Atterbury is baie trots om vanjaar drie splinternuwe mediese dokters die wêreld in te stuur.  Monique Knoetzen, wat by die Universiteit van Stellenbosch se Tygerbergkampus geswôt het, het pas na haar eed-aflegging met ons gesels.

Hoe het jy destyds by Atterbury Trust uitgekom, en hoe lank was jy een van ons beursstudente?
In my tweede jaar het my kêrel my aan Atterbury Trust voorgestel. Hy was op daardie stadium ’n beurshouer en ek het dringend na koshuisverblyf gesoek. Atterbury het my van verblyf voorsien en my laaste twee jaar ook my studie-onkoste gedek. Ek is dus bietjie langer as vier jaar deel van die Atterburyfamilie.

Wou jy van kleinsaf ’n dokter geword het?

Ek het op ’n baie jong ouderdom geweet dat ek ’n verskil wil maak in mense se lewens, maar ek het eers in Graad 11 besluit op medies.  Ek wou eers ’n sielkundige word, of dalk ’n onderwyser en ek het selfs ingenieurswese oorweeg. My liefde vir biologie en soektog na antwoorde en oplossings het my in die rigting van medies gestuur.

En noudat jy daardie MB ChB agter jou naam kan skryf, waarna sien jy die meeste uit?

Om ’n salaris te verdien! Om onafhanklik te wees. Om almal wat my die afgelope 10 jaar ondersteun het in oorvloed te bederf.

Is daar enigiets wat jy gaan mis?
Ek gaan beslis die samesyn van studentwees baie mis. Ons was so ’n ongelooflike klas wat werklik die ekstra myl gestap het om sukses te bereik. Daar is soveel talent en wysheid waarmee elkeen van my klasmaats my geïnspireer het. Ek gaan my vriende definitief die meeste mis. Maar ek is baie bly dat ek nooit weer huis toe gaan ry en dadelik agter die boeke gaan sit nie! Om “klaar” geleer te wees, is by verre die bevredigendste gevoel.

Dokters sien vreeslike goed… Watter dag sal jy nooit weer wil oorhê nie?

Definitief my finale eksamen! Daardie laaste dag se eerste geval… om nie by ’n antwoord uit te kom nie en jy weet die eksaminator stap oor ’n paar sekondes by die deur in. Wat my dae in die hospitaal betref… daar was die keer toe ek 3vm in die oggend in die teater geassisteer het na ’n baie lang dag op my voete. ’n Eenvoudige blindedermverwydering het verander in ‘n gekompliseerde vier-uur-lange operasie met vele slegte reuke teenwoordig. Op ’n leë maag…

En was daar ’n dag wat jy altyd sal onthou omdat jy so baie geleer het?
Een vroegoggend na ’n spoed (wanneer ons deurnag aan diens is) moes ek ’n chirurgiepasiënt se geval verduidelik aan een van die baie bekende chirurge. Ek was so senuweeagtig en moeg, maar ek het alles wat sy gesê het soos ’n spons geabsorbeer. Sy het so goed verduidelik en dit so logies gemaak, dat ek dit nooit weer sal vergeet nie. Die teorie en die praktiese kennis het dadelik saamgesmelt.

Wat is volgende vir Dokter Knoetzen?
Nou is ek vas vir drie jaar – twee jaar internskap by Khayelitsha Hospitaal en dan een jaar gemeenskapsdiens. Die volgende drie jaar sal bepaal wat die stap daarna sal wees, maar sover is die idee dat ek en my man daarna ’n jaar of twee oorsee sal gaan werk, sodat ek my skuld so vinnig as moontlik kan afbetaal. Ek hoop dat ons ons daarna in die Kaap sal kan vestig en ek my passie vir gesondheidsvoorligting kan uitleef deur by primêre gesondheidsorg in die staatsektor betrokke te raak.

As jy oor die hospitaalinterkom hoor: “Dr Knoetzen na Ongevalle!” wat tref jy die graagste aan as jy daar aankom?
By mediese ongevalle: ’n diabetiese pasient met DKA (diabetiese keto-asidose) of ’n pasiënt met respiratoriese nood. Dit is so bevredigend om daardie pasiente te sien beter raak. By trauma: enige nie-lewensbedreigende meswond – ek is dol daaroor om steke in te sit.