15 Mei, 20:00 – 21:30
16 Mei
, 20:00 – 21:30

R135 – R165

Dop, Retief Scholtz se teaterdebuut, is later vandeesmaand te sien in die Studio-teater in Montecasino in Fourways.

Kosie Smit, vervaardiger van Kosie House of Theatre, was op soek na nuwe stemme in die teaterbedryf toe hy op Scholtz se werk afgekom het. Scholtz het agt maande lank aan dié opdragwerk geskryf en geskaaf en nou het Dop sy première in die bekwame hande van regisseur Sylvaine Strike.

Die akteurs in dié stuk is André Odendaal en Wilhelm van der Walt. Odendaal is al meer as 30 jaar bekend as gerekende akteur en regisseur en die jonger Van der Walt is verlede jaar op Aardklop aangewys as die beste akteur vir sy spel in Son.Maam.Sterre.

Strike is benewens aktrise, soos onlangs saam met Atandwa Kani in die voortreflike Black and Blue, ook regisseur wat in 2006 aangewys is as Standard Bank se jong kunstenaar vir drama en toe met die Coupé vorendag gekom het. Vir haar regie van The Miser het sy in 2012 die Naledi-prys gekry as beste regisseur en die stuk is bekroon as die beste produksie.

Scholtz se Dop is die verhaal van Frank Venter, die spreekwoordelike man op straat. Een van duisende daarbuite wat min mense ooit sal ken en wat nog minder sal onthou. Soos elke mens het Frank ʼn storie, maar niemand luister na sy storie nie. Frank (André Odendaal) sit in ʼn kroeg. Dis sy verjaardag. Buiten vir die kroegman, Tim (Wilhelm van der Walt), is Frank alleen in die kroeg, soos in sy lewe. Albei het iets van die ander een nodig: Frank ʼn klankbord om sy bestaan te bevestig en Tim die regte woorde om sy hart uit te praat.

Volgens Scholtz het hy die rol van Frank geskryf met Odendaal in gedagte.

Twee vreemdelinge begin gesels oor die lewe, generasies, emigrasie, drome (onvervuldes sowel as nuwes), die kunsdiefstal van 1990, reënwoude, spyt en perdedrolle wat nie vye is nie. In wyn lê die waarheid … en soos die aand aanstap word maskers afgehaal, harte blootgelê, talente van vervloë dae opnuut ontdek en sinne al meer onsamehangend. In sinnelose kroegpraatjies en gesprekke sonder ʼn punt is daar waarheid én emosie. Sonder pretensie of voorgee.

15 MeiAtterburyteater

16 MeiAtterburyteater