Spesiaal vir die vakansiemaand, die ontspanmaand, die rusmaand en die familiemaand, bring ons hier oor die volgende vier weke ‘n keur uit die openbare digkunsprojek wat Atterbury vir die pas afgelope Pretoria biennale geborg het. Al gaan ons dalk see toe of berg toe vir die vakansie, ons harte bly in Pretoria. Hou die kultuurkant bo!

Hoofstadrymelary

Leon Naude

Wat ek met deernis van my grootwordjare onthou
is die dive-bomber en figure 8 op die Pretoriase skou
Die stoutwees, raakvat en vind in die plotte se plantasie
is nou die massiewe Forest Hill se winkelsentrumspasie
Die skaam seun skud blad met premier Vorster in standerd vyf
by die Waterklooflughawe en in die massiewe vliegtuigstoor
bulk die grootbaas “Die seuns sal staan en die meisies sal sit“
en die jeug luister mooi sonder om ‘n voet verkeerd te sit
Toe kom sit die Super Freelon-helikopter op die rugbyveld
van Hoërskool Voortrekkerhoogte, ons hoor van die geweld
op die land se grense en vermoed vriend boetman gaan die
bliksem in raak vir die geveerde nesse van die dinastie
Maar die grootste gawe van my grootwordjare was die
grenslose prag onder die Jakarandabome waar die volronde
puntigheid onder dun deurvatlap van die mooi studentebloesies
die oog versag het maar ook gereeld die gewete getoets het

Oor die digter: Louis Naudé se eerste werk was in die busvervoerbedryf, waar hy vir telke jare gewerk het voor hy sy eie onderneming as konsultant begin het in 1996. Sy firma LearnCorp speel ‘n sleutelrol in die bemagtiging van mense in die bus- en ander bedrywe. Hy het ‘n D Litt et Phil graad in sielkunde aan Unisa verwerf en later ‘n doktorsgraad in vervoerekonomie aan die Universiteit van Johannesburg. Behalwe sy korporatiewe werk en dié as eksterne eksaminator vir meesters- en doktorale studente aan UJ, geniet Louis dit om te skryf, ook poësie. Hy het voorts die neerskryf van die Naudes se familiegeskiedenis tussen die periode 1510 tot 2010 as ‘n projek voltooi.

 

Hoofstad

Louis Esterhuizen

Durf ek sê ’n stad
van vreugde is jy, ’n stad
van jeugdrome
en aspirasies. Durf ek sê van
vrees?

Durf ek sê ’n stad
van rykste klowe is jy, ’n stad
van armste
buitewyke. Durf ek sê van
plakkers?

Durf ek sê ’n stad
van monumente is jy, ’n stad
van heuwels
en militerêre basisse. Durf ek sê van
grafte?

Durf ek sê ’n stad
van vlooimarkte is jy, ’n stad
van stalletjies
en swendelaars. Durf ek sê van
werkloses?

Durf ek sê ’n stad,
’n hoofstad. Durf ek sê van
Afrika?

Met die vriendelike vergunning van die outeur en Protea Boekhuis.
Gedig verskyn oorspronklik in Nuwe Verset (2000).

Oor die digter: Louis Esterhuizen was vir 25 jaar in die onderwys, onder meer as die adjunkhoof by Pretoria Boys High. Daarna het hy bestuurder geword van die Protea Boekwinkel op Stellenbosch en het al 10 digbundels die lig laat sien. Sy bundel Wat die water onthou het die Protea Poësieprys gewen in 2011, en is dieselfde jaar ook benoem vir die UJ prys vir Letterkunde en die ATKV Woordveertjie vir Poësie. Sy werk is in verskeie bloemlesings opgeneem. Lees meer van sy werk op die digwebblad www.versindaba.co.za, waarvan hy ‘n medestigter is.