“Ek wil werk skep wat gehore uitdaag”

“Ek wil werk skep wat gehore uitdaag”

Vierdejaar BA Teaterproduksie-student Kanya Viljoen was van kleinsaf ‘n avontuurlustige, spitsvondige Eisteddfod-koningin, en nou hou hierdie Atterbury Trust-beurshouer boonop Afrikaans se vaandel hoog by die Engelstalige Universiteit van Kaapstad!

Teken vir ons ‘n Kanya-prentjie…
ʼn Goeie plek om te begin is met my naam: Kanya beteken in Suid-Afrika se Nguni-tale “Lig”. In Sanskrit beteken dit “klein/jong meisie”. Ek is nie baie groot nie so dit is nogal gepas! Ek is die oudste van vier, my ma is ʼn musiekonderwyseres en my pa werk in Angola in projekbestuur en -ontwikkeling. Ons het baie rondgetrek toe ek klein was en ek dink dit is juis dit wat gemaak het dat ek so graag nuwe dinge ontdek en alles bevraagteken. Ek het op Somerset-Wes skoolgegaan en was van kleins af baie bedrywig, altyd opsoek na ʼn storie om te vertel of ʼn speletjie om te skep en te speel.

Hoe lank is jy nou al ‘n Atterbury Trust-beurshouer?
Dis al my vierde jaar – en ek is só dankbaar dat julle my die geleentheid gegee het om te studeer. Dit is eintlik aan my ma te danke dat ek van die beurs gehoor het.

Hoekom Teaterproduksie?
Teater was nog altyd ʼn uitlaatklep in my lewe en ek dink nie ek het veel van ʼn keuse gehad in die saak nie – ek weet nie wat anders ek met my lewe sou aanvang nie. Dit is, en sal altyd, my lewenspassie wees. Ek glo boonop dat die toekoms van Suid-Afrika in die kunste lê. Elke keer as ek in die teater sit, of op die verhoog trap, besef ek opnuut die krag van die teater.

En hoekom UCT – so ver van die huis af? Is daar enigiets wat jy na vier jaar nog mis van by die huis woon?
UCT is bekend vir sy drama departement en dis die enigste universiteit in Afrika wat ʼn kursus aanbied wat op alle aspekte van teater fokus. Ek het belanggestel in skryf, regie en tegniek, so dit het sin gemaak. Ek is ook baie lief vir die Kaap en die stad se woerwarrel gevoel. Maar ek moet bieg, ek mis elke nou en dan my pa se gebraaide snoek en die luukse van my ma wat my soggens wakkermaak.

Wat wou jy geword het toe jy klein was? Was jy ‘n Eisteddfod-koningin?
Ek sou maar altyd in die kreatiewe industrie opgeëindig het. Van kleinsaf het ek konserte in ons kombuis gehou, tot my arme broers en suster se groot frustrasie, want hulle is altyd saamgesleep as mede-akteurs. In die laerskool en hoërskool het ek nie net drama gedoen nie, maar ook klassieke en jazz-klavier, sang en ballet. En ja, ek was ʼn ware Eisteddfod-koningin, van komiese proporsies!

Ons hoor jy is gevra om ‘n Afrikaanse toneelstuk te skryf vir die universiteit – baie geluk! Vertel ons meer!
Ja, dankie, wat ‘n eer – die dramadepartement het my gevra om die teks vir vanjaar se Afrikaanse honneursproduksie te skryf! Die teks is nog in sy ontwikkelingsstadium en die stuk sal rondom September/Oktober opgevoer word. Amy Jephta, wat vanjaar se Eugène Maraisprys gewen het vir haar produksie Kristalvlakte, gaan die regie doen. Ek het al begin skryf, en om eerlik te wees, dit is redelik vreesaanjaend. Ek stel tans baie belang in die Afrikaanse identiteit binne die sogenaamde “born-free” generasie – waar hulle hulself plaas en hoeveel hulle, bewustelik en onbewustelik, van vorige generasies saam met hulle dra. My idee vir die teks is nou daarmee verweef.

Waarheen hoop jy sal jou graad jou eendag lei?
Ek het vele toekomsdrome, almal met hul eie geur en kleur. Ek sal graag wil aanhou skryf, nie net vir die verhoog nie, maar hopelik vir film, televisie en ook in letterkundige vorme. Ek hoop om werk te skep wat gehore gaan uitdaag, wat debat en denke en gesprek verg; werk wat eg is. En ek hoop ook om met gemeenskappe te werk wat nie noodwendig die toegang tot drama en die kreatiewe kunste het nie.

Weet jy al wat jy volgende jaar wil doen?
Volgende jaar voel nog nie heeltemal soos ʼn werklikheid nie. Daar is reeds ʼn paar potensiële werksgeleenthede, maar ek is ook gereed om die teaterbedryf te ervaar vir wat dit is en hard te werk om myself te bevorder. Omdat ek nog so jonk is, wil ek ook volgende jaar gebruik om kanse te waag en my eie kreatiewe stem te ontwikkel.

As jy by enige teaterproduksie in die wêreld betrokke kan wees, wat sal dit wees en waar? Saam met wie sal jy die graagste wil werk?
Sjoe, dit is ʼn baie moeilike vraag, want daar is soveel innoverende produksiemaatskappye regoor die wêreld! Hier by ons sal ek bitter graag nog met die Handspring Puppet Company, die teatergeselskap wat War Horse geskep het, wil werk. Internasionaal het ek ʼn groot bewondering vir die werk van kunstenaars soos Marina Abramović en Franko B.

Ek glo dat ek iets van elke persoon om my kan leer. Elke geleentheid om te kan werk, is ʼn geleentheid om iets te leer en myself te verryk.

Word ‘n Atterbury Trust-beursborg en help ons om nog belowende jongmense soos Kanya se studiedrome waar te maak. Donasies is belasting-aftrekbaar. Kliek hier om te skenk.

Leave a Reply