Die amptelike lokprent vir die plaaslike rolprent Krotoa is pas bekendgestel. Krotoa is nog nie amptelik in Suid-Afrika uitgereik nie, maar het reeds agt internasionale filmfees-toekennings verower.

Die film vertel die geskiedkundige verhaal van die tragiese heldin Krotoa (vertolk deur Crystal Donna Roberts), ’n Khoiprinses wat op 11-jarige ouderdom van haar mense weggeskeur is om vir Jan van Riebeeck, die eerste goewerneur van die Kaapse kolonie en haar oom se handelsvennoot, te gaan werk.
Sy word na die eerste fort, wat in 1652 deur die Oos-Indiese Kompanjie opgerig is, geneem waar sy die Nederlandse taal en kultuur so goed leer verstaan dat sy ’n invloedryke tolk word vir Van Riebeeck (gespeel deur Armand Aucamp). Vasgevang tussen twee kulture probeer hierdie dinamiese jong vrou om dié twee wêrelde met mekaar te versoen, maar word tragies deur haar eie mense verwerp en vernietig deur die Nederlandse kolonialiste terwyl sy net ’n brug tussen die kulture probeer bou het.

“In vergelyking met mans is daar baie min Suid-Afrikaanse vroue wat erkenning kry vir die invloed wat hulle op die land se geskiedenis gehad het,” sê Roberta Durrant, die regisseur en vervaardiger. “Vroue soos Ruth First, Lillian Ngoyi, Bettie du Toit en Sophia Williams-du Bruyn het sterk gestaan in die opstand teen die apartheidsregering. Wanneer ons egter delf in Suid-Afrika se ryk geskiedenis, kom ons op ander inheemse vroue af wat instrumenteel was tot die ontwikkeling van ons nasie – selfs nog voor diegene wat gehelp veg het vir ons vryheid.”

Die verhaal van die volksheldin Krotoa (of Eva soos die Nederlanders haar gedoop het) is een van verskeurdheid tussen twee kulture, versoening, identiteit en die behoefte om in te pas. “Dit is ’n kragtige storie met sterk, universele temas wat vandag nog, veral gegewe ons multikulturele samelewing, so relevant is,” vertel Durrant. “Dit is so belangrik om die stories te vertel van die vroue wat ons samelewing help vorm het, en so gepas dat dit in Vrouemaand in SA uitgereik word.

Die film het pryse losgeslaan by onder andere die Internasionale Filmfees vir die Omgewing, Gesondheid en Kultuur, die Haarlemse Internasionale Filmfees in New York, die Artemis Vroue in Aksie Filmfees, die Nashville Filmfees en die World Film Awards.

Krotoa is geskryf deur Kaye Ann Williams en Margaret Goldsmid, en word op 4 Augustus in Suid-Afrika uitgereik.

Hierdie storie het oorspronklik op www.maroelamedia.co.za verskyn.