Die Atterbury Trust beursprogram gee ons die geleentheid om inspirerende jongmense te ontmoet wat planne maak om Suid-Afrika, Afrika en die wêreld te verbeter. Riaan Groenewald is so ‘n jong man – hy het pas graad gevang en is klaar besig om ‘n verskil te maak. Hy het reeds ‘n portefeulje van besighede wat strek van kosverskaffing in Afrika, tot Suid-Afrika se eerste (en enigste) aanlynwinkel wat klassieke Vespa-onderdele verskaf!

Hoe het jy destyds by Atterbury Trust uitgekom?
Ek het jare lank gesoek vir beurse en toevallig op Atterbury Trust se webtuiste en die beursinligting afgekom. Ek het dadelik gekontak gemaak en gevra om bystand, en is vir vier jaar deur Atterbury ondersteun.

Jy kry nou ‘n MSc. Omgewingsbestuursgraad, maar jy bestuur al ‘n paar jaar lank jou eie ondernemings. Hoe het die skuif tussen omgewingsbestuur en besigheid gebeur?
Ek was van kleintyd af bewus van ons daaglikse impakte op die omgewing, so dit is wat my na die kursus gelei het. Maar mettertyd het ek agtergekom dat ek ‘n groter bydrae tot die samelewing kan maak om die negatiewe impak op die omgewing teen te werk deur besigheid eerder as konsultasiewerk.

Wat wou jy word toe jy klein was?
Ek was vyf toe ek begin dagdroom het oor uitvindsels wat die wêreld beter kon maak… Daar was die GPS wat motors in staat sou stel om sonder ‘n mense se hand veilig Kaap toe te ry (ek was ses); geheuekaarte om data op selfone te stoor op ouderdom sewe (toe selfone nog so groot soos bakstene was)… ek het altyd ‘n nuwe idee in my kop! Ek is tans besig om my passie, my droom om ‘n innoverende sakeman te wees, en my roeping uit te leef..

Wat was die grootste uitdaging vir jou om te kom waar jy is? Hoe het jy al jou verskillende besighede gekies?
My grootste uitdaging tot nou was die geloof in ‘n Groter Plan. Die ompaaie maak nie altyd sin nie, en is soms frustrerend, maar wanneer ‘n mens insig kry oor hoekom jy ‘n spesifieke pad moet stap, groei jou geloof. Die proses is organies en wat ek in een besigheid teenkom, lei my tot die volgende. My roeping is om deur besigheid daadwerklike verskille te maak wat vernuwing in Afrika sal bring. Ons is tans besig met die formulering van kosprodukte geskik vir ondervoede bevolkings in die Afrika-mark. Ons ontwikkel dit nie met die oog net op verspreiding nie, maar om die kapasiteit van entrepreneurs op die grond in daardie gebiede te versterk sodat hulle ‘n groter finansiële invloed in hul families en omgewing kan hê.

Wat het jy reeds bereik as jong sakeman waarop jy die trotsste is?
Ek is veral trots om ‘n werkgewer te wees. Dit gaan oor hoop bied, hoop maak en hoop volhou vir ander wat dag na dag opstaan met ‘n dringende soeke na hoop, ‘n honger vir avontuur en ‘n verlange na vooruitgang.

Wat dink jy het jou tyd op universiteit as Atterburystudent vir jou geleer wat jy altyd saam met jou sal dra?
Dankbaarheid! Ek glo ons kul onsself soms deur heeltyd onafhanklikheid na te jaag – as jy aanvaar dat jy afhanklik en nietig is, volg dankbaarheid. Dankbaarheid teenoor daardie mense wat altyd gehoorsaam is teenoor die Here, is ‘n les wat my altyd sal bybly.

As jy by enige groot sakeman in die wêreld kon gaan saketruuks leer, wie sou dit wees?
Louis van der Watt van Atterbury. Ek wil leer hoe om soos hy ‘n onderneming te bou waar die kultuur, die manier van daaglikse bestuur en die personeel se aansteeklike persoonlikhede selfs ‘n vreemdeling se geesdrif kan opwek. Ek wil leer hoe ‘n maatskappy alles op ‘n sterk Christelike fondasie bou, en wil verstaan hoe mens werk met langtermyn projeksies binne ‘n gevestigde industrie wanneer paradigmaskuiwe as gevolg van tegnologiese vooruitgang plaasvind.

Watter tegnologiese uitvinding wens jy wil in jou leeftyd gebeur?
Die nommer een item op my “bucket list” is om die aarde vanuit die ruimte te sien. Ek dink elke mens moet dit kan beleef en sal graag wil bydra tot bekostigbare massaruimtevaart.

Gestel jy kry ‘n blanko tjek waarmee jy kan goed doen in die wêreld; hoe sal jy dit uitgee?
Ek sal dit belê in tegnologie om tjeks oorbodig te maak. En daarna sal ek reis en die wêreld se verskillende kulture wil beleef.

Help ons om jongmense met visie, soos Riaan, se studiedrome waar te maak. Kliek hier om uit te vind hoe jy kan skenk aan die Atterbury Trust beursfonds: