongres gesê “kerke is ’n onderdeel van die elite”.

In dié stadium lyk dit of die partye rede het om tevrede te wees. Le Pen meen ’n nuwe wêreldorde het aangebreek wat deur Brexit ingelei is. Wilders stel dit soos volg: “Mijn vrienden, we leven op dit moment in historische tijden. De mensen uit het Westen worden wakker. Ze werpen het juk van de politieke correctheid af. Ze willen hun vrijheid terug hebben, ze willen hun nationale soevereiniteit terug, en wij, de patriotten van Europa, zullen het instrument.”

Sommige waarnemers meen egter dat juis omdat die deelnemende partye so erg op hul lande se eie nasionalisme fokus, die partye se waarde om mekaar te help nie veel wyer strek as reklamewaarde nie. In die nasionalistiese konteks het elkeen in sy eie land unieke vraagstukke om op te fokus.

Hierdie meningstuk het oorspronklik op www.maroelamedia.co.za verskyn. Dit is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Atterbury se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie.