Mmabatho Mokoena is een van Atterbury se beursstudent-sterre wat besig is om haar honneurs in Ontwikkelingstudies by Wits te voltooi, en reeds op 22 planne maak vir haar eie liefdadigheidsorganisasie wat na weeskinders sal omsien. Laat hierdie jong uitblinker jou inspireer

Baie geluk met jou graad! Hoe het jy destyds van die Atterbury beurs te hore gekom en hoekom het jy op jou vakrigting besluit?
Ek het van Atterbury gehoor deur my hoërskoolvriendin Milan Botha wat so gelukkig was om een van julle beurse te kry. Sy het geweet dat ek verder wil swot en hoe ek gesukkel het om die geld daarvoor te vind, so toe bring sy eendag vir my ’n vorm, en ek het aansoek gedoen. Voordat Milan my bekendgestel het aan Atterbury het ek nie van die maatskappy se bestaan geweet nie…

Wie is Mmabatho by die huis?
Ek is gebore in Mamelodi, die township oos van Pretoria. My ouma het my grootgemaak terwyl my ma kollege toe is in Phalaborwa. Toe ek ses was het my ma ’n huis gekoop in Lindopark en ek het by haar ingetrek. My ma wou hê ek moet skoolgaan so na as moontlik aan die huis so ek was in Laerskool Lindopark en het by Hoërskool FH Odendaal gematrikuleer. Ek het een sussie van 10 en my ma het ons albei alleen grootgemaak. My pa is oorlede in 2011, maar hy was my hele lewe afwesig en ek het geen verhouding met hom gehad nie. Ek woon al in Johannesburg sedert my eerstejaar in 2011, in ’n gebou reg langs die kampus, en ek deel die woonstel met ’n ander Witsstudent.

Wat was vir jou die grootste aanpassing met die skuif van hoërskool na universiteit?
Dit was die aanpassing na ’n nuwe omgewing. Ek het nog nooit voorheen weg van die huis gewoon nie so ek moes leer om na myself te kyk. En omdat al my vriende in Pretoria was moes ek nuwe maats maak en ’n nuwe ondersteuningstruktuur weg van die huis af vorm. Dit was ook baie moeilik om te leer om met ’n klein begroting uit te kom. Atterbury betaal my klasgeld, maar my ma moes huurgeld, kos en sakgeld verskaf!

Wat is jou gunsteling trooskos?
Roomys en sjokolade laat my altyd beter voel as ek ’n bietjie af is! Ek is ook lief vir seekos en Italiaanse kos…

Wat is jou gunsteling kinderherinnering?
Dit is beslis die eerste vakansie waarop my ma my geneem het, toe ek 10 was. Ons het treingery Durban toe en dit was die eerste keer dat ek by die strand was. Ander gunsteling herinneringe is uit my tyd in Gauteng-Noord se netbal A-span toe ek in die laerskool was, en toe ons beide die provinsiale en distriksligas gewen het.

Noem drie bekendes of historiese figure by wie jy graag vir ’n week lank ’n huisgas sou wou wees?
Nelson Mandela of Steve Biko, omdat hulle albei ’n enorme impak gemaak het op ons land se politieke geskiedenis en ook in die lewens van so baie mense. Politiek is een van my passies en ek dink vir my hou hulle twee die meeste prestige in ons geskiedenis. Ek sou so graag by Mandela sy leierskapsvaardighede wou leer, en hom wou vra oor sommige van die besluite wat hy voor en gedurende sy tyd as president gemaak het. Ek sou met Biko sy boek “I Write What I Like” wou bespreek, asook sy persoonlike ervarings gedurende die apartheidsera. Ek dink hy was ’n baie intelligente man en sy wysheid sou my baie kon leer.

Ook Oprah Winfrey – ek bewonder enige vrou wat suksesvol en gedrewe is en ek sou baie graag wou sien hoe verloop ’n week in haar lewe. Sy is een van die invloedrykste vroue ter wêreld en het op soveel mense se lewens ’n indruk gemaak. Oprah het ondanks ’n nederige agtergrond en kindertrauma soveel sukses behaal, en ek sou soveel kon leer uit haar ervarings, wysheid en haar manier van lewe. Sy inspireer my om meer vir ander te doen. En haar deernis vir ander is so diepgaande.

Watter tegnologiese vernuwing wens jy wil binne jou leeftyd gebeur?
Bekostigbare en toeganklike vervoerstelsels – “vliegmasjiene” – waarmee mense vinnig na enige bestemming sou kon vlieg. Goedkoop, toeganklike vervoer sal so baie mense se lewens handomkeer verander en sou ook die ekonomie baat omdat produktiwiteit sou toeneem. En mense wat andersins nie kan nie, sou kon reis na plekke wat hulle nog nooit gesien het nie en die gratis natuurlike wondere van ons wêreld kon geniet.

Watter historiese gebeurtenis het ’n blywende impak op jou gemaak?
In my lewe was die mees impakvolle gebeurtenisse gedurende my jare op laer- en hoërskool, waar ek in albei skole gekies is as die eerste swart hoofmeisie. Hoekom ek dit uitlig is omdat ek voel ek het ’n blywende merk gemaak in die geskiedenis van my skole, wat ook bygedra het tot die wyer transformasie wat in ons land aan die gebeur was. En benewens dit het sulke leierskaprolle my die dryfkrag gegee om harder te werk en meer vir my gemeenskap te doen. Die beurs van Atterbury was nog iets wat groot historiese betekenis vir my het, asook die feit dat ek my graad in rekordtyd kon behaal. Ek het so baie geleer op varsity en my graad gaan beslis soveel deure vir my oopmaak.

Atterbury se beurs het jou ’n kans gegee; as jy enigiemand anders se droom ’n hupstoot kon gee, wie sou dit wees en wat sou jy vir hulle doen??
Ek het nie een spesifieke persoon in gedagte nie, maar ek wil regtig die lewens van arm jongmense wat uit agtergeblewe gemeenskappe kom, verbeter. Daar is baie swart jongmense in my tuisdorp wat goeie mentorskap, buitemuurse aktiwiteite en opleiding nodig het om hulle produktief te hou en betrokke te hou by positiewe dinge. Ek sou hulle graag wou help deur ’n leierskap-geöriënteerde middagprogram in my gemeenskap te vestig met ’n reeks buitemuurse aktiwiteite waaraan jongmense kon deelneem. Ek sou ook graag ’n “ouboet en ousus” mentorprogram wou stig waar universiteitstudente ondersteuning kon gee aan hoërskoolleerders.

Wat is jou planne as jy klaar geswot het?
Sjoe, ek  het te veel planne, waar begin mens! Wel, ek wil regtig in 2015 die program wat ek hierbo noem vestig. Om terug te gee aan my gemeenskap is iets wat ek nog altyd wou doen, en ek is baie passievol oor jeugontwikkeling. Dan wil ek ook begin met my meestersgraad terwyl ek volgende jaar werk. Oor vyf jaar wil ek my eie onderneming hê of besig wees om daaraan te werk. Ek wil ook my eie liefdadigheidsorganisasie vir weeskinders stig, wat die prioriteit-begunstigde van my maatskappy sal wees.