Atterbury Trust se studiebeurse is gemik op tersiëre opvoeding van jong uitblinkers wat finansiële hulp nodig het, maar van tyd tot tyd kom ’n spesiale geval van iemand wat nog op skool is onder ons aandag. Jacques Fourie van Pretoria was so iemand. Na sy pa in ’n motorongeluk breinbeserings opgedoen het, is die hele gesin in trauma gedompel. Jacques was in Graad 9 en dit het duidelik geraak dat sy skoolwerk sou begin ly onder die stres. Dit was vir Atterbury ’n voorreg om ’n hand van hulp uit te steek sodat Jacques van Graad 9 in Die Hoërskool Menlopark se skoolkoshuis kon bly. Vanjaar gaan hy universiteit toe…

Hoe het jy destyds by die Atterbury Trust uitgekom? Hoe lank na jou pa se ongeluk is jy koshuis toe?
My pa se ongeluk was op 11 Augustus 2011. Hy was vir vier weke in ’n koma en vir drie maande in rehabilitasie. In rehab moes hy leer om van voor af te loop, te praat, te eet. Dit was baie erg. Toe hy begin praat was alles vreeslik deurmekaar en dit was duidelik dat sy geheue erg aangetas is. Toe my pa huis toe kom, het ons gedink alles gaan beter word, maar dit het nie! Hy was skielik baie aggressief en ons gesin het maar ’n taai tyd beleef… veral my ma! ’n Vriendin van my ma het ons vertel van die Atterbury Trust. Dit het alles baie vinnig gebeur… een oomblik was ek nog by die huis en die volgende oomblik in die Menlo koshuis. Dit was ’n jaar na die ongeluk, in Augustus 2012.

Hoe gaan dit nou met jou pa?
My pa se fisiese toestand het baie verbeter. Hy klink anders en loop anders, maar sy emosionele toestand ten opsigte van die aggressiewe gedrag is stabiel. My pa kon voorheen alles doen en goed regmaak; nou sukkel hy met eenvoudige take en sy kort-termyn geheue is baie swak. Hy vra elke paar minute dieselfde vrae oor en oor; veral oor watter dag dit is en wat hy gaan doen. Sy week bestaan uit groepterapie by Headway and hy doen ook hospitaalbediening by Wilgers Hospitaal een keer per week, maar hy sal nooit weer kan werk nie. Hy lewe in die oomblik…

Wat het koshuislewe vir jou beteken?
Om in die koshuis te kon bly, het my lewe in die skool verander. Hier het ek maats gemaak wat nou my “broers” is. Dit het my selfstandig gemaak en dankbaar gemaak vir die klein dinge in die lewe… wat eintlik die GROOT goed is. Baie dinge wat mens vanselfsprekend aanneem – soos vakansie hou by die see, en nooit bekommerd wees oor die dag van môre nie, kan in ’n oogwink verander. Die koshuis het soos my huis gevoel en ons koshuisvader, Mnr Erasmus, was soos ’n pa vir ons. Ek was bevoorreg om in 2014/2015 op die Hoërskool Menlopark se matriekraad te kon dien. Daar is soveel herinneringe wat ek nooit sou gehad het nie, was dit nie vir die Atterbury Trust-beurs nie.

Jy gaan in 2016 Stads en Streeksbeplanning swôt by Tukkies. Hoe het jy op jou studierigting besluit?
’n Mens is maar baie verward oor al die verskillende studierigtings en besluite wat skielik gemaak moet word. As mens so besig is met skoolgoed is daar nie juis tyd om te dink aan dié dinge nie… Dis ironies, want dis seker een van die belangrikste besluite wat jy ooit gaan maak. Ek het na ’n paar rigtings gekyk, Argitektuur, Landbouingenieurswese, en toe ook Stads- en Streeksbeplanning. Ek het gaan kyk na die vakke en met mense in die bedryf gaan gesels. Atterbury Trust het my vir beroepstoetse by Prof Kobus Maree gestuur, wat baie waardevol was. Daar is ’n beperkte aantal plekke in hierdie studierigting so ek was baie bly om voorlopige keuring te kry. Ek sien nou baie uit!

Wat wou jy geword het toe jy klein was, en hoe lyk daai prentjie nou?
Toe ek klein was, wou ek net ’n rugbyspeler of veearts word. Ek hou steeds van rugby en diere, maar “reality kicks in!

Gaan van jou koshuismaats ook Tukkies toe? Weet jy al waar jy gaan tuisgaan?
Baie Menloparkers gaan Tukkies toe en een van my koshuismaats gaan Regte doen. So hopelik gaan ons mekaar gereeld sien. Ek bly vir eers by die huis… ek het ’n boetie wat Graad 4 toe gaan, so ek is bly ek kan ook daar wees vir die outjie.

Waarna sien jy die meeste uit van studentelewe?
Dis alles nuut en mens weet nie juis wat om te verwag nie, maar ek sien uit na die onbekende pad vorentoe! Weer is die Atterbury Trust die een wat hierdie droom vir my waar maak. Julle het my lewe alreeds in soveel opsigte verander. Met die wete dat die Atterbury Trust in my glo, gaan ek die toekoms met selfvertroue in… Ek hoop dat ek eendag kan terugploeg en ook ’n verskil kan maak, want ek weet hoe dit is om te ontvang.