Daar is nog net twee weke oor voordat die aansoeke vir Atterbury se 2016 studiebeurse sluit, so as jy nog wik en weeg, of weet van ‘n student wat bitter graag volgende jaar verder wil studeer maar geldelik opdraand het, is dit nou tyd om te spring!

Atterbury het vanjaar sowat R5 miljoen begroot vir beurse, en hulle kry tipies ongeveer 140 aansoeke, vertel Zahn Hulme. “Omdat ons die student vir die duur van hul hele graad- of diplomakursus geldelik ondersteun, doen ons jaarliks die somme, om te sien presies hoeveel beurse ons elke jaar kan toeken.” Die beursfonds is deel van ‘n belegging by Attacq, wat gebruik word om die Atterbury Trust se aktiwiteite te befonds.

So wat gebeur op 30 Junie, as die aansoekposbus sluit? “Ons begin dan deur al die aansoeke gaan, en ons stel daaruit ‘n kortlys op,” sê Zahn. “Ons nooi dan die  kortlyskandidate vir ‘n onderhoud by ons kantore in Pretoria, en ons sien hulle almal gedurende Julie en Augustus.” Die suksesvolle kandidate kry teen September die goeie nuus, sodat hulle solank hul planne kan begin maak.

Die onderhoude word deur Zahn self, en haar Trustkollegas Leonie du Preez, Karin Dercksen en Louise Viljoen behartig, en elke Atterburypersoneellid kry ‘n beurt om ook in te sit op een van die beursonderhoude. “Dit is iets wat baie belangrik is vir Louis (van der Watt, Atterbury se medestigter) – dat almal wat vir die maatskappy werk bewus bly van die Atterbury etos, en nooit uit die oog verloor dat baie mense daar buite nie die geleenthede het wat ons so maklik as vanselfsprekend aanvaar nie.”

Aldus Zahn kom die meeste aansoeke vir beurse steeds uit die Pretoria omgewing en omtrekke, hoewel studente van reg oor die land, wat in ‘n wye verskeidenheid van rigtings wil gaan studeer, tipies aansoek doen. “Dit is maar omdat die beursprogram hier meer bekend is – toe ons begin het daarmee het ons baie gefokus om skole in die weste van Pretoria daarvan in te lig,” sê Zahn.

Enige raad vir kandidate wat nog wil aansoek doen? Zahn sê aansoekers moet eerlik wees oor hulle omstandighede, en oor hoe nodig hulle die finansiële steun het. Sy is spesifiek op die uitkyk vir jongmense wat bewys hoe gedetermineerd hulle is om niks in hulle pad te laat staan nie. “Iemand wat al op skool ‘n klein besigheid begin het, iemand wat betrokke is, en planne maak, iemand wat sê, ‘Ek weet daar is nie geld nie, maar ek wil verder gaan leer, so ek gaan in elk geval solank inskryf, of ek sal by iemand die eerste bedrag leen’…”

Omdat die kandidate met die hand uitgesoek word om die regte ingesteldheid en vasberadenheid te hê, slaag 97% van alle Atterburybeursstudente, ‘n statistiek waarop Zahn baie trots is. En anders as baie ander beursprogramme, word die studente nie spesifiek gekies volgens hulle studierigting nie, omdat dit nie vir Atterbury gaan oor graduandi wat op die ou end vir die maatskappy kan kom werk nie. Dit het al gebeur, vertel Zahn, maar dis nie die fokus nie, so aansoekers wat in enige rigting belangstel kan suksesvol wees.

Afgestudeerde beursstudente begin hul beurs terugbetaal sodra hulle begin werk, en dit gaan alles weer terug in die beursfonds, sodat dit ‘n immer-groeiende gemeenskap vorm wat ‘n verskil maak in ander mense se lewens. “Die heel beste is dat ons vind dat ons beursstudente die wêreld ingaan met die instelling dat hulle ook ‘n verskil wil maak,” sê Zahn. “Dis regtig ‘paying it forward’ –  hulle raak byvoorbeeld betrokke by die Korporatiewe Sosiale Verantwoordelikheidprogramme by die maatskappye waar hulle werk… ‘n geval van iemand het my gehelp en noudat ek kan, gaan ek ook help.”

Atterbury se droom met die beursprogram is om meer individue en maatskappy betrokke te kry, nie net met skenkings aan die beursfonds nie, maar ook met mentorskap, internskappe en werk-skadugeleenthede. “Baie van die studente wat ons help, is die eerste een uit hul familie wat die kans kry om verder te studeer, so daar is nie altyd iemand wat beroepsraad, en leiding kan gee nie. Ons hoop dat ons met die beursprogram meer en meer mense by ons netwerk kan voeg wat wel sulke hulp kan verleen.”

Laai die beursaansoekvorm hier af, en om bydraes te maak tot die beursfonds, klik hier. As jy met mentorskap of internskap wil bydra, kontak gerus vir Zahn Hulme by 012 471 1600.